Sunday 29 July 2012

Vriende

Ons was jare en jare en jare lank vriende. Wim en Laura. Soos sout en peper. Deel van ons daaglikse bestaan.

Wim en Laura. Toe hy sestig geword het, het hy ons almal na sy verjaarsdag genooi  by die dam….  Laura het so baie moeite gedoen, die mure was met foto’s van hulle ervaringe en avonture versier. Vriende en familie was daar van oraloor. Stories en grappies is vertel.  Ons het laat eers huistoe gegaan. Heerlik gekuier. Skatryk gevoel.

Wim en Laura. Ek en sy was een maal saam op Aardklop. Ons twee het in ‘n koshuiskamer by Potch Universiteit gebly en elke dag ten volle benut tussen stalletjies en tente, tussen konserte en sang.  Ons het dit so geniet! Hande geklap en op en af gespring saam met die jonges toe Ray Dylan en David Fourie en wie nog almal sing. Ag dit was heerlik. Hartsgoed gedeel.

Wim en Laura, Mara en Gerhard.  Ons.  Kuier saam op ‘n Sondag na kerk, braai ‘n vleisie en lag en lag en lag. Praat strooi en praat diep. Deel mekaar se kommers, deel mekaar se blywees.

Toe ek en Chris nog nie ge-eg was nie, gaan kuier ons by hulle waar hulle karavaantjie langs die Wilgerivier staan, ons swem in die rivier, ons brand bloedrooi in Afrika se warm son, ons eet slaai en broodjies en braaivleis. Ons teug aan ‘n saamweeswyn.  Die wêreld is wonderlik.

Voor Chris my lewe binnegewals het en ek sielsalleen moes regkom met vier kinders, laai Wim my op en piekel my saam na ‘n Voortrekkerkamp waar Laura al wag. Langs die pad gesels ons aanmekaar. Hy vertel my van sy kinders, van Laura en hoe lief sy vir die natuur is. Wim is my vriend, Laura my vriendin. My kinders is sonder ‘n Pa. By die kamp tel Wim vir Liesl wat toe in St. Een was, op sy skoot en Pa haar.

Wim en Laura. Ons kinders en hulle kinders. Ons vra mekaar uit. Ons deel ons lewens. Ons kuier dikwels. Ons is altyd bly om mekaar te sien. As hulle dorp toe kom, eet hulle sommer hier. As ons Bosveld toe gaan, maak ons ‘n plan om ‘n draai by hulle te maak, veral in die winter.

Toe kry ek ‘n sms. Wim het ontsteking in sy voet. Hospitaal toe in Warmbad. Hospitaal toe in Pretoria. Been en voet afgesit. En nou is dit sestien, nee sewentien dae later en Wim is nie meer met ons nie. Hy is by die Here.  Wim en Laura. Tot gister.


Wim is dood. Ek bel Laura vanoggend. Ons huil in mekaar se ore. Ons trooswoorde word  roeispane  in elkeen se bootjie. Die lewe wag vir niemand nie. Ons harte en ons deur is oop vir Laura. Vir altyd. Ons weet wéér ons word almal ouer. Dis ons wat wik en God wat beskik.

Ons herinneringe bly vir altyd. Donderdag verjaar my Chris. Donderdag word Wim begrawe. My hart is seer. Laura bly alleen agter. Laura, ons, Gerhard en Mara en die Here.  
Elizabeth Kendall ©

Thursday 26 July 2012

My duiwe



By die waterbak hier in ons tuin
daal blou duiwe daagliks pofveer neer

Toontjies pienk en pragtig,
vredeversies in vlerke toegevou

sing hul sag hul weemoedwysies
vir my en ook vir jou

fladderveer en klouter
trap hul op die huis se dak

soms laat hul my toe om stil te kyk
hoe hul vlerksleep en kafoefel

 sirkeldraai teen blou, blou lug -
skemeraand se tuiskom na 'n dag se vlug

Elizabeth Kendall ©









Sunday 22 July 2012

Goeiemôre!

