Showing posts with label blog. Show all posts
Showing posts with label blog. Show all posts

Saturday, 9 January 2016

Ek dink mens noem dit omgee.

Aan die Weskus by Lambertsbaai sit 'n digter sy vis en eet. Hy ruik die see. Hy gesels met die gawe vrou aan wie die restaurant behoort. Haar naam is Elsa. Die spyskaart val oop voor sy oë. Hy lees die woorde van 'n gedig.

 
Sy foon is byderhand. Op facebook stuur hy 'n boodskap. "Pieng!" sê my foon.

"Daar is drie van jou verse in haar spyskaart, sy en haar suster lees jou blog en lief jou verse."
 
Môre vlieg my ver-kinders weer huistoe. My hart ry skoppelmaai. Die Kaap is nie agter die eerste graspol nie. Ek waardeer my vriend se woorde. Ek waardeer Elsa en haar suster. Ek skryf dié mooiste storie nou op my blog. Ek dink mens noem dit omgee.

Friday, 20 June 2014

Instandhouding


Gister hoor ek oor RSG as mens 'n blog het, moet jy dit in stand hou. Nouja, hier is ek! Besig met instandhouding. 
Vanoggend weer vroeg wakker, heerlik tussen die warm komberse gelê en lees aan die Vroueblad. Vandeesmaand se tema is "huise". Ons almal weet "as die Here die huis nie bou nie...." Ons weet ook dis nie die buitekant van 'n huis wat 'n huis maak nie, maar die binnekant: die mense wat daarin woon, die liefde wat gedeel word, die saamwees, die lag, die huil. "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby" (Spreuke 17:1) 

Hier in ons ou huis met die plankvloere is vrede. Vrede en liefde. En ek is so dankbaar daarvoor. 


Die winter lê op die oomblik die hele tuin vol. My vetplante huil. Die gras is vaal. Die wilde knoffel sukkel. Soggens staan die kaal akkerboom donker afge-ets teen die koue winterlug. 'n Verdwaalde hadida gil sy "hallo's" vanuit die hoogste takke van 'n denneboom.
Tog weet ek dis alles net tydelik. Dié wete verbly my grootliks. Dis soos musiek in my binnekamers. En ek hou styf vas daaraan met yskoue vingers. 

Bo in die anaboom se wintertakke sit 'n opgepofde rooikophoutkapper: 'n vrolike flenter kleur teen die ysblou lug.   

Thursday, 3 October 2013

In die kleinste oggendure

Elke dag het sy ops en sy afs. (Ek glo nie jy gaan my twee nuutste woorde in 'n woordeboek kry nie!)
Vandag het al baie vroeg begin. Donkernag. Hagar blaf kliphard buite: "WOEF! WOEF!" Wakker is ek. Wakker is Chris. Wakker is Brakenjan, ons worshond, wat binne slaap. Hmmmmmm, ander honde wat rondloop in die donker straat is toe die rede vir die onrus.
Almal keer terug na Droomland, behalwe die uwe. Wawyd wakker. Kyk op die foon. Kwart oor twee. Aggenee. Draai om, knyp my oge styf toe en doen my bes om die wêreld te vergeet.  Onsuksesvol. Staan op, gaan maak koffie, kom lees en bid my dag vol vrede en vreugdes.

Sit voor die rekenaar en kyk e-pos. Twee verrassings lê en wag: die eerste 'n heerlike kommentaar van my oorlede Pa se neef Kosie wat doer ver in die Kaap bly.  Bloed bly maar dikker as water.  Ek het sy werk eendag toevallig raakgelees op 'n Afrikaanse gedigteblad (Vic Viviers) en sedertdien hoor ons taamlik gereeld van mekaar. So lekker. Hy het een van my bloginskrywings: Ek en ou goed van 'n tydjie terug onder oë gehad en dit klink asof hy dit baie geniet het. Hartverblydend! 'n Mens weet mos nooit wie lees jou woorde as jy op 'n blog gedagtes deel nie. Sulke terugvoer is so kosbaar.

Die tweede e-pos is van Mary T Kelly van Ierland. Nog nooit gehoor, gesien of saam tee gedrink nie. Toetentaal onbekend. My oë gly oor haar Ierse Engels: "Dear Elizabeth, I have long been an admirer of your paintings on PIL and just recently became a member.


I did a painting of your River in Africa (above) last year, I did a slightly different take on it so it looks somewhat different. My question to you is, would you mind if I submitted my version to the PIL site ? If you are not happy with the idea then I fully understand. Thank you for taking the time to read this. I am attaching an image of this picture and if you do agree I will of course mention it's been inspired by your painting.
Kelly's painting:

Wat 'n heerlike kompliment! Om iemand ver oor vreemde waters so te kon inspireer is vir my beter as botter op brood of 'n beursie vol geld. Ek voel dankbaar en bly en laat weet haar die saak is reg, die Kaap is Hollands, sy kan haar skildery met liefde op Paintings I Love gaan uitstal, ek voel geëerd.

Toe ek teen ligdag die kamer se gordyn ooptrek, sien ek die mooiste wonderwerk net hier langs die venster. Gister was dit nog net lang, dun stele met belowende knoppe, vandag volmaakte blomme.

 
 
Ek dink ek gaan die res van die dag gebruik om dit te bewonder ...en om dankie te sê.

Friday, 27 April 2012

'n Nuwe speelding!

Kreatiewe joernaal......ja dis wat dit is! Hier gaan ek speel en rinkink met verfstreep en ink. Jy is baie welkom om saam te kom kuier en koekeloer. Kreatiwiteit is mos beter as 'n mieliepap-ontbyt. As ek die dag nie kreatief was nie, voel my lewe soos 'n dorsland met doodgaansiekte. Stilsit en niksdoen maak my bitter gou moeg, moedeloos en uitgeput.

Dis laatherfs. Vandag is die mooiste dag. Die son lê in blink strepe en lag op ons grasperk, die dorpsduiwe vlieg kraakvlerk verby en fladder sagkens neer by die waterbak. Ek hoor 'n lyster wat sy maat roep. So 'n mooi dag vol vrede maak my binnewerke week en sommer ook meer liefdevol teenoor die hond, my man en my naaste.