Tuis
Wit magrietjieblare
spel dit een-een uit:
die vreugdevolle jare
in ons ou dorpie
Bronkhorstspruit
ek pluk hul een vir een
(oorlaai met God se seën
en Sy genade dag na dag)
die voëls in die tuin
en akkedissies, blink
en bruin
wat oor die klippe glip,
‘n lyster en sy maat
roep rooidag wakkerpraat,
geelperskes hang donswang aan die boom
in somermaande, lou en loom
en in die voortuin, onder die karee
hoor ek hoe hadida
triomfantelik sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
Hier wil ek bly
Die wete maak my rustig
dit gee vrede
en vreugde
en bowe-al
dankbaarheid –
soos die akkerboom se wortels
so diep, so diep
vas en seker
lê myne ook
ingebed
toegekombers
veilig
tot eendag…
Elizabeth Kendall ©
‘n Paar woorde
vou sag oop in grysblou duiwevlerke,
blink in die nat
van gisteraand se
reën op nuwe roosblare,
waar wit en swart spoelklippe
die paadjie hek toe uitspel…
dit word ‘n trooshand
op my skouer
‘n lied
en ‘n dankiegebed
Elizabeth Kendall ©
No comments:
Post a Comment