Dis half sewe. ‘n  Sondagoggend in Juliemaand. Agter die donker takke van die groot ou akkerboom voor ons huis, vou ‘n nuwe dag sy ligblou laken oop.  Ek was al vroeg wakker. Twee boepensbekers koffie verder en ek hoor die duiwe buite gesels. Op die huis se dak sit hulle met opgepofde vere. Vanoggend is nie so erg koud nie.

 Ek sit hier en dink. Ek dink aan my mense:  my kinders, my man, my vriende.  Ek dink aan die wonderwêreld wat die  internet vir ons geskep het.  Gister kon ek op facebook sien my niggie in die Kaap wil haar klavier verkoop.  My ander niggie in Alberton se kleinkinders kuier by haar vir die vakansie. Vanoggend het ek saam met Magriet van Tolwe verlang na die lente. Môre sal ek weer met mense op die nuwe kunswebblad gesels wat ek waarskynlik nooit in my hele lewe ooit gaan ontmoet nie. En dit nogal in Engels! Dis ook al plek waar ek deesdae Engels praat…op die internet.  

Ek het onlangs my oorlede Pa se neef Kosie op ‘n gedigteblad raakgelees. Wat ‘n heerlike herontmoeting!  Iemand stuur ‘n e-pos met mooi musiek en Vincent se skilderye en ek sing hartlik saam: “Starry, starry night!”  Elke môre groet Maree van Tarlton, Pieta van Kleinmond en die uwe mekaar op Redbubble.  (Ek “werk” mos eintlik daar:  ‘n Gasvrou vir die groep AFRIKAANS.  Dis so lekker! Ek en Maree ontvang foto’s en kuns van oraloor in die wêreld. Daar is so baie talentvolle mense op Moederaarde en ook in die kuberruimtes. Ons deel baniere uit en reël uitdagings in ons groep. Ons kry self ook hope inspirasie deur net na al die interessante en mooi werk van ander te kyk en dit te waardeer.)

Op facebook is ‘n magdom interessante gedigtegroepe.  Dis wonderlik om myself te “verdrink” in talentvolle digters soos Erna Jo, Marie Bredenkamp, Naudé Kritzinger , Francois Viljoen en nog baie ander se lieflike digwoorde. Ek kan nog so baie by hulle almal leer.  Ronell Marais se absolute lewensvreugde is ‘n daaglikse inspirasie.

Baie maal, as ek na my kinders verlang, loer ek wat op hul profielblaaie aangaan en weet ek dis weer hoogtyd vir lekker saamkuier in lewende lywe. Aanlynkuiers verskil grootliks van die ware Jakob, al troos dit in ‘n mate.

Die belangrike ding om te onthou in vandag se wêreld met allerlei kommunikasiemiddels wat tog so gerieflik en gemaklik kan word,  is dat ons steeds tyd moet maak vir mekaar en vir die dinge rondom ons. Ons moet gebalanseerd lewe. Om buite in die vars lug rond te loop of net stil te sit en luister na die voëls in die tuin, ‘n akkedis te sien wegglip tussen die vetplante en aan die einde van die dag die lug  te sien verkleur  in die weste….dis alles lewensbelangrike  sielskos.

Mag jou dag vol mooi wees: ingekleur met God se genade, vandag, môre en ook oormôre. Mag jy vreugde vind in die klein dingetjies, tyd maak vir dit wat werklik geluk en blydskap bring……stil word in jou kleinheid en jubel in jou grootsheid.  En mag ons mekaar aanvaar net soos ons is. Elke dag is ‘n leerskool en bied nuwe uitdagings.  

Mooi loop tot volgende keer!




Monday 16 July 2012

Winter



Oor ‘n wye, ysige vlakte
op ‘n plaaspad ver van hier
sing suidewind ‘n solowysie

al asof sy groete stuur

daar waar ‘n hek –
geroes, geanker
krom teen koue kaaltes hang
dui heiningpaal, verwese
lang verlore baasskap aan

‘n Sneeukombers strek oor die bulte
en weeskind wuif die veld -
Geloof was net ‘n stippel
in kommerharte vasgespeld

steeds sing suidewind so solo
en wag op weersiens bly -
tot eendag wanneer dié plaas
‘n baas en léwe weer sal kry

Elizabeth Kendall ©

Thursday 12 July 2012

Met die kamera in die hand


Daar is mooi oral om ons heen...





