Sunday 29 July 2012

Vriende

Ons was jare en jare en jare lank vriende. Wim en Laura. Soos sout en peper. Deel van ons daaglikse bestaan.

Wim en Laura. Toe hy sestig geword het, het hy ons almal na sy verjaarsdag genooi  by die dam….  Laura het so baie moeite gedoen, die mure was met foto’s van hulle ervaringe en avonture versier. Vriende en familie was daar van oraloor. Stories en grappies is vertel.  Ons het laat eers huistoe gegaan. Heerlik gekuier. Skatryk gevoel.

Wim en Laura. Ek en sy was een maal saam op Aardklop. Ons twee het in ‘n koshuiskamer by Potch Universiteit gebly en elke dag ten volle benut tussen stalletjies en tente, tussen konserte en sang.  Ons het dit so geniet! Hande geklap en op en af gespring saam met die jonges toe Ray Dylan en David Fourie en wie nog almal sing. Ag dit was heerlik. Hartsgoed gedeel.

Wim en Laura, Mara en Gerhard.  Ons.  Kuier saam op ‘n Sondag na kerk, braai ‘n vleisie en lag en lag en lag. Praat strooi en praat diep. Deel mekaar se kommers, deel mekaar se blywees.

Toe ek en Chris nog nie ge-eg was nie, gaan kuier ons by hulle waar hulle karavaantjie langs die Wilgerivier staan, ons swem in die rivier, ons brand bloedrooi in Afrika se warm son, ons eet slaai en broodjies en braaivleis. Ons teug aan ‘n saamweeswyn.  Die wêreld is wonderlik.

Voor Chris my lewe binnegewals het en ek sielsalleen moes regkom met vier kinders, laai Wim my op en piekel my saam na ‘n Voortrekkerkamp waar Laura al wag. Langs die pad gesels ons aanmekaar. Hy vertel my van sy kinders, van Laura en hoe lief sy vir die natuur is. Wim is my vriend, Laura my vriendin. My kinders is sonder ‘n Pa. By die kamp tel Wim vir Liesl wat toe in St. Een was, op sy skoot en Pa haar.

Wim en Laura. Ons kinders en hulle kinders. Ons vra mekaar uit. Ons deel ons lewens. Ons kuier dikwels. Ons is altyd bly om mekaar te sien. As hulle dorp toe kom, eet hulle sommer hier. As ons Bosveld toe gaan, maak ons ‘n plan om ‘n draai by hulle te maak, veral in die winter.

Toe kry ek ‘n sms. Wim het ontsteking in sy voet. Hospitaal toe in Warmbad. Hospitaal toe in Pretoria. Been en voet afgesit. En nou is dit sestien, nee sewentien dae later en Wim is nie meer met ons nie. Hy is by die Here.  Wim en Laura. Tot gister.


Wim is dood. Ek bel Laura vanoggend. Ons huil in mekaar se ore. Ons trooswoorde word  roeispane  in elkeen se bootjie. Die lewe wag vir niemand nie. Ons harte en ons deur is oop vir Laura. Vir altyd. Ons weet wéér ons word almal ouer. Dis ons wat wik en God wat beskik.

Ons herinneringe bly vir altyd. Donderdag verjaar my Chris. Donderdag word Wim begrawe. My hart is seer. Laura bly alleen agter. Laura, ons, Gerhard en Mara en die Here.  
Elizabeth Kendall ©

2 comments:

  1. Ag sjym my maatjie, my hart is saam met jou seer en woorde is daar nie vir hierdie verlies nie - my bede en gedagtes is saam met Laura en sy is gelukkig om sulke sterk skouers soos jou en Chris s'n te hê om op te leun. Die steun van vriende en familie is al wat ons kan vra in tye soos hierdie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie liewe Maree dat jy kom lees het...jy is ook so 'n vriendin al sien ons mekaar nie regtig nie. x

      Delete