Showing posts with label winter. Show all posts
Showing posts with label winter. Show all posts

Friday 20 June 2014

Instandhouding


Gister hoor ek oor RSG as mens 'n blog het, moet jy dit in stand hou. Nouja, hier is ek! Besig met instandhouding. 
Vanoggend weer vroeg wakker, heerlik tussen die warm komberse gelê en lees aan die Vroueblad. Vandeesmaand se tema is "huise". Ons almal weet "as die Here die huis nie bou nie...." Ons weet ook dis nie die buitekant van 'n huis wat 'n huis maak nie, maar die binnekant: die mense wat daarin woon, die liefde wat gedeel word, die saamwees, die lag, die huil. "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby" (Spreuke 17:1) 

Hier in ons ou huis met die plankvloere is vrede. Vrede en liefde. En ek is so dankbaar daarvoor. 


Die winter lê op die oomblik die hele tuin vol. My vetplante huil. Die gras is vaal. Die wilde knoffel sukkel. Soggens staan die kaal akkerboom donker afge-ets teen die koue winterlug. 'n Verdwaalde hadida gil sy "hallo's" vanuit die hoogste takke van 'n denneboom.
Tog weet ek dis alles net tydelik. Dié wete verbly my grootliks. Dis soos musiek in my binnekamers. En ek hou styf vas daaraan met yskoue vingers. 

Bo in die anaboom se wintertakke sit 'n opgepofde rooikophoutkapper: 'n vrolike flenter kleur teen die ysblou lug.   

Monday 16 July 2012

Winter



Oor ‘n wye, ysige vlakte
op ‘n plaaspad ver van hier
sing suidewind ‘n solowysie

al asof sy groete stuur

daar waar ‘n hek –
geroes, geanker
krom teen koue kaaltes hang
dui heiningpaal, verwese
lang verlore baasskap aan

‘n Sneeukombers strek oor die bulte
en weeskind wuif die veld -
Geloof was net ‘n stippel
in kommerharte vasgespeld

steeds sing suidewind so solo
en wag op weersiens bly -
tot eendag wanneer dié plaas
‘n baas en léwe weer sal kry

Elizabeth Kendall ©

Monday 9 July 2012

Verwondering

Winter is nie net grys wolke
en kaal boomtakke nie
dis nie net flenters koerantpapier
wat vastoffie teen 'n geroeste draadheining nie

dis nie net die duiwe wat pofveer knipknipoog
op die gevriesde waterbak in die voortuin
neerplof om dorstig te pik-pik aan klipharde ys nie

nee, winter is meer

dis boontjiesop en bredie
en die blou van jou oë
wat helderder as ooit
in hierdie vreeslike vaaltes
voor my kom staan
dis 'n onverwagse glimlag
wat soos 'n kniekombersie van sybokhaar
oor my yskoue hande en hart kom knus
en sagte toemaarwoorde
vir my sê

o ja, winter is méér

Elizabeth Kendall ©

Sunday 3 June 2012

My hart is hier....


Nêrens is daar 'n plek soos jou eie huis nie. Jou eie warm nessie. 'n Holte vir jou voet, 'n vesting, 'n rusplek. Nêrens voel 'n mens so tuis soos in jou eie kamer en in jou eie gang nie.
By jou eie plek kan jy maar net jy wees.


Teen skemeraand kom land die kransduiwe op jou huis se dak onder die sagte maan.
Tevredenheid is in hul vlerke toegevou.


Bruin blare en boepensklippe lê knus onder 'n winterkombers en wag...


Aan die appelkoosboom se kaal takke hang 'n goudgeel lemoenskil.
 Binnekort sal die glasogies kom kuier, ek weet.


Warmgeel skyn die straatlamp se lig oor my tuin.
Elke seisoen het mos maar sy eie mooi en koue winters word snel in helderbont getooi.

Monday 7 May 2012

Winterwoorde.

Winterwoorde.

Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in die tuin tussen koue klippe en vaal gras.

Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone. Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.

Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en druiwekonfyt, dikgeplak.
Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.

Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike lugreëling in die voorste kamer.

Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers, grys soos die winterlug vanself.

Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.

Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike, helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop, baie ver van hier.

Elizabeth Kendall ©

Friday 4 May 2012

Ek wens die glasogies kom weer kuier


Dis Meimaand. In ons kombuis lê ses goudgeel lemoene in die mandjie. Dit beteken die winter is oppad. Ek vat een en skil dit af . My mond water. Dis 'n heerlike dag en ek wil net buite wees. Ek hang die skil aan die perskeboom se halfkaal tak op. Miskien kom die glasogies weer kuier soos laas jaar. Kleinste ou klein voëltjie met 'n baie besige lyfie, wip-wip van tak tot tak, altyd saam met een van sy ewe besige maatjies. Om 'n ordentlike foto van hierdie klein voëltjie te kan neem, vra hope geduld.

'n Glasogie op die perskeboom se tak is 'n flentertjie vreugde by ons agterdeur. 'n Present uit die hemel. 'n Stukkie vrolikheid in vere! En die geel lemoenskille wat in krulle en draaie aan die winterkaal takke hang, laat my altyd aan my oorlede Ma dink.

Soetlemoenverlange

In my ma se kombuis
(ek was so tuis)
het lang lemoenskille gehang
dié tyd van die jaar
 gekrul, gedraai, gedroog
(ek sien dit in my geestesoog)
sy het dit graag gebruik
saam met pampoen en patats
in 'n pot gestoom, gekook,
(en nou doen ek dit ook)
want buite is dit koud en vaal
die perskeboom is byna kaal
ses droë skille op 'n ry
is ver-verlang vir my

Elizabeth Kendall ©


Saturday 28 April 2012

Tortelduif.


Ou duifie by die waterbak

so rustig in ons tuin

jou liefhêliedjie ongestoord

laat sorge gou verdwyn

jou kom en gaan

so ongemerk

jou versie vrolik-bly

is deel van elke dag se menswees

"koe-koerr-doek, koe-koerr-doek"

só spesiaal vir my!

Elizabeth Kendall ©