Ons moet dit net raaksien, tyd maak....


Ek kan nooit genoeg van klippe kry nie: rondes, plattes, growweriges, skurwe ou boepensklippe...
eendag moet hulle maar 'n KLIP op my graf sit en nie 'n koue marmersteen nie. 
Klippe is so vriendelik.


Hoor jy die wind?



'n Flenter vreugde!








Wednesday 11 July 2012

Op dae soos vandag

Die seer gaan nooit weg nie
op dae soos vandag onthou jy alles....

alles wat jy ooit in jou lewe geweet het van hom, van hulle...

jy onthou veral jul kleintyd
eens toe jy en hy saam kinders was op Onverwacht
en aan Ma se etenstafel sit -
"Kyk Sus, kyk!
daar's 'n spinnekop, daar!"
en met die terugkyk
het ek net my leë poedingbak met my ses-jaar-oue-oë gewaar


Jy onthou sy unieke en eiesoortige gewoontes:
die manier hoe hy sy arm geskud het om sy horlosie
mooi netjies en reg te laat lê....
die grappies en snaakse dinge wat hy soms
so lekker sou kon sê
Sy blydskap as hy onverwags 'n meevallertjie
iewers vandaan sou kry,

sy menswees...
sommer net hy


en toe my wêreld skielik ook eendag
 stukkend breek
en ek alleen moes verder gaan,
toe was hy daar:
sy stil vashou en verstaan
daar in die tuin
waar die winter
aan elke perskeboom geraak het...

(Dat hulle twee so tragies moes sterf -
dìt kan ek steeds nog nie verstaan)


In liefdevolle herinnering aan my broer Douw en skoonsus Rika wat op 11 Julie 2003 in hul slaapkamer in Cullinan geskiet is.

Elizabeth Kendall ©




Tuesday 10 July 2012

Glo net


Geloof kan berge verskuif
Geloof kan jou oplig en jou abba
Geloof is ‘n vashouplek -
 ‘n stukrag en ‘n anker
Geloof reënboog ‘n vaal dag
Geloof is krag
Geloof is  moed


Geloof het net ses letters

Geloof is goed
Geloof kom lê ‘n hand op joune
 Geloof fluister vuurwerke in jou binneste
Geloof  groei
 en  prewelbid



wanneer kleingeloof jou hele mens vol sit 


Elizabeth Kendall ©

Monday 9 July 2012

Verwondering

Winter is nie net grys wolke
en kaal boomtakke nie
dis nie net flenters koerantpapier
wat vastoffie teen 'n geroeste draadheining nie

dis nie net die duiwe wat pofveer knipknipoog
op die gevriesde waterbak in die voortuin
neerplof om dorstig te pik-pik aan klipharde ys nie

nee, winter is meer

dis boontjiesop en bredie
en die blou van jou oë
wat helderder as ooit
in hierdie vreeslike vaaltes
voor my kom staan
dis 'n onverwagse glimlag
wat soos 'n kniekombersie van sybokhaar
oor my yskoue hande en hart kom knus
en sagte toemaarwoorde
vir my sê

o ja, winter is méér

Elizabeth Kendall ©

Sunday 8 July 2012

‘n Liefdesrympie


Jou woorde span ‘n reënboog
oor my winters, wit en koud
en in  jou  sonnig’ somerkoeltes
word my menswees  nimmer oud 
ons saamstap deur die lewe
oor heuwel en oor bult

bly elke dag ‘n vreugde
danksy jou groot  geduld

En daarom sê ek dankie
vir nog ‘n nuwe dag
Mag elke uur gevul wees
 met vrolikheid en lag
Elizabeth Kendall ©


Friday 6 July 2012

Ek speel met vuur!

Een van die baie lekker dinge om in kuns te doen, is om te eksperimenteer....om iets te doen wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie en dan met groot opgewondenheid die eindresultaat te geniet! In die kunsklas het ek jare gelede 'n interessante tegniek geleer. 'n Mens werk op hardbord. Jy beplan en bedink jou ontwerp /prentjie. Dan gebruik jy Bostik Clear gom en maak lyne daarmee.


