Wednesday 23 May 2012

Van garage na voorportaal


Die volgende handvlyt artikel wat ons by ons plaaslike VLU-tak kan ingee, is 'n versierde potplanthouer. Met my vulpen maak ek 'n regmerkie langs dié artikel in my Jaarprogram. En in my gedagtes woel die idees: waarmee sal ek dit versier, waar gaan ek 'n pot kry....ek WIL dit doen! In die garage val my oog op 'n boepenspot waarvan die verf al afgeskilfer het. Dit staan net daar.

Verwaarloos.  Verwese.  Verlate.   Alleen.

Ek gryp die pot met 'n lied in my hart, was dit mooi skoon in die wasbak op die agterstoep. Nou gaan die pret begin. Ek grawe in die kas in my werkkamer tussen allerlei bêre-goed: mosïeksteentjies, stukkies lint, skoenveters...julle weet mos. Die knopeblik! Aangesien ek nie juis enige naaldwerk doen, buiten om my man se hemde of broeke se af knope nou en dan aan te werk nie, kan ek nou heerlik uitsoek tussen 'n groot verskeidenheid knope.

Ek plak die steentjies en knope met koue lym op die rand van die pot vas. Toe maak ek teëlsement aan en smeer dit sommer met my kaal hande oral oor die pot, nes 'n mens 'n baba se boudjies vol room smeer. Nou moet dit eers staan en droog word. Intussen doen ek ander dinge. Mens moet mos geduld hê in die lewe... die volgende dag verf ek dit oker, die kleur van klei uit die aarde. Weer droog word...verf weer met roesbruin. Ryk en lekker.

Later verf ek swart by, speel te heerlik en maak patrone. Met 'n kalligrafiepen druk ek goue kolletjies al om die rand van die patroon. Nou lyk dit sommer spiekeries! Ek maak die mosaïeksteentjies mooi skoon met 'n klam lap. Die pot is droog. Ek bekyk dit van 'n afstand af: nêrens in die hele wêreld is daar nog so 'n pot nie. My pot kry 'n ereplek op die kiaathoutafel met die bal-en-kloupote wat ek lankal terug by Tannie Lydia gekoop het. Dit staan in die voorportaal en wag om elke volgende besoeker met 'n warm glimlag te verwelkom. 'n Potplanthouer wat status gekry het.

Elizabeth Kendall ©

4 comments:

  1. 'n Heerlike kreatiewe proses en kyk net wat gebeur! Dit is SO pragtig Elizabeth, waarlik iets om trots op te wees. 'n Pragstuk perfek vir Tannie Lydia se tafel! Wanneer kan ons hulle begin koop...?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Glimlag! Ander dag....
      Baie dankie Maree vir jou aanmoediging en heerlike kompliment!

      Delete
  2. Wat 'n heerlike rit het ek nie nou saam met jou gehad nie Elizabeth! Jou pot lyk pragtig.........en soveel meer so omdat dit so 'n proses was om dit te kry wat dit is. Wel done!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie vir jou heerlike kommentaar en dat jy tyd gemaak het om hier te kom lees Estelle, ek waardeer dit baie!

      Delete