Monday 21 May 2012

Huppel steeds op die Hoogland

Vyf uur stop ‘n wit bakkie voor ons motorhek. Hagar, ons swart Labrador is ook die “deurklokkie.” Met een harde blaf kondig hy uitbundig elke besoeker aan. Ek loer na buite. My hart slaan tamboer in my binneste. Uiteindelik! My honderd boeke, my bundels wat ek op 7 November 2009 begin beplan het, aan gewerk het, oor gewonder het….dis hier, vóór my deur!

My drome, my gedagtes, my blywees en my seer in woorde en letters op wit papier gedruk, gebind en in boekvorm gebore in die jaar 2010 met sagte foto’s tussen-in van skilderye en kleinkinders (natuurlik mos!) Die buiteblad is een van my skilderye wat my baie na aan die hart lê. Kan mens emosies in ‘n buiteblad vasverf? Ek het probeer.

Sedert Januarie 2010 was ek en my uitgewer op gereelde basis in elektroniese verbinding met mekaar. Haar volgehoue onderskraging en hulp was baie dae ‘n riem onder die hart. Ek onthou hoe die grys mat hier in die voorkamer vol papiere gelê het en ek nie geweet het waar om te vat en waar om te los nie. Hoe begin mens uitsoek as twee-honderd-drie-en-vyftig verse en honderd-vyf-en-twintig opstelle voor jou lê? Hoe kan jy sommige van jou “kinders” eenkant toe stoot en net party op jou skoot tel?

Ek het vasgebyt, elke dag ‘n bietjie meer orde probeer kry. En soos die tyd omgegaan het, het ek die bekende stemmetjie in my agterkop hoor praat: “As mens iets begin, moet jy dit klaar maak!” Miskien was dit my oorlede Ma se stem wat ek gehoor het. Miskien het my oorlede Pa my stil staan en bekyk terwyl ek voor die rekenaar gesit het en aan “my boek” gewerk het, want ek kon hom hoor sê: “Dis mooi Sussa, my ou doggie!” Daarom het ek aangehou. Dag na dag. Week na week. Met kort onderbrekings tussen-in. Dis glo normaal.

Teen einde Februarie het ek die uitsoekgedigte bymekaar en in verskillende afdelings ingedeel. Net daar saal ek die wildste perd in my stal op en besluit om my manuskrip aan Protea Boekhuis te stuur. Hoekom sal ek nie probeer nie? Dit gaan baie minder kos en ek sien al hoe lê my boeke op die rakke van uitsoekboekwinkels. Ooroptimisties en heerlik windgat! Na ‘n paar weke kry ek ‘n pragtige briefie:

Dankie vir die voorlegging van jou manuskrip met bogenoemde titel. Hier volg die keurdersverslag:

Die skryfster het ’n manuskrip van 95 verse verdeel in sewe afdelings ingestuur vir keuring. Die gedigte is taalkundig goed versorg en die byvoeging van lyntekeninge en foto’s dra by tot ’n keurig versorgde manuskrip.

Die meeste gedigte sluit wat toonaard betref aan by die titel en laat ’n indruk van blymoedigheid en lewensvreugde by die leser. Die verse is onpretensieuse, rymende gedigte oor alledaagse ervarings, maar ook oor die liefde vir God, die medemens en die wêreld om ons. Gelukkig maak die skryfster haar selde skuldig aan rym- en metrumdwang en vloei die verse taamlik ongedwonge. In hierdie bepaalde nis skryf sy regtig netjiese verse.

…met ‘n effe, kom-ons-noem-dit “hartseer” einde: Die oorgrote meerderheid verse is egter, ten spyte van die meriete daarvan, nie die soort wat Protea Boekhuis publiseer nie en die manuskrip word nie vir publikasie aanbeveel nie. Die skryfster word aangeraai om haar manuskrip liewer aan ’n uitgewer wat wel geskenkboeke uitgee, voor te lê.

Ek het maar soos Job van ouds toegelaat dat my vriende my troos en my bystaan. En hét hulle nie! Ek wil nie name noem nie, maar daar is dierbare mense in my lewe, dit sluit my liefhê-naby-mense in, wat altyd positiewe aanmoediging en onderskraging gee. Ek is mal oor julle. Julle weet goed wie julle is. My droefheid het omgesit in blydskap toe ek met nuwe moed besluit om self te publiseer. Ek het na my bankstaat gaan loer en somme gemaak. Ja wat! Kom wat wil, vanjaar wil ek ‘n boek publiseer.