Terwyl die gom nog nat is, steek jy dit aan die brand...ja regtig! Nou lyk dit so:


Laat toe dat die vlammetjies self blus. Trek meer lyne om jou prentjie te voltooi.


Steek weer aan die brand. Wees maar versigtig, veral as daar kinders by is. Hulle geniet dit baie, maar toesig is belangrik. Ek moet een van die dae dié tegniek vir 'n groep van 30 vroue demonstreer en leer. Dis deel van ons VLU se kompetisie-artikels: om iets te maak van Bostik Clear gom. Ek sien baie uit en ek glo almal sal dit geniet. Dis mos lekker om iets kreatiefs en maklik te maak!


Hier is die geverfde resultaat! Die gomstrepe het lieflike, growwe teksture en die kuiken lyk sommer baie gelukkig! Dié tekening is eenvoudig en maklik en sal verseker mooi lyk in 'n kinderkamer as dit geraam sou word.

Ek het voorheen al heelwat skilderye op dié manier voltooi. Hier is 'n paar voorbeelde:


Dié skilderye (daar is nog twee soortgelykes) is geraam en verkoop aan Omar Ehsan. Hy het dit vir sy dogtertjie present gegee op haar tiende verjaarsdag. Dis altyd so sielslekker om te weet 'n mens se werk bring vreugde aan ander mense!


'n Abstrakte blommetjie en sy maat....


Winterbome


Bg. hang in my dogter, Maureen Grobler, se huis...ek het 'n collage daarvan gemaak en kaartjies, afdrukke ens is te koop op RedBubble.

http://www.redbubble.com/people/happyart


In bg. skildery is slegs die boomstamme met gom gedoen.
Dié skildery is onlangs verkoop aan 'n digtersvriendin op facebook.

Nouja, mag elkeen wat hier lees inspirasie vind!



Tuesday 3 July 2012

Gedigte en duiwe


My dag begin soos duiwe
wat pofveer neerdaal op die nok
en soos 'n warm sonstraal
al die weemoed
uit die winterkoue haal


Dis duiwesang wat aan my dak kom hang
soggens as die nag sy voorkop skoon vee
 en die dag sy grys stoppelbaard begin wys.


Elizabeth Kendall ©

Saturday 30 June 2012

My plek

Elke mens moet 'n plek hê: 'n plek waar jy kan werk, kan speel, kan droom. 'n Plek waar jy kan lag of huil of sommer net wees.  Ek is so dankiebly oor my plek. Toe die kinders nog almal in die huis was, was dié plek die twee oudstes se slaapkamer.

Elke oggend begin my dag hier...in stilte. Ek lees Bybel en bid.  Ek het dit nodig, dis soos batterye laai, dis soos asemhaal...ek kan my nie 'n dag daarsonder indink nie.

En natuurlik is die lekker warm koppie koffie 'n bonus!



Dié vertrek is nou 'n kunsgalery. Soort van. Kyk maar self! Ek stal skilderye hier uit, dié wat op bestelling is en dié wat nog gekoop moet word, dié wat my nooit wil verlaat vir geld nie en dié wat ek verniet weggee...


Soggens klouter die winterson stywebeen hier by die venster in. Hier kan ek lekker alleen wees. My tafel staan reg langs die sonkol. Ek luister musiek of sommer net radio.


Baie maal luister ek net na die stilte of die voëls hier naby. Dis heerlik om hier te kan wegraak van die wêreld af en te doen wat ek wil, hoe ek wil en wanneer ek wil. Dis kos vir my siel! Ek het dit nodig. En ek geniet dit so.





In die een hoek bly my boeke en baie foto's....albums vol van my en hom, ons gesamentlike kleinkinders, kinders, familie en vriende in en uit elke stadium van ontwikkeling en groei en saam menswees.

Hier skryf ek ook soms verse as die goeie muse oor my neer sou daal.... woorde in my lieflingtaal.

