Showing posts with label vriende. Show all posts
Showing posts with label vriende. Show all posts

Wednesday 13 August 2014

Dis die lewe.

11 Augustus 2014.
My Pa het altyd gesê die lewe is nie 'n piekniek nie. Dis asof ons marionette in ‘n poppespel geword het. Trek dié toutjie, dan maak ek so. Trek daai toutjie, dan maak ek sus. Meganies. Op elke stukkie nuwe ervaring reageer ons sonder om té veel te dink. Dink is skielik nie meer so lekker nie. Slaap is lekker. Wegraak. Onbewus wees. Onbewus van jou worsteling, jou stryd, myne.
Besig wees is ‘n antwoord. Maar wat van jou? Jy kan nie nou besig wees nie. Jy is net. En daar buite wag die wêreld vir niemand nie. Die son kom op. Die son gaan onder. Dis nuustyd, ontbyttyd, middagete, aandete. Kos proe na niks.
Ek hou jou hand in myne. Ek bid vir jou vir ‘n rustige nag. Ek bid dat God jou moet genees. As Hy wil. Jou klere word al groter. Jy word al kleiner. Die siekte hang oor jou soos ‘n onweerswolk. Dis in jou bene, jou arms, jou hele lyf. Die dokter sê dis net op jou long. Jou regterlong. Kanker. ‘n Skrikmaakwoord van altyd af.  ‘n Bangmaaksiekte.
Mense bel of stuur boodskappe. Baie vra vrae. Ons antwoord uit die dokter se mond. Ons sê die woorde op soos ‘n resitasie. Onkologie. Chemoterapie. Bestraling. Siklus. Bloed trek. Biopsie. Party mense stuur Bybelversies op whattsapp of facebook. Die min familie wat oor is, vou ons toe in hul omgee. Ou vriende van lankal word weer splinternuut. Kennisse stel belang, bemoedig. Vreemdes bid. Alles troos. Elke klein gebaar van omgee en liefde word vasgegryp en gedeel. Dankbaar.
As ‘n nuwe dag begin, vul Hy ons harte met nuwe hoop. In die tuin begin die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Lente. Uitbundig lag ligpers gesiggies in die pot. Ek spuit die vaal gras nat, maak die voëls se waterbakke vol. ‘n Snik ruk deur my lyf, kloof my hart. My liefste Chris.
12 Augustus 2014. Vandag word Liesl geopereer. My Bokkiekind. Ses minute jonger as haar tweelingboetie. Ses minute kan soms so ‘n groot verskil maak. Tumor in die spinale koord. Vandag se bult is steil, maar die Here help ons tree vir tree. Ek weet dit net. 
Toe jy vanoggend opstaan, lyk jy beter. Nie gesond nie, net beter. Beter as gister. Ek maak vir jou roereier met stukkies skaapvleis in. Jy eet alles op. Ons hou hande vas as ons bid. Ons bidwoorde vlieg  partymaal sommer so sonder koers die dag in. Gedagtes met vlerke. Hoop hou nooit op nie.
Die whatsappgroep wat John en Liesl begin het om almal op hoogte te hou van haar vordering,  is bedrywig. Kort-kort pieng my foon. Toe sy uiteindelik uit die teater is, is ek dankbaar en verlig. Toe John ‘n foto stuur van haar, jubel my hart. Prys die Here, die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Vanmiddag maak ek kos. Een koppie rys, twee en ‘n halwe koppie water, ‘n knippie sout, ‘n bietjie botter. Vier stukkies steak in die pan, groente in ‘n ander kastrol. Ek maak die groente te gou gaar. Die rys prut nog. Totaal uit oefening met die kosmakery, maar ek sal leer. Hoeveel jaar is dit nie nou al dat jy my bederf het en ek nooit aan kosmaak gedink het nie? Amper twee dekades. Dis net ‘n kwessie van goeie tydsberekening, sê jy geduldig.
(Hy eet weer alles op, sê my kos proe lekker. My gentleman.)
Laatmiddag sit ons rustig en rooibostee drink onder die appelkoosboom. Die honde speel naby ons, knibbel  en lek aan mekaar. Ou Hagar gooi sy swart Labradorpoot oor Brakkies se worshondlyfie. Liefdevol, beskermend. 

Sunday 29 July 2012

Vriende

Ons was jare en jare en jare lank vriende. Wim en Laura. Soos sout en peper. Deel van ons daaglikse bestaan.

Wim en Laura. Toe hy sestig geword het, het hy ons almal na sy verjaarsdag genooi  by die dam….  Laura het so baie moeite gedoen, die mure was met foto’s van hulle ervaringe en avonture versier. Vriende en familie was daar van oraloor. Stories en grappies is vertel.  Ons het laat eers huistoe gegaan. Heerlik gekuier. Skatryk gevoel.

