Thursday 16 January 2014

Wat is in 'n naam?

Ek onthou nog so goed hoe my Ma die name van plante en bome geken het. Ek het haar altyd bewonder oor dié kennis.  Ek reken my liefde vir tuinmaak en die natuur het ek verseker by haar gekry. Net soos mense, het plante mos ook name. Dis baie gerieflik om deesdae, as mens nie weet nie, die antwoorde blitsvinnig op die internet te kry. Hier is 'n paar van my geliefde vetplante en kaktusse en sommer ook ander plante wat vreugdes gee!


 Hierdie grusonii goue vaatjie kaktus of grappenderwys ook die "Skoonma-se-kussing" genoem,  (Echinocactus grusonii, popularly known as the Golden Barrel Cactus, Golden Ball or, amusingly, Mother-in-Law's Cushion, is a well known species of cactus, and is endemic to east-central Mexico. Inligting: Wikipedia)  is omtrent vol dorings, maar wat 'n oogfees is dit nie. Dit groei steeds doodgelukkig in 'n pot wat buite staan. 


  Hierdie "Peanut Cactus" of  Echinopsis chamaecereus gee die lieflikste bloedrooi blomme en kom oorspronklik van Argentinië af. Dit groei baie maklik, is lief vir die son en wil nie te veel water hê nie. Dis al vir baie jare 'n baie gewilde huisplant , maar myne is doodgelukkig buite. Sal ons dit die Grondboontjiekaktus in Afrikaans noem? Ek moet saamstem dat dit 'n baie paslike naam is.

 

   Hierdie mooi vetplantjie met sy kleinerige blaartjies het ek by my dogter present gekry. Ek sal graag wil weet wat sy naam is. Ek kon dit nog nie in my naamsoektog kry nie.


 Die litroos (Botaniese naam: Schlumbergera truncata) het nou klaar geblom. Dit hou van indirekte lig en ek verkies om myne gedurende die wintermaande binneshuis te pamperlang. 'n Geliefde en baie bekende plant. Dit groei so maklik. 'n Mens kan net 'n deeltjie daarvan afbreek en in die grond druk en binnekort het jy nog 'n lieflike plant!



Is hierdie boepensies nie te mooi nie? Met hul fyn, wit doringvingertjies styf teenaan mekaar, sit hulle soos 'n gesinnetjie doodgelukkig saam met ander vetplantjies in 'n pot.  Hul geleerde naam is Rebutia en ek wag geduldig vir die eerste blommetjies. Hulle groei maklik en vra min aandag.



Hier is 'n hele verskeidenheid. 'n Vriendin het onlangs vir my ses of sewe baie klein potjies met baie klein vetplantjies aangedra. Ek het dit uitgeplant in 'n groter pot waarvan jy drie hier kan sien. Gasteria is die ligperserige plantjie se naam en dis inheems aan Suid-Afrika. Dit kom oorspronklik van noord van die  Tugela Rivier in noord KwaZulu-Natal tot by die Olifantsriviervallei in the Limpopo Provinsie voor. Die groener een moet ook deel van die Gasteria familie wees. Die ou kleintjie regs is die Crassula "Spring time" / Lentetyd.


Hier is 'n mengsel van vetplantjies en kaktusse wat my daagliks verbly! Sedum Rubrotinctum
"Pork and Beans" is dié met die
vet vingertjies.



Kyk hoe hou hierdie knapies vergadering! 'n Ornamentele oogfees inderdaad. 
 Sempervivum Calcare.


En hier is die baie bekende Echeveria Elegans. Van hulle het ek baie! Lank terug het ek drie of vier gehad. Veelsydige plante wat baie mooi tafelversierings maak, maklik om te onderhou en altyd dankbaar. Woestynrosies is vir my ook hul mees beskrywende en paslike naam.



Aalwyne groei in my agterplaas. Hierdie een is van die Aloe Broomii familie en lok suikerbekkies wanneer dit blom. Om 'n foto van dié vinnige voëls te neem, is 'n kuns wat ek nog moet leer bemeester.





