Friday 4 May 2012

Ek wens die glasogies kom weer kuier


Dis Meimaand. In ons kombuis lê ses goudgeel lemoene in die mandjie. Dit beteken die winter is oppad. Ek vat een en skil dit af . My mond water. Dis 'n heerlike dag en ek wil net buite wees. Ek hang die skil aan die perskeboom se halfkaal tak op. Miskien kom die glasogies weer kuier soos laas jaar. Kleinste ou klein voëltjie met 'n baie besige lyfie, wip-wip van tak tot tak, altyd saam met een van sy ewe besige maatjies. Om 'n ordentlike foto van hierdie klein voëltjie te kan neem, vra hope geduld.

'n Glasogie op die perskeboom se tak is 'n flentertjie vreugde by ons agterdeur. 'n Present uit die hemel. 'n Stukkie vrolikheid in vere! En die geel lemoenskille wat in krulle en draaie aan die winterkaal takke hang, laat my altyd aan my oorlede Ma dink.

Soetlemoenverlange

In my ma se kombuis
(ek was so tuis)
het lang lemoenskille gehang
dié tyd van die jaar
 gekrul, gedraai, gedroog
(ek sien dit in my geestesoog)
sy het dit graag gebruik
saam met pampoen en patats
in 'n pot gestoom, gekook,
(en nou doen ek dit ook)
want buite is dit koud en vaal
die perskeboom is byna kaal
ses droë skille op 'n ry
is ver-verlang vir my

Elizabeth Kendall ©


6 comments:

  1. Sjoe, waarlik 'n PRAGTIGE foto Elizabeth! Ek hoop hullekom kuier by my ook. Moet ook weer lemoene koop, dankie vir die herinnering! Lief jou 'Soetlemoenverlange', pragtig geskryf!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree! Hulle maak die winter mos mooi(er)! Waardeer jou inloer hier baie.

      Delete
  2. Ons het ook 'n lemoenboom agter in die erf, en in 'n oumagrootslaaibak straal hulle stukkies sonnegeel dwarsdeur die dag met die heerlikste geur (wanneer ek die skilletjie oopbreek) wat my ook laat verlang na moederlief se soetpatats kleintyd in ons huis op die plaas... sooooo lekker gelees en gekyk Elizabeth. Jou gedig en foto daarby is puikkkkk!!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hoe heerlik om jou spore hier te ontdek Raaitjie! En die saamvoel en deel van gedagtes oor dinge wat kosbaar is, is wonderlik. Baie dankie. x

      Delete
  3. Hideda, Elizabeth! I love this photo, you are a wizard! Now, if you look carefully you'll see me stalking the goud geel lemoene, my absolute favourite (after bugs - of course!).......

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Howard! Watch out!! So pleased to meet you here under the tree....a lovely surprise! Thanks.

      Delete