Wednesday 11 July 2012

Op dae soos vandag

Die seer gaan nooit weg nie
op dae soos vandag onthou jy alles....

alles wat jy ooit in jou lewe geweet het van hom, van hulle...

jy onthou veral jul kleintyd
eens toe jy en hy saam kinders was op Onverwacht
en aan Ma se etenstafel sit -
"Kyk Sus, kyk!
daar's 'n spinnekop, daar!"
en met die terugkyk
het ek net my leë poedingbak met my ses-jaar-oue-oë gewaar


Jy onthou sy unieke en eiesoortige gewoontes:
die manier hoe hy sy arm geskud het om sy horlosie
mooi netjies en reg te laat lê....
die grappies en snaakse dinge wat hy soms
so lekker sou kon sê
Sy blydskap as hy onverwags 'n meevallertjie
iewers vandaan sou kry,

sy menswees...
sommer net hy


en toe my wêreld skielik ook eendag
 stukkend breek
en ek alleen moes verder gaan,
toe was hy daar:
sy stil vashou en verstaan
daar in die tuin
waar die winter
aan elke perskeboom geraak het...

(Dat hulle twee so tragies moes sterf -
dìt kan ek steeds nog nie verstaan)


In liefdevolle herinnering aan my broer Douw en skoonsus Rika wat op 11 Julie 2003 in hul slaapkamer in Cullinan geskiet is.

Elizabeth Kendall ©




2 comments:

  1. Vreeslik tragies Elizabeth. Die wel en wee van die lewe is nie altyd vir ons duidelik nie maar ons vind troos in al die mooi herinneringe wat vir altyd by ons sal bly.

    ReplyDelete
    Replies
    1. So waar! En daar is so baie. Dankie dat jy kom lees het Maree!

      Delete