 Haasore, een van my (baie) gunstelinge!




En nou wonder jy seker wat op aarde dit is. Aan die buitekant van my erf, is heelwat Yukkas geplant. Een van hulle het so lank en onhanteerbaar geraak, dat dit omgeval en op die trompetblomme te lande gekom het. Ons het dit toe maar afgesaag. Ek bedoel Jacob het! Die kleurpatrone op die stam het my kunstenaarshart aangegryp. Dis maar al. Nou lê dit onder die silwereik en mooi lyk.




'n Nuwe soort "cutlery"...wie het gesê 'n geroeste eetgereihouer kan nie herwin word nie. Die hen-en-kuikenplant floreer daarin. 
Ek sou nog vir ure kon aanhou, want elke plant vertel sy eie wonderlike storie. Miskien is die heel lekkerste daarvan dat 'n mens dit elke dag kan aanskou en waardeer.  Tuinmaakverhale hou mos net aan en aan.

Sunday 12 January 2014

Die verrassings in die lewe

Dis Sondag. Dis vyf uur in die oggend. My Brakkies-worshond slaap langs die bed op sy kussing, maar hierdie nag was nie 'n rustige een nie. Hy het kort-kort ore geskud. Soms sommer net regop gesit en die toekoms ingestaar. Bedremmeld. Ek kon sien iets pla. Nie geweet wat nie.

Dit was warm.  Nà elke oreklap-sessie was ek vanselfsprekend wakker. Om dan maar weer in te sluimer. En weer wakker te word. Iewers in die diep, donker nag het hy "tip-tip-tip" oor die plankvloer paradeer, maar ek was toe ver weg in droomland en het hom nie gevolg nie.

Toe ek weer hoor, krap hy teen die bed se kant, al asof hy wil sê: "Mammie, daar het iets vreesliks gebeur!" Ek staan op, skakel die lig aan, helder wakker. "Brakkies, wat gaan met jou aan vannag?" Hy kyk my met sy mensogies aan. Sê nie 'n dooie woord nie. Ek strompel taamlik deur die vaak na die voorportaal.....daar lê dit! Ai tog.

"Ek het oorgekook!" het een van my Graad Eens op 'n dag gesê toe sy opgegooi het. Dìt was toe nou al die tyd die probleem. Ek sluit die deur oop en laat my liewe ou hondjie uitgaan. Die donker nag in. Toe maak ek maar skoon daar waar hy gemors het. Soos 'n goeie ma doen. Dit pla my nie in die minste nie. Hoe kan hy ook nou help? Hy is net 'n hondjie. Hy is my hondjie.



Nà die middernagtelike bedrywighede tree wonderlike rus en kalmte toe darem in en slaap ons heerlik tot.....vyf uur! Toe hy wéér ore skud. Dié keer net omdat dit lekker is om lang worshondoortjies te skud en nie omdat iets pla nie!

Nouja, sò het dié dag toe nou maar begin en nà my eie skriflesing-en-gebed opening het ek kans gesien daarvoor! Oudergewoonte kyk ek toe op RedBubble wat die jongste nuus daar is. Hoe heerlik.
Tori Yule, die gasvrou van Feminine Intent, stuur  'n boodskap dat ek hulle jongste erkende lid is. Tori woon ver oor die diep blou waters in Amerika, my hart klop warm blydskapkloppe hier in Bronkhorstspruit! Dankbaar. Star of the month is 'n altevolle lekker sterretjie om te wees! Dankie Tori, ek gaan jou waarskynlik nooit in my lewe ontmoet nie, maar jy het my dag lieflik ingekleur! 


A river in Africa, een van my paletmes-skilderye. Wat 'n lekker verrassing!

