Showing posts with label gedigte. Show all posts
Showing posts with label gedigte. Show all posts

Saturday, 9 January 2016

Ek dink mens noem dit omgee.

Aan die Weskus by Lambertsbaai sit 'n digter sy vis en eet. Hy ruik die see. Hy gesels met die gawe vrou aan wie die restaurant behoort. Haar naam is Elsa. Die spyskaart val oop voor sy oë. Hy lees die woorde van 'n gedig.

 
Sy foon is byderhand. Op facebook stuur hy 'n boodskap. "Pieng!" sê my foon.

"Daar is drie van jou verse in haar spyskaart, sy en haar suster lees jou blog en lief jou verse."
 
Môre vlieg my ver-kinders weer huistoe. My hart ry skoppelmaai. Die Kaap is nie agter die eerste graspol nie. Ek waardeer my vriend se woorde. Ek waardeer Elsa en haar suster. Ek skryf dié mooiste storie nou op my blog. Ek dink mens noem dit omgee.

Saturday, 13 December 2014

‘n Nuwe hoofstuk

Dis Saterdag hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos ‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir elkeen wat hier lees  ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©

Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©

Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes  aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©

Toe hierdie dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.




Saturday, 4 May 2013

Tien wense


Onlangs op Nella se gedigteblad Versvreugde en Woordgenot het ons sommer vir die lekker tien dinge genoem wat ons graag sou wou wens. Dinge wat ons wou waar maak. Ek het nie lank gesukkel om 'n lysie te maak nie. Dit het so gelyk:
 
Tien wense:
1. Eers te luister, dan te praat.
2. My miniatuur worsie Brakenjan mooi groot te kry.
3. Elke dag iets moois te sien en te waardeer al is dit net 'n kwikstertjie wat beweeg as hy staan en staan as hy beweeg...
4. Sommer net weer kind te wees en tyd maak vir lekker stuitighede soos "drumming" by Klitsgras of 'n paar teelepels grondboontjiebotter eet as niemand kyk nie of heeldag kaalvoet loop, niks grimeer nie en bly te wees oor elke nuwe grys haar wat blink in die laat herfsson.
 
5. "Mors" met verf en paletmes vir drie dae aanmekaar sonder onderbrekings / regtig iets ernstigs mooi skilder waarby mense gaan stil staan en na hul asems snak...hoendervleis kry! ( en dit koop, glimlag)
6. Meer en beter verse uit die grysstof uit opdiep en deel met wie ookal...waar ookal.
7. Zoeloe ordentlik leer praat..nie net Ngiya bonga en Nkosikasi en umfana nie.
8. Weer 'n fliek sien wat my laat huil en lag en vir ewig laat onthou hoe wonderlik menswees eintlik is.
9. My man en kinders, myne en syne en ons families en vriende en kennisse en elkeen wat hier lees, elke dag VREDE te laat ervaar soggens as die dag begin tot saans as die son gaan slaap en dwardeur elke donker nag en droewige ervaring te weet: jy is nooit alleen nie. Hou vas en bid.
10. Wêrelde en plekke te sien wat ek nog nooit gesien het nie, hier of oor die waters. Maar veral ook Namibië se polsslag te ervaar iewers langs 'n braaivleisvuur saam met Chrisman. 
 
Toe ek later al die ander se wense lees, het ek weer besef hoe uiteenlopend mense is. Hoe vreeslik verskillend. En ek het aan al die dinge gedink wat ek nog graag gedoen sou wou kry:

1. Nog 'n digbundel die lig laat sien of dalk sommer net 'n koffietafelboek met van my kuns en verse in. Al is dit net een. (dis nogal duur...)
 
2. Die tuin goed laat bemes in Augustusmaand as die ergste winterkoue die wyk geneem het. En vir die rose baie lief te wees, gereeld kos en genoeg water te gee en met hulle gesels as die dag begin. 
 
3. Leer hekel, soos in regtig. Nie net blokkies nie, maar iets moois. En nie te maak of ek dit geniet nie, maar dit regtig doen!
 
Die ander wense bêre ek vireers, hierdie drie hierbo moet eers waar word!
 
