Showing posts with label Bronkhorstspruit. Show all posts
Showing posts with label Bronkhorstspruit. Show all posts

Tuesday, 18 March 2014

'n Heerlike uitstappie

Vandag skyn die son. Dis Dinsdag, die 18e Maart 2014 en ons gaan op 'n uitstappie. Hoe wonderlik dat die weer saamspeel. Die afgelope weke het ons so baie reën gehad. Natuurlik is ons dankbaar, maar ai, dis darem ook lekker om weer die son te aanskou! VLU Van Riebeecktak gaan vandag een van die bome van die jaar nl. die laventelboom, plant.  Bo ons koppe is die lug oop en skoon.

 Op die kerkterrein van NG Nooitgedacht is 'n netjiese gat gegrawe.


Yolande Steenkamp is die sameroeper van hierdie vergadering. Ons almal het dit terdeë geniet.


Heteropyxis natalensis is 'n lieflike boom om in  jou tuin te plant. Dit het 'n mooi vorm en voorkoms. Die bas is ook baie aantreklik. Dis 'n kleinerige, ornamentele boom. In kouer dele vertoon dit pragtig in die herfsseisoen voordat die blare afval. In warmer dele is die boom immergroen. Gekneusde blare en takkies ruik sterk na laventel. Heerlik!
Familie: Heteropyxidaceae  (Laventelboom familie) 
Waar kom die naam vandaan? Heteropyxis – van Grieks ‘heteros’, wat "verskillend" beteken en Latyn 'pyxis' wat 'n "bottel of deksel" beteken, verwysend na die vrugte wat verskil van die Mirtelfamilie. Natalensis – van Natal, nou KwaZulu-Natal.


Dit kan 4-8 meter hoog word en is omtrent 3-5 meter breed. Dit het eenvoudige blare met gladde rande, die blomme ruik soet en is geel-romerig van kleur. Wanneer dit begin kouer word, verander die blare se kleur is lieflike geel, bruin, rooi en pers kleure. Die vrugte is ovaalrond, klein en bars oop wanneer dit ryp is. Daar is vier saad-kompartemente binne-in. Die bas van jong stamme is bleek-bruin, glad en soms krummelrig. Op ou stamme is dit bleekgrys, bruin en het 'n pienkerige tot oranje ondertoon. Die aantreklike kollerige spatsels kleur van ouer stamme is 'n uitstaande kenmerk van die laventelboom. Die bas "skil" af en maak 'n pragtige vertoning. ('n kunstenaar se droomskildery!) 

(Elkeen van ons het 'n beurt gekry om 'n graaf grond in die gat te gooi. Lieflike ryk, rooi grond)

In ons tuine is die laventelboom beslis een van Suid-Afrika se aantreklikste kleiner boomsoorte. Dit vertoon pragtig in kleiner tuine. In groter tuine kan dit in groepe aangeplant word vir meer effek. Dis 'n baie goeie boom vir 'n wildlewe-vriendelike tuin, want dit lok insekte en voëls. In 'n groot pot geplant, maak dit ook 'n baie mooi vertoning. Die laventelboom is ook 'n gewilde bonsaiboom. Dit groei vinnig, tot een meter in 'n jaar. Dis maklik om te onderhou. Voed dit met organiese voeding of kompos en beskerm jong boompies teen koue. Dis rypbestand, maar moet beskerm word wanneer dit jonk is. Dit hou van vol son, maar sal ook gelukkig wees in gedeeltelike skadu. Skoenlappers hou van die blomme en voëls wat graag insekte vreet, word deur die laventelboom aangelok. 

(Luitha weet van bome plant!)
Dit het ook medisinale voordele: 'n heerlike tee kan van die blare gemaak word. Blare kan ook, wanneer tot 'n vloeistof gekook word, gebruik word om verkoues te voorkom. Die wortels en takkies se sap kan gebruik word om tandvleisontsteking en infeksies te beveg. Boombas word gebruik as teenmiddel vir impotensie.
Koedoes, duikers en swart renosters is baie lief om die blare te vreet. Die blomme lok bye, skoenlappers en ander insekte. Die hout is swaar, hard en sterk. Dit word meestal gebruik vir heiningpale. Blare word gebruik vir potpourie en parfuum.
(Marietjie weet van graaf hanteer! )
 

By Ezemvelo, naby Bronkhorstspruit, is daar heelwat laventelbome te sien. Dit word aangetref in KwaZulu Natal, Noordwes Provinsie, Gauteng, Mpumalanga en ook in Zimbabwe.
(Inligting deur my in Afrikaans vertaal, verkry vanaf Witkoppen Kwekery.)


