Showing posts with label duiwe. Show all posts
Showing posts with label duiwe. Show all posts

Tuesday 4 February 2014

Laatmiddag se lekkers

Daar is min dinge wat my so rustig en ontspanne laat voel soos 'n wandeling in die tuin. Laatmiddag is altyd 'n heerlike tyd om buite te wees. Dan kom soek die voëls water by die drinkbak in die voortuin. As mens gelukkig is, sien jy soms ook 'n houtkapper. Mossies, geelvinke en lysters is  gereelde kuiergaste. Ek kan hulle vir ure sit en dophou.
 
 'n Tortelduif. 

 'n Kransduif.

 Tortelduif of Ringnek, soos ook by baie bekend.

 My gunsteling! 'n Rooiborsduif.


  Die honde is dan ook naby en aan't bal speel. Hulle weet al dat laatmiddae hulle tyd  vir kwaliteit-aandag is. 
 
  Nog 'n  tennisbal is ook al amper opgespeel!! 

 In Bronkies is daar vreeslik baie duiwe. Baie mense hou nie veel van die groterige kransduiwe nie omdat hulle so mors, maar ek gee nie om nie. Water maak mos alles skoon. 

 Kyk dan net hoe lekker pronkerig en opgetof sit hierdie een op die huis se dak.

'n Kwikstertjie. Kwikkies is wonderlike voëltjies.  Sy ander name is wipstertjie of akkermannetjie. 


'n Lyster kom aangehop. Ek kon nie mooi sien wat met sy beentjie verkeerd was nie.
 Dit lyk soos iets wat daar uitgroei. Hy het hom nie veel daaraan gesteur nie en rustig kom water drink by die fontein. Ek het so gewens ek kon die "obstruksie" verwyder.


In die natuur leer ons baie lewenslesse. 
Een daarvan is:
"HOU die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26).

Thursday 26 July 2012

My duiwe



By die waterbak hier in ons tuin
daal blou duiwe daagliks pofveer neer

Toontjies pienk en pragtig,
vredeversies in vlerke toegevou

sing hul sag hul weemoedwysies
vir my en ook vir jou

fladderveer en klouter
trap hul op die huis se dak

soms laat hul my toe om stil te kyk
hoe hul vlerksleep en kafoefel

 sirkeldraai teen blou, blou lug -
skemeraand se tuiskom na 'n dag se vlug

Elizabeth Kendall ©









Tuesday 3 July 2012

Gedigte en duiwe


My dag begin soos duiwe
wat pofveer neerdaal op die nok
en soos 'n warm sonstraal
al die weemoed
uit die winterkoue haal


Dis duiwesang wat aan my dak kom hang
soggens as die nag sy voorkop skoon vee
 en die dag sy grys stoppelbaard begin wys.


Elizabeth Kendall ©

Sunday 3 June 2012

My hart is hier....


Nêrens is daar 'n plek soos jou eie huis nie. Jou eie warm nessie. 'n Holte vir jou voet, 'n vesting, 'n rusplek. Nêrens voel 'n mens so tuis soos in jou eie kamer en in jou eie gang nie.
By jou eie plek kan jy maar net jy wees.


Teen skemeraand kom land die kransduiwe op jou huis se dak onder die sagte maan.
Tevredenheid is in hul vlerke toegevou.


Bruin blare en boepensklippe lê knus onder 'n winterkombers en wag...


Aan die appelkoosboom se kaal takke hang 'n goudgeel lemoenskil.
 Binnekort sal die glasogies kom kuier, ek weet.


Warmgeel skyn die straatlamp se lig oor my tuin.
Elke seisoen het mos maar sy eie mooi en koue winters word snel in helderbont getooi.