Showing posts with label leerskool. Show all posts
Showing posts with label leerskool. Show all posts

Sunday 22 July 2012

Goeiemôre!

Dis half sewe. ‘n  Sondagoggend in Juliemaand. Agter die donker takke van die groot ou akkerboom voor ons huis, vou ‘n nuwe dag sy ligblou laken oop.  Ek was al vroeg wakker. Twee boepensbekers koffie verder en ek hoor die duiwe buite gesels. Op die huis se dak sit hulle met opgepofde vere. Vanoggend is nie so erg koud nie.

 Ek sit hier en dink. Ek dink aan my mense:  my kinders, my man, my vriende.  Ek dink aan die wonderwêreld wat die  internet vir ons geskep het.  Gister kon ek op facebook sien my niggie in die Kaap wil haar klavier verkoop.  My ander niggie in Alberton se kleinkinders kuier by haar vir die vakansie. Vanoggend het ek saam met Magriet van Tolwe verlang na die lente. Môre sal ek weer met mense op die nuwe kunswebblad gesels wat ek waarskynlik nooit in my hele lewe ooit gaan ontmoet nie. En dit nogal in Engels! Dis ook al plek waar ek deesdae Engels praat…op die internet.  

Ek het onlangs my oorlede Pa se neef Kosie op ‘n gedigteblad raakgelees. Wat ‘n heerlike herontmoeting!  Iemand stuur ‘n e-pos met mooi musiek en Vincent se skilderye en ek sing hartlik saam: “Starry, starry night!”  Elke môre groet Maree van Tarlton, Pieta van Kleinmond en die uwe mekaar op Redbubble.  (Ek “werk” mos eintlik daar:  ‘n Gasvrou vir die groep AFRIKAANS.  Dis so lekker! Ek en Maree ontvang foto’s en kuns van oraloor in die wêreld. Daar is so baie talentvolle mense op Moederaarde en ook in die kuberruimtes. Ons deel baniere uit en reël uitdagings in ons groep. Ons kry self ook hope inspirasie deur net na al die interessante en mooi werk van ander te kyk en dit te waardeer.)

Op facebook is ‘n magdom interessante gedigtegroepe.  Dis wonderlik om myself te “verdrink” in talentvolle digters soos Erna Jo, Marie Bredenkamp, Naudé Kritzinger , Francois Viljoen en nog baie ander se lieflike digwoorde. Ek kan nog so baie by hulle almal leer.  Ronell Marais se absolute lewensvreugde is ‘n daaglikse inspirasie.

Baie maal, as ek na my kinders verlang, loer ek wat op hul profielblaaie aangaan en weet ek dis weer hoogtyd vir lekker saamkuier in lewende lywe. Aanlynkuiers verskil grootliks van die ware Jakob, al troos dit in ‘n mate.

Die belangrike ding om te onthou in vandag se wêreld met allerlei kommunikasiemiddels wat tog so gerieflik en gemaklik kan word,  is dat ons steeds tyd moet maak vir mekaar en vir die dinge rondom ons. Ons moet gebalanseerd lewe. Om buite in die vars lug rond te loop of net stil te sit en luister na die voëls in die tuin, ‘n akkedis te sien wegglip tussen die vetplante en aan die einde van die dag die lug  te sien verkleur  in die weste….dis alles lewensbelangrike  sielskos.

Mag jou dag vol mooi wees: ingekleur met God se genade, vandag, môre en ook oormôre. Mag jy vreugde vind in die klein dingetjies, tyd maak vir dit wat werklik geluk en blydskap bring……stil word in jou kleinheid en jubel in jou grootsheid.  En mag ons mekaar aanvaar net soos ons is. Elke dag is ‘n leerskool en bied nuwe uitdagings.  

Mooi loop tot volgende keer!