Tuesday 1 May 2012

Tuin is lewe!

Tuin is lewe.
Dis Saterdagoggend en die tuin roep. Ek is maar té gewillig om te luister. Van al die baie lekker kreatiewe dinge wat ‘n mens kan doen, is tuinmaak sekerlik een van die lekkerstes. Vir elke druppel boorgatwater wat ek kan gebruik in hierdie, soos die koerant sê: voortslepende droogtetyd, is ek meer as net dankbaar: ek jubel daaroor!

My hart sing van vreugde as ek die goudgeel “cats claw” (wat is sy Afrikaanse naam? Katspoor?!) baldadig sien blom en blom teen die garagemuur, ‘n lus vir die oog en ‘n balsem vir die gemoed , elke dag mooier en helderder geel. Die lekkerte en die lus om dié stukkie mooi met iemand te deel kon toe ook vanoggend nie uitbly nie en ou Jakob, die outa wat soms help in die tuin, het spontaan en met groot waardering reageer, nadat ek hom daarop gewys het hoe mooi ons blommetjie vanjaar nou eintlik lyk: “Ai, hy’s banja mooi, Oumiesies, hy’s PIENK!” Ooglopend is sy kennis van kleure nie verskriklik indrukwekkend nie, maar dat pienk wel een van sy beste kleure is, was duidelik aan die manier hoe hy dié woord beklemtoon het! Ek het hom terstond die Oumiesies- deeltjie vergewe! Hoe kan mens dan nou kwaadraak vir iemand wat die mooi in die lewe so opreg kan waardeer en raaksien?!

Later dieselfde dag het ek gewonder of ons dankbaar genoeg is vir die doodgewone dinge? ‘n Voël by die waterbak, twee akkedissies wat mekaar jaag, die houtkapper wat douvoordag op die heel hoogste toppie van die denneboom sit en sy brei-erre luid uitstoot oor geheel die wêreld? Die varkore wat ná daai koudste- koud weer uit die dood opgestaan het en nou leliewit in blom staan, die helderpienk vygies op die sypaadjie wat laggend in die warm son oopgesig en vriendelik vir elke verbyganger glimlag?

Kom ons kyk verby die swaar en die seer en die moord en die moedeloosheid....... al is dit baie maal nie maklik nie. Daar sal êrens ‘n blommetjie wees, ‘n klip en ‘n stomp en ‘n boepens-kalbas wat jou pad sal lekkerder maak. En in jou tuin is daar dalk ook ‘n grasgroen akkerboom wat gewillig sy skadukombers oor jou vermoeide skouers wil gooi, jou wil laat opkyk sodat jy die hemel daarbo sal kan sien.
'n Waterverfskildery wat ek so geniet het om te doen! Bome bly maar een van my gunsteling dinge om te verf.


2 comments:

  1. O, ek stem SO saam met jou Elizabeth, tuin IS lewe! En of dit nou pienk of geel is, dit bring onmiddellik kalmte in ons hart wanneer ons tyd in die natuur deurbring. En dankbaarheid is 'n wonderlike manier om MEER in hierdie lewe te geniet. Pragtige natuurtoneel hier saam met jou skrywe!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie dat jy hier kom lafenis vind het op hierdie heerlike vakansiedag Maree. Dankie vir die mooi kompliment ook, waardeer baie!

      Delete