Gedurende Maart en April het die e-posse van hier tot by my uitgewer en weer terug soos windswaels deur die blou lug gevlieg. Op 21 Mei laat weet sy my die bundel gaan drukkers toe. Ek jubel en juig en bid. In my diepste hart lê die opgewondenheid en prut.
’n Eie bundel! ‘n Droom wat waar word! Op 26 Junie laat weet my uitgewer:
Die laaste proef was pragtig. Word volgende week gedruk. Hiep-hiep-hoera!!!
Aan die tuisfront hiep-hiep-hoera ek nog drie desibels harder...

Op 14 Julie bring my kinders die boeke van Pretoria af. Ek voel soos ‘n kind wat ‘n groot krismisboks gekry het!! Niemand is tuis nie. Net ek. Ek maak die kartonboks met bewende hande oop. “My boek, my boek!” sing dit in my ore.

Was ek elf toe ek vir die eerste keer gedink het ek wil eendag ‘n boek skryf? Of was dit in St. 9 toe Ben Olla my opstelle aan die klas voorgelees het en ek ‘n skaam tienerkind was en blosend na my eie woorde geluister het terwyl my klasmaats doodstil sit en saamluister? Ek weet skielik niks. Ek weet net die boks is vol boeke, myne.

Toe ek die eerste boek oopmaak, val ‘n swaar, swart sluier van teleurstelling oor my skouers. Dit kan nie wees nie... Ek blaai verder. Vou die boek oop. Dit is. Die boek is swak gebind. Dit trek oop op die nate, soos ‘n leer in ‘n kous sit die oopgetrekte bladsye daar. En die foto’s, dis dof. Ek hét mos my bril op! Ek haal die bril af. Nog dowwer. Ag nee! Ek gryp ‘n tweede boek uit die boks, dieselfde storie. Nog een, nog een. Almal wil uitmekaar val.. Net genade wat die blaaie nog in posisie hou. Ek is kwaad. En hartseer. En teleurgesteld.

Toe Chris tuiskom, sien hy die boeke. Hy glimlag. Hy sien my ook. “Wat is fout?” vra hy, sy gesig ‘n vraagteken. Ek wys en vertel .”Dit moet reggemaak word,” sê my kalm man doodgewoon en rustig. Die swart sluier wapper by die venster uit. Ek pak die bul by die horings. My uitgewer is amper meer ontsteld as ek. Sy het nie die laaste kopie gesien nie.

Om ‘n lang storie kort te maak, die drukkers is geskakel en het verskoning gemaak. Daar was redes van hoekom en wat en waarom. Daar is mos altyd redes! Ek bekyk die boek met ander oë. Ek noem alles wat my pla. Hulle maak alles reg. My kwaadwees, my hartseerwees en my teleurstelling gly stadig weg soos die sand in ‘n uurglas. Die foto’s sal donkerder gemaak word. Die buiteblad sal verander word. Die boeke sal ordentlik gebind word. Dis ‘n belofte. Ek wag. Die dae gaan s-t-a-d-i-g verby.

Op 20 Augustus 2010 stop ‘n wit bakkie voor ons motorhek. Twee kartonbokse word die huis ingedra. Hagar blaf en swaai sy stert. Haastig maak ek die bokse oop. My boeke is mooi! Al honderd van hulle! Blink lê die buiteblad met my hart se skildery daarop: “Huppel op die Hoogland”

Ek jubel en ek juig. Ek voel klein en bly en gelukkig. “Dankie Here!” fluister ek terwyl ek my eie en eerste boek oopblaai en my oë soos vlinders oor die bekende woorde vlieg.
Is dit nie interessant dat die boek nege maande geneem het om “gebore” te word nie?!

 
Ns.  My "baba" is byna twee jaar oud en het met klein treetjies die wye wêreld ingestap. Daar is nog net enkele eksemplare oor hier op my boekrak, al die ander is verkoop, 'n klompie weggegee aan kinders en familie. Intussen is meer verse gebore, meer stories geskryf. En 'n splinternuwe droom begin geboorte kry...wat sou die lewe tog sonder drome wees?

In die twee jaar wat verby is het ek ook baie meer krities en "oop" geraak vir my eie en ander se skryfwerk. En ek het baie geleer. Ek leer elke dag nog steeds. Een swaeltjie maak nie 'n somer nie. Een gepubliseerde boek maak nie van 'n mens 'n digter of  'n skrywer nie. Daar moet nog baie water in die see loop. En die see is groot! Die liefde vir taal en woorde sal altyd deel van my wees. En die vreugde om dit te deel ken geen grense nie. 
Die skildery in olie gedoen.

2 comments:

  1. Hoe wonderlik! 'n Droom wat waarheid geword het! Veels geluk met hierdie besonderse prestasie Elizabeth en ek moet sê, ek geniet my Digbundel elke dag!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek is SO bly! Baie dankie dat jy hier kom lees het Maree, ek waardeer dit!

      Delete