In die lekker groot ingeboude kaste is daar baie pakplek vir al my goeters...skryfgoed, papiergoed, verf, kwassies, paletmesse...ag sommer alles.
Teen die kaste plak ek die skilderye wat op x-straal gedoen is: vir die lekker en vir die mense wat kom inloer om saam met my te geniet! Ek hou nie meer uitstallings in die tuin nie. Bronkhorstspruit is nie 'n kunsdorp nie. Ek stal my werk uit op die internet. Daar is verskillende webblaaie:
en
en
Ek het al wonderlike terugvoering van aldrie hierdie webblaaie gekry. Dis elke keer 'n yslike verrassing en 'n groot blydskap!

Hier word baie nuwe skilderye gebore....ek werk graag op die tafel, soms gebruik ek die esel wat Liefman vir my op my verjaarsdag present gegee het.

 Langs die venster staan die voëltjies se waterbak.
Dis van hierdie hoek af wat ek hulle "bekruip" en my bes doen om mooi foto's te neem. Soms werk dit, soms nie.

En hier staan my "gewete"...as ek voel my klere sit nou bietjie te styf, dan trap ek fiets vir 'n week of twee en die Kaap is weer Hollands. Ek is nie vreeslik lief vir oefen nie, maar in die wintermaande is dit tog lekker om die stram en stywe skarniere bietjie op te warm... en dis glo gesond vir 'n mens, sê dié wat weet!


Elke mens het 'n plek nodig. Hierdie is my plek.
En ek sê dankie daarvoor.

Waar is die hemel?


Gister was ek by 'n begrafnis. Dood en lewe. Nou en toe. Ek kan vir ure daaroor peins en wonder. Die troosryke boodskap van 'n hemel wat wag, van saamwees in die hiernamaals, van rus en vrede en welgeluksaligheid by Hom vir ewig, vir altyd...dìt hou ons staande, dìt hou ons koersvas.

Ná kerk staan 'n paar van ons in die winterson en kuier. Eens was ons almal kollegas by dieselfde skool. Ons wêreld was toe die klaskamer en hoe ons die kinders wat grootoog voor ons gesit het, gaan toerus vir die lewe.

Nou het baie van ons reeds afgetree, doen dinge waarvoor ons nie toe tyd gehad het nie. Ure, dae, maande het ongemerk verbygeglip, meedoënloos. Ons kinders is nou so oud soos ons was. Ons praat oor ons kleinkinders, die vreugde van saamwees, die liefde.

Toe ek tuis kom, skryf ek 'n vers. Ek wou my malende gedagtes iewers neerpen. My bewuswees van die kortstondigheid van die lewe, die finaliteit van die dood, die wonder van vriendskappe wat hou en hou...dit alles het my tot stilstand geruk. En ek was bly dat ek God ken.



Meegevoel

My woorde warrel weg
soos blare in die winterwind
wat iewers teen ‘n heiningdraad

‘n ankerplek mag vind

My hartseer is ‘n koue hand
wat om jou skouers knoop
en moeiteloos jou trane
in my omgeewoorde doop
Elizabeth Kendall ©



Sunday 24 June 2012

Water

Water is lewe!


Of dit nou 'n rivierstroom is wat van die rante se kant af vloei en oor
baie bruin klippe kabbel,

of 'n skuimende golf wat wit kartels oor sagte seesand uitstoot


of voortdurend beweeg en lewe soos die see maar doen.

Soms vloei dit sag en rustig en vind 'n pad tussen geel-oranje en ligroos herfsbome,
 gesels-gesels gee dit lafenis aan elkeen wat verby mag wandel.
Dikwels hang blouwit wolke vol belofte bokant die aarde
om uiteindelik uitkoms te bring waar langdurige droogtes was.
Wilde branders breek in blou en groen, die krag daarvan ... ongetem.
Die ritme van die see, die sagvloei van 'n rivier, die kabbel van 'n bergstroompie...
alles, alles bly en is 'n wonder, geskep deur 'n God wat sorg en liefhet.
(Paletmes- en waterverfkuns gedoen deur Elizabeth Kendall ©