Ons was jare en jare en jare lank vriende. Wim en Laura. Soos
sout en peper. Deel van ons daaglikse
bestaan.
Wim en Laura. Toe hy sestig geword het, het hy ons almal na
sy verjaarsdag genooi by die dam…. Laura het so baie moeite gedoen, die mure was
met foto’s van hulle ervaringe en avonture versier. Vriende en familie was daar
van oraloor. Stories en grappies is vertel.
Ons het laat eers huistoe gegaan. Heerlik gekuier. Skatryk gevoel.
Wim en Laura. Ek en sy was een maal saam op Aardklop. Ons
twee het in ‘n koshuiskamer by Potch Universiteit gebly en elke dag ten volle
benut tussen stalletjies en tente, tussen konserte en sang. Ons het dit so geniet! Hande geklap en op en
af gespring saam met die jonges toe Ray Dylan en David Fourie en wie nog almal sing.
Ag dit was heerlik. Hartsgoed gedeel.
Wim en Laura, Mara en Gerhard. Ons. Kuier
saam op ‘n Sondag na kerk, braai ‘n vleisie en lag en lag en lag. Praat strooi
en praat diep. Deel mekaar se kommers, deel mekaar se blywees.
Toe ek en Chris nog nie ge-eg was nie, gaan kuier ons by
hulle waar hulle karavaantjie langs die Wilgerivier staan, ons swem in die
rivier, ons brand bloedrooi in Afrika se warm son, ons eet slaai en broodjies
en braaivleis. Ons teug aan ‘n saamweeswyn.
Die wêreld is wonderlik.
Voor Chris my lewe binnegewals het en ek sielsalleen moes
regkom met vier kinders, laai Wim my op en piekel my saam na ‘n Voortrekkerkamp
waar Laura al wag. Langs die pad gesels ons aanmekaar. Hy vertel my van sy
kinders, van Laura en hoe lief sy vir die natuur is. Wim is my vriend, Laura my
vriendin. My kinders is sonder ‘n Pa. By die kamp tel Wim vir Liesl wat toe in St. Een was, op sy skoot
en Pa haar.
Wim en Laura. Ons kinders en hulle kinders. Ons vra mekaar
uit. Ons deel ons lewens. Ons kuier dikwels. Ons is altyd bly om mekaar te
sien. As hulle dorp toe kom, eet hulle sommer hier. As ons Bosveld toe gaan,
maak ons ‘n plan om ‘n draai by hulle te maak, veral in die winter.
Toe kry ek ‘n sms. Wim het ontsteking in sy voet. Hospitaal
toe in Warmbad. Hospitaal toe in Pretoria. Been en voet afgesit. En nou is dit
sestien, nee sewentien dae later en Wim is nie meer met ons nie. Hy is by die
Here. Wim en Laura. Tot gister.
Wim is dood. Ek bel Laura vanoggend. Ons huil in mekaar se
ore. Ons trooswoorde word roeispane in elkeen se bootjie. Die lewe wag vir
niemand nie. Ons harte en ons deur is oop vir Laura. Vir altyd. Ons weet wéér ons
word almal ouer. Dis ons wat wik en God wat beskik.
Ons herinneringe bly vir altyd. Donderdag verjaar my Chris.
Donderdag word Wim begrawe. My hart is seer. Laura bly alleen agter. Laura, ons, Gerhard en Mara
en die Here.
Elizabeth Kendall ©