  




 

Wednesday, 28 November 2012

'n Handvol verse

Tuis
 
Wit magrietjieblare
spel dit een-een uit:
die vreugdevolle jare
in ons ou dorpie
Bronkhorstspruit
ek pluk hul een vir een
(oorlaai met God se seën
en Sy genade dag na dag)
 
die voëls in die tuin
 en akkedissies, blink en bruin
wat oor die klippe glip,
‘n lyster en sy maat
roep rooidag wakkerpraat,
geelperskes hang donswang aan die boom
 in somermaande,  lou en loom
en in die voortuin, onder die karee
hoor ek hoe hadida 
triomfantelik sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
 
 
Hier wil ek bly 
Die wete maak my rustig
dit gee vrede
en vreugde
en bowe-al
dankbaarheid –
soos die akkerboom se wortels
so diep, so diep
 vas en seker
lê myne ook
ingebed
toegekombers
veilig
 
tot eendag…
Elizabeth Kendall ©
 
‘n Paar woorde
 Sondagvrede lê die hele tuin vol
vou sag oop in grysblou duiwevlerke,
blink in die nat
 van gisteraand se reën op nuwe roosblare,
waar wit en swart spoelklippe
die paadjie hek toe uitspel…
dit  word ‘n trooshand
op my skouer
‘n lied
en  ‘n  dankiegebed
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Thursday, 23 August 2012

In woord en beeld

 
Dis my liefde vir ons taal wat maak dat daar soms verse "gebore" word. Dikwels ook lekker om dit te kombineer met iets wat ek geteken, geskilder of gekiek het. Ek plak 'n paar van my gunstelinge hier vas, hoop julle geniet dit!
 
 
 
 
Neem my saam op die sandpad,
daar waar tyd aan 'n doringboom hang
hou my hand styf vas in joune
en sê dat jy ook so bietjie verlang.
 
 
 
 

Sunday, 17 June 2012

Oggendgedagtes-gedigte

My gebed

Mag my woorde Heer,
U welbehaaglik wees:
woorde wat oordink is
voordat dit beklink is,
woorde wat bepeins is
voordat dit geveins is
woorde wat nie
wegholbranderig
alles verwoes en verslind
verskeur, verinneweer,
vermink en kwes
of sommer dood laat bloei,
verskroei,
maar weldeurdag en goed bedoel
sodat waar my woorde wel
'n lêplek kry, 'n holte om te rus
of troos mag bring,
'n lieflik loflied sing,
daar vrede bly -

murgsag in my


Lewensvreugde

Daar is drome in haar hande
en sterre in haar oë,
sy weet hoe heerlik is dit
om aan lag en lief te glo

Sy luister na 'n geelvink
'n tiptol en t'rantaal
dis agter uit die berge
waar hul, hul fluit gaan haal

die soet, soet klank van blywees
gemeng met lekkerlag
borrel uit haar keel
vol vreugde elke dag

haar sorge gooi sy ver weg
in 'n streepsak oor die see
sy gryp die dag met blywees
en sê nie sommer nee

haar lewe is 'n loflied
met alle eer aan Hom
in donker uur van kommer
het Hy na haar gekom

en in Sy krag en liefde
het Hy haar opgetel
om dit vir almal om haar
uitbundig te vertel.

Genade

As die dorpsduiwe
douvoordag
in duet of trio
koekoerdoekkoor
oor vlei en bos en rant laat hoor
kom val vrede
in koesterklanke
soos tortelvere
in die wind
op my en jou,
my goeie vriend

vergeet ons elke pyn en seer
sluit ons oë en bid maar weer
'n binnekamer stil-gebed -
'n jubelbly oor wat ek het:

oor blinkgeel botter op ons brood
en kniewerk-kinders, lankal groot,
oor liefhêmense langs ons pad
wat heerlik aan 'n hartsnaar vat

dan trek ons wese
nie meer water nie
of kyk ons klipoog rond,
maar word ons lewe
'n skilderdoek
waar helderbont kwasstrepe lê
en pragpsalms prewelend
 kindklein dankiesê

Elizabeth Kendall ©