Saturday 30 June 2012

My plek

Elke mens moet 'n plek hê: 'n plek waar jy kan werk, kan speel, kan droom. 'n Plek waar jy kan lag of huil of sommer net wees.  Ek is so dankiebly oor my plek. Toe die kinders nog almal in die huis was, was dié plek die twee oudstes se slaapkamer.

Elke oggend begin my dag hier...in stilte. Ek lees Bybel en bid.  Ek het dit nodig, dis soos batterye laai, dis soos asemhaal...ek kan my nie 'n dag daarsonder indink nie.

En natuurlik is die lekker warm koppie koffie 'n bonus!



Dié vertrek is nou 'n kunsgalery. Soort van. Kyk maar self! Ek stal skilderye hier uit, dié wat op bestelling is en dié wat nog gekoop moet word, dié wat my nooit wil verlaat vir geld nie en dié wat ek verniet weggee...


Soggens klouter die winterson stywebeen hier by die venster in. Hier kan ek lekker alleen wees. My tafel staan reg langs die sonkol. Ek luister musiek of sommer net radio.


Baie maal luister ek net na die stilte of die voëls hier naby. Dis heerlik om hier te kan wegraak van die wêreld af en te doen wat ek wil, hoe ek wil en wanneer ek wil. Dis kos vir my siel! Ek het dit nodig. En ek geniet dit so.





In die een hoek bly my boeke en baie foto's....albums vol van my en hom, ons gesamentlike kleinkinders, kinders, familie en vriende in en uit elke stadium van ontwikkeling en groei en saam menswees.

Hier skryf ek ook soms verse as die goeie muse oor my neer sou daal.... woorde in my lieflingtaal.

In die lekker groot ingeboude kaste is daar baie pakplek vir al my goeters...skryfgoed, papiergoed, verf, kwassies, paletmesse...ag sommer alles.
Teen die kaste plak ek die skilderye wat op x-straal gedoen is: vir die lekker en vir die mense wat kom inloer om saam met my te geniet! Ek hou nie meer uitstallings in die tuin nie. Bronkhorstspruit is nie 'n kunsdorp nie. Ek stal my werk uit op die internet. Daar is verskillende webblaaie:
en
en
Ek het al wonderlike terugvoering van aldrie hierdie webblaaie gekry. Dis elke keer 'n yslike verrassing en 'n groot blydskap!

Hier word baie nuwe skilderye gebore....ek werk graag op die tafel, soms gebruik ek die esel wat Liefman vir my op my verjaarsdag present gegee het.

 Langs die venster staan die voëltjies se waterbak.
Dis van hierdie hoek af wat ek hulle "bekruip" en my bes doen om mooi foto's te neem. Soms werk dit, soms nie.

En hier staan my "gewete"...as ek voel my klere sit nou bietjie te styf, dan trap ek fiets vir 'n week of twee en die Kaap is weer Hollands. Ek is nie vreeslik lief vir oefen nie, maar in die wintermaande is dit tog lekker om die stram en stywe skarniere bietjie op te warm... en dis glo gesond vir 'n mens, sê dié wat weet!


Elke mens het 'n plek nodig. Hierdie is my plek.
En ek sê dankie daarvoor.

4 comments:

  1. Hoe HEERLIK om nou hier saam met jou te kuier en boonop nog pragtige kunsstukke te sien ook! Jy's reg, elke mens het 'n plek nodig en as dit dan nogal uitkyk op die tuinkombuis is dit 'n dubbele seëning! En jou plekkie is so agtermekaar en rommelvry! Jy moet myne sien op die oomblik, ek moet kort-kort opkom vir asem! Lief jou groot kunstafel en ek weet jy bring baie lekker ure saam met jou kleinkinders daar deur.

    ReplyDelete
    Replies
    1. So bly jy het dit geniet Maree! Baie dankie. Janee, die kleinkinders geniet dit net so!

      Delete
  2. Het net weer kom inloer en ek sien daar het ekstra foto's van jou 'kreatiewe spasie' by gekom - jy laat my nou skoon skuldig voel oor die geoefenry! Maar ek stem saam, dis goed om die litte gereeld te rek, as kunstenaars en bloggers bring mens soveel tyd op die boude deur!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie weer eens! Dit verg ook maar baie selfdissipline....wat ek nie altyd het nie, maar dit IS die moeite werd! Kom ons glo dit!

      Delete