Wim en Laura. Ek en sy was een maal saam op Aardklop. Ons twee het in ‘n koshuiskamer by Potch Universiteit gebly en elke dag ten volle benut tussen stalletjies en tente, tussen konserte en sang.  Ons het dit so geniet! Hande geklap en op en af gespring saam met die jonges toe Ray Dylan en David Fourie en wie nog almal sing. Ag dit was heerlik. Hartsgoed gedeel.

Wim en Laura, Mara en Gerhard.  Ons.  Kuier saam op ‘n Sondag na kerk, braai ‘n vleisie en lag en lag en lag. Praat strooi en praat diep. Deel mekaar se kommers, deel mekaar se blywees.

Toe ek en Chris nog nie ge-eg was nie, gaan kuier ons by hulle waar hulle karavaantjie langs die Wilgerivier staan, ons swem in die rivier, ons brand bloedrooi in Afrika se warm son, ons eet slaai en broodjies en braaivleis. Ons teug aan ‘n saamweeswyn.  Die wêreld is wonderlik.

Voor Chris my lewe binnegewals het en ek sielsalleen moes regkom met vier kinders, laai Wim my op en piekel my saam na ‘n Voortrekkerkamp waar Laura al wag. Langs die pad gesels ons aanmekaar. Hy vertel my van sy kinders, van Laura en hoe lief sy vir die natuur is. Wim is my vriend, Laura my vriendin. My kinders is sonder ‘n Pa. By die kamp tel Wim vir Liesl wat toe in St. Een was, op sy skoot en Pa haar.

Wim en Laura. Ons kinders en hulle kinders. Ons vra mekaar uit. Ons deel ons lewens. Ons kuier dikwels. Ons is altyd bly om mekaar te sien. As hulle dorp toe kom, eet hulle sommer hier. As ons Bosveld toe gaan, maak ons ‘n plan om ‘n draai by hulle te maak, veral in die winter.

Toe kry ek ‘n sms. Wim het ontsteking in sy voet. Hospitaal toe in Warmbad. Hospitaal toe in Pretoria. Been en voet afgesit. En nou is dit sestien, nee sewentien dae later en Wim is nie meer met ons nie. Hy is by die Here.  Wim en Laura. Tot gister.


Wim is dood. Ek bel Laura vanoggend. Ons huil in mekaar se ore. Ons trooswoorde word  roeispane  in elkeen se bootjie. Die lewe wag vir niemand nie. Ons harte en ons deur is oop vir Laura. Vir altyd. Ons weet wéér ons word almal ouer. Dis ons wat wik en God wat beskik.

Ons herinneringe bly vir altyd. Donderdag verjaar my Chris. Donderdag word Wim begrawe. My hart is seer. Laura bly alleen agter. Laura, ons, Gerhard en Mara en die Here.  
Elizabeth Kendall ©

Saturday 30 June 2012

Waar is die hemel?


Gister was ek by 'n begrafnis. Dood en lewe. Nou en toe. Ek kan vir ure daaroor peins en wonder. Die troosryke boodskap van 'n hemel wat wag, van saamwees in die hiernamaals, van rus en vrede en welgeluksaligheid by Hom vir ewig, vir altyd...dìt hou ons staande, dìt hou ons koersvas.

Ná kerk staan 'n paar van ons in die winterson en kuier. Eens was ons almal kollegas by dieselfde skool. Ons wêreld was toe die klaskamer en hoe ons die kinders wat grootoog voor ons gesit het, gaan toerus vir die lewe.

Nou het baie van ons reeds afgetree, doen dinge waarvoor ons nie toe tyd gehad het nie. Ure, dae, maande het ongemerk verbygeglip, meedoënloos. Ons kinders is nou so oud soos ons was. Ons praat oor ons kleinkinders, die vreugde van saamwees, die liefde.

Toe ek tuis kom, skryf ek 'n vers. Ek wou my malende gedagtes iewers neerpen. My bewuswees van die kortstondigheid van die lewe, die finaliteit van die dood, die wonder van vriendskappe wat hou en hou...dit alles het my tot stilstand geruk. En ek was bly dat ek God ken.



Meegevoel

My woorde warrel weg
soos blare in die winterwind
wat iewers teen ‘n heiningdraad

‘n ankerplek mag vind

My hartseer is ‘n koue hand
wat om jou skouers knoop
en moeiteloos jou trane
in my omgeewoorde doop
Elizabeth Kendall ©