Tuesday 1 May 2012

Vrede op aarde

Lank, lank gelede toe die aarde nog jonk was...en die berge van brood...het ek vir die eerste maal in my lewe 'n sielkundige besoek. Dit was ook die laaste maal. Gelukkig. Ek onthou nie veel van dié besoek nie, ek weet net dit was seker maar nodig, anders sou ek nie op daardie somermiddag in Pretoria in die huis met die mooi en indrukwekkende meubels en stilte om my gestaan het en gewonder het "wat maak ek hier" nie.

Toe die vreemde, lang man voor my sit en begin vrae vra, was ek nogal taamlik senuweeagtig. Op 'n stadium vra hy: "Wat is dié ding wat jy die heel graagste wil hê?" Ek het nie eers nodig gehad om te dink nie. Onmiddellik het ek geantwoord: "Vrede!" Ek onthou nog hoe verras en verbaas hy gelyk het en met 'n skewe glimlaggie het hy gesê: "Jy wéét wat jy wil hê, né!"

Dis vandag jare na dààrdie dag. Ek het lankal vrede gekry. Deur die genade. Genade van Bo. En ek is bly daaroor, want dìt was en is dié ding op aarde wat ek die meeste begeer het. Hoekom? As jy vrede in jou hart het, is jy skatryk. As jy vrede in jou hart het, slaap jy lekker snags. As jy vrede het, kan jy aan ander uitdeel. As jy vrede het, het jy iets wat alle verstand te bowe gaan. As jy vrede het, gaan die kind in jou nooit dood nie: jy verwonder jou steeds aan die grootheid van die Skepping, die lieflikheid van die natuur om jou, die klein dingetjies.

Terwyl ek vanoggend hierdie akrielskildery geverf het, het dié salige vrede my styf in sy arms vasgehou en ek kon maar net wéér eens "Dankie Here! " sê.

2 comments:

  1. Jy is SO absoluut reg Elizabeth - mens kan al die geld in die lewe hê, maar sonder VREDE beteken dit niks. Mens kan al die talent onder die son hê, maar sonder VREDE beteken dit niks.... en vrede is nie iets wat iemand anders, soos 'n sielkundige byvoorbeeld, vir mens kan gee nie. Dit is wonderbaarlik dat jy hierdie kosbare, gesogte "iets" in die lewe gevind het!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie dat jy my werk lees Maree, groot waardering!

      Delete