Hulle is al
ryp in jare. Sommiges effe geboë van al die herinneringe wat hulle abba. Lewenslank. In hul
gedagtes verruil hulle dikwels die hede vir ‘n geïdealiseerde verlede. Baie
hunker peinsend na die toekoms. Hulle bewandel die goue strate in die hemel alreeds
sorgloos, ligvoets. Maar nou, vandag, woon hulle nog in Ons Herberg. Elkeen op
sy eie, almal saam.
Maandagmiddag
is storietyd in Bronkhorstspruit. Dan lees ek voor uit verskeie
lekkerlees-boeke. Nie omdat ek moet nie, omdat ek wil. “Oulap se blou” van Chris Barnard vind by
almal byval. Soms lees ek ‘n woord raak waarvan ek nie die betekenis ken nie en
dan wéét Tannie Babs en kan sy aan almal verduidelik, want dié woord kom uit
haar tyd. ‘n Tyd voor my tyd. En ek glo sy voel dan ook goed. Net omdat sy, sy kon
wees en nie ‘n “oumensie” nie. Wààr kom daardie benaming tog vandaan?
Onaanvaarbaar. Elkeen van hulle wat nou hier voor my sit, is ‘n mens. ‘n Mens
in eie reg. Nie ‘n verkleinwoordjiemens nie, ‘n grootmens. Iemand wat sy merk
gemaak het in die lewe.
Ek lees ook
uit Riana Scheepers se boek: “My voete loop na Wellington…” en Jan Spies se “Spieserye”.
Heerlik, heerlik. Skaterlag lekker. Vir ‘n uur lank vergeet ons almal elke sorg
en las van hierdie wêreld en breek die Lig deur. In ons hande en in ons harte. Geseënde
saamwees, so salig.
Stap ek daarnà huiswaarts, is daar sommer ‘n lied in my hart. Nie oor ek tyd gemaak het vir hulle wat oud en alleen en dalk baie eensaam is nie, maar oor ek so baie gekry het. Hul waardering, hul onvoorwaardelike liefde. Ek is skatryk. Dankie Here.
Elizabeth Kendall ©
No comments:
Post a Comment