Sunday 5 January 2014

Vetplante en kaktusse


My liefde vir vetplante en kaktusse is besig om daagliks te groei. Om ’n vetplanttuin te maak is een lang heerlikheid. Vetplante verg so min aandag. Wanneer hulle blom, word jy ryklik beloon daarmee. 
Hier is ‘n “Bishop’s Cap” of Astrophytum Myriostigna in blom. Een hele dag se vreugde!

Elke kaktus het ’n bekoring van sy eie. Kaktusse is inheems aan die Amerikas en word meestal in Mexiko, dele van Kalifornië en in droë streke in Suid-Amerika, Argentinië, Chili en Peru aangetref. Die Amerikaners beweer die swaeltjies het die saad na Suid-Afrika gedra.



Die “Eve’s needle” kaktus se naam is net so lank soos hy: Austrocylindropuntia subulata. Hierdie ou grote was ‘n paar jaar gelede net so lank soos my duim. Ek het dit in die grond gedruk en siedaar! Nou staan dit teen die muur en die lang dorings skrik voornemende skelms sekerlik af. 



Vetplante en kaktusse wil volson hê vir die grootste deel van die dag. Hulle wil in goed gedreineerde grond geplant wees. Hulle  is nie dorstig nie, maar daar is wel van hulle wat water moet kry anders krul hulle blare op. Te veel water laat hulle verrot.



‘n Vetplant wat my baie na aan die hart lê, is die Kalachoe thyrsiflora of plakkie. Hierdie een het sommer baie name: meelplakkie, geelplakkie, “Desert Cabbage”, “White Lady” of dalk die bekendste naam van almal: “flapjacks” soos in plaatkoekies. Dit is baie dankbare plante hierdie. Ek het besluit om hierdie plante oral in my tuin waar niks anders wil groei nie, te plant.  Hulle benodig baie min water en moenie te veel kry nie, anders verloor hulle hul kenmerkende rooi randjie om die blare.



Die meeste vetplante is gehard en van hulle kan ryptoestande weerstaan. Hier by my is hulle in potte en sommer oraloor in die tuin geplant. 


Hier  bo is ‘n Sedum Rubrotinctum of "Pork and Beans". Hulle groei maklik en vinnig en is ook ‘n gawe grondbedekker. Hul blare word rooi as dit genoeg son kry. 



Die meeste vetplante is groen, maar daar is ook  ander skakerings van silwergrys, blou, room en rooi. Daar is van hulle wat in die somer groen loof het, en sodra dit begin winter raak, verkleur die blare na ’n rooi/roesbruin kleur en verkleur weer in die somer na groen. Dis regtig iets vir die oog. 




Alle kaktusse is vetplante, maar alle vetplante is nie kaktusse nie. Wat is die verskil? Daar is ‘n belangrike botaniese verskil tussen die twee groepe nl. die aanwesigheid of afwesigheid van ‘n areool d.i. fyn haartjies aan die basis van ‘n doring. Slegs kaktusse besit die areool. Kyk gerus by jou vetplante of jy die haartjies sien. (Inligting: Wat is 'n kaktus en wat is 'n vetplant?)
Haworthia fasciata, ook genoem die zebra plant, is ‘n lus vir die oog. Sy fyn, vrolike blommetjies hang half weerloos aan dun stingeltjies. Ek het onlangs 'n hele klomp van hulle uitgeplant op 'n kaal stuk grond. 



Hierdie “Old Lady” het my anderdag verras en ‘n babatjie gekry! Sy is toe nie so oud soos ons gedink het nie. Dis bedek met fyn, sagte, wit dorinkies. 



Probeer vir jou ’n vetplanttuintjie aan die gang kry. Dink net, niemand hoef daarna om te sien as jy met vakansie gaan nie, want hul kan lank sonder water oorleef en as jy terugkeer, wag daar dalk ‘n goudgeel of ligpienk verrassing vir jou! 







Daar is min dinge so lekker soos om groei en vordering te sien en veral as jy nie heeldag en aldag hoef te pamperlang nie. Hoe wonderlik is die natuur tog nie!