Die lewe
“Die Here is jou wonderbare Verlosser. Hy weet hoe om jou te
red en te verlos. In God se getrouheid voorsien Hy vir Sy mense 'n uitweg uit
beproewinge. Hy het die finale seggenskap en die uiterste mag om dinge te
verander.”
Bybelwoorde is deel van ons lewe, ons grootwordjare en ons
menswees. Ons hoor en lees dit dikwels. Dit vind nie altyd ingang nie. Veral nie
in hierdie tyd waarin ons lewe nie. Ons word oorlaai met inligting van oraloor.
Ons kruiwaens is tot oorlopens toe vol.
Onkruid, kompos, dooie blare. Alles deurmekaar.
Dis dan wanneer ons ‘n groot sif moet inspan om die goeie
goed in ons grond in te spit sodat dit tot by die wortels kan kom. ‘n Lappie
vrugbare grond lewer ‘n goeie oes.
Dis nie altyd so maklik nie. Dinge klou aan mens vas soos
klitsgras. Veral negatiewe dinge. Met elke negatiewe gedagte wat ongevraagd in
jou binnewerke kom vasplak, word die uitsig na buite al hoe droewiger.
Tog gebeur dit dat ‘n mens op ‘n dag met nuwe oë kyk, met
nuwe ore luister. Daarom is dit so bevrydend om jou diepste gedagtes met iemand
te kan deel. Iemand wat jy met jou hele hart vertrou. Iemand by wie jy
eindeloos veilig voel. Gedeelde vreugde is dubbele vreugde en gedeelde hartseer
is halwe hartseer. Dis hoe dit werk. Dis hoe dit moet wees vir ons wat nog die
aarde bewandel.
Here, dankie dat U weet hoe om my te verlos en te red. Niks is vir U te moeilik nie. U is met my wanneer ek sukkel en U werk alles ten goede vir my uit. Amen.
No comments:
Post a Comment