Monday 9 July 2012

Verwondering

Winter is nie net grys wolke
en kaal boomtakke nie
dis nie net flenters koerantpapier
wat vastoffie teen 'n geroeste draadheining nie

dis nie net die duiwe wat pofveer knipknipoog
op die gevriesde waterbak in die voortuin
neerplof om dorstig te pik-pik aan klipharde ys nie

nee, winter is meer

dis boontjiesop en bredie
en die blou van jou oë
wat helderder as ooit
in hierdie vreeslike vaaltes
voor my kom staan
dis 'n onverwagse glimlag
wat soos 'n kniekombersie van sybokhaar
oor my yskoue hande en hart kom knus
en sagte toemaarwoorde
vir my sê

o ja, winter is méér

Elizabeth Kendall ©

2 comments:

  1. Nog steeds gunsteling-woorde vir my Elizabeth!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Nog steeds dankiebly as ek sien jy het kom inloer Maree!

      Delete