Dis Saterdag
hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe
is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos
‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die
lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en
koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag
daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié
lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen
die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge
reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek
lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my
toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir
elkeen wat hier lees ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©
Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©
Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van
weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©
Toe hierdie
dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat
God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.