Wednesday 30 May 2012

Nabetragting

♪♪ “Die-ie arbeid van jou ha-ande
sal jy met vreug’ geniet
wa-an-neer die koringla-an-de
met seën hul opbrengs bied ” ♪♪

sing ek saam met die res van die gemeente en  w e g  spring my gedagtes tot op die groenwordende grasperk van ons geliefde en bekende tuin. Weg spring hulle by die swaar houtdeure van die ou kerk uit tot binne-in gister in.

Die waar woorde van die ou bekende psalm kom skop nes teen my ribbes: “Die arbeid van jou hande…” ek sien die verf: die blou , die groen, die bruin, die wit. Ek sien die wye vlaktes van ‘n oop, skoon doek. Ek voel die uitdaging. Ek beleef die opwinding. Die esel staan en wag. Musiek speel. Die wêreld raak vergete. My hart kom lê klam in my oë. Ek verf.  My siel lê tussen die kleure, my hart klop in my vingers. Ritmes en patrone maak sin op die doek.

‘n Skildery word gebore.

…..”sal jy met vreug’ geniet ”

Ek sien die baie skilderye op die grasperk staan: hier ‘n landskap, daar ‘n abstrak, hier ‘n akriel, daar ‘n olie. Ek hoor die mense praat, lag, gesels, kuier.  Ek luister na die duiwe tussen die groen van die karee en die plataan. Blydskap klim in my keel op, die vreugde van werk, die wonder van menswees, die heerlikheid om te deel met ander wat ook van dieselfde dinge hou.

Werk het werklik net plesier geword, werk is ‘n voorreg, werk is lewe. Gister was geseënd. Gister was goed. My dankbaarheid staan kiertsregop in goudgeel are op spreekwoordelike koringlande.  Ek vryf die korrels tot meel in my nabetragtingsgedagtes oor ‘n kunsuitstalling gehou op eie werf.  Ek eet my blyweesbrood omdat ek mag doen wat ek die graagste wil. Nou……. en elke dag vorentoe!

Elizabeth Kendall ©
Bg. skilderye is op S.A. Artists.com verkoop aan iemand in Engeland. (2010)

2 comments:

  1. Aaaaa, een van die GROOTSTE gawes om gelukkig te wees in jou werk en jou passie te volg Elizabeth! Vele is nie dié voorreg beskore nie, en tog is dit so maklik om net die besluit te neem, die eerste tree te trap en dit jou realiteit te maak! En dankbaarheid, soos hiér betoon, is een van die stappe in die regte rigting. Jy laat my hart sing met jou woorde!

    ReplyDelete