(Niks beter as 'n netjiese paar crocs om die grond vas te trap nie!) 



En kyk nou net! 'n Laventelboom is geplant vir ons nageslag om te geniet. 
(Jolanda, Marietjie en Yolande)

Thursday, 19 September 2013

Overvaal Kongres 2013 by Ou Meulstroom.


Dit is die vyf streke van Overvaal. (Nie "eregaste" nie!) In totaal vanjaar was daar op dag een amper-amper 180 VLU lede. ‘n Wye verskeidenheid van vroue wat almal entoesiasties en ywerig is om dit waarna die VLU streef, uit te leef nl. “om geleenthede tot verruiming aan vroue te bied en hulle toe te rus om ‘n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die gemeenskap en land te lewer.” SAVLU
 Van Riebeecktak is weer eens gekies om die rekwesitespan  te wees. Ek en my vriendin Mara vertrek Donderdag die 10e van Bronkhorstspruit af en ry die 40 km. na Ou Meulstroom, al geselsende. Nou het ons tog bietjie tyd om te kuier! Ons dek die hooftafel wat eintlik drie tafels langs mekaar is. Marie Bester wag ons in asook Kowie Snyman. Vele hande maak ligte werk!
 Ek bewonder die lieflike borduurwerk op die tafeldoek. Dit moes lank geneem het om so ‘n kunswerk te kon skep. Ons rol die dik plastiek bo-oor die kosbare tafeldoek uit. Dan pak ons die hope lêers en sakke op die stoele. Elke streek s’n apart, almal bymekaar. Dit neem ‘n hele tydjie om alles mooi georden te kry.
Die Overvaal vaandel pryk ook daar naby. Vir dié wat graag wil weet wat die simboliek  van alles is, verduidelik ek sommer gou:
Vrou: Voete plat op die aarde –nederigheid.
Pot: Sy beskik oor kennis en deel dit graag met ander. Saai: Vooruitgang. Hare: Ons behoefte om uit te reik na ons lede, ons mede-landsburgers en gemeenskap. Die hare wat waai simboliseer ook die wye veld wat deur ons studierigtings gedek word. Blom: Provinsie se nasionale blom, maar ook Eenvoud en skoonheid. Diamante: baie verskillende fassete in ons organisasie nl. gehardheid, glans, kosbaarheid, suiwerheid. Kleure: Rooi-warmte, Groen- rustigheid, Blou- kalmte, ruimte, Goue draad- saambindende faktor. Ook simbolies van rykdom uit ons provinsie, vooruitstrewendheid.
 
Leon van Nierop is ons Skrywer van die Jaar. Nà sy boeiende praatjie verkoop sy jongste boek Plesierengel soos soetkoek. Ons geniet elke woord wat uit sy mond kom. Hoe geseënd is die veteraan-skrywer nie. Inspirasie op sy beste. Op sy facebookblad skryf hy op 12 September: En vandag het ek met die VLU - dames gepraat naby Bronkhorstspruit. So 'n gulhartige, warm ontvangs het ek in g'n jare gehad nie. Die warmte en vriendskap het my eintlik omgeslaan. En al die Plesierengel-romans wat daar was het letterlik binne 10 minute uitverkoop. Was dit nie vir sulke lesers nie, was skrywers soos ek nie daar nie.”
Dit was ‘n voorreg om Leon van Nierop te kon ontmoet en na sy wonderlike stories te luister.
Heerlik was dit om Lapa se kleurvolle boekuitstalling te bekyk en die wêreld te vergeet terwyl daar na hartelus rondgesnuffel en geblaai is.
 Net die heelbeste werk word op Kongres uitgestal. Hier is ‘n paar voorbeelde van brei-, hekel- en naaldwerk wat deur vlytige vingers  gedoen is.




Yolande Steenkamp van Van Riebeeck se wasgoedpennetjiesak, so mooi.
Die grys-en-rooi-swart kniekombers is deur Van Riebeecktak se visie-voorsitter, Sally Ferreira, gehekel. Daar was heelwat ander inskrywings ook van ons tak se talentvolle lede, almal pragtig! 
Ek kan dit maar net staan en bewonder. En weer en weer bewonder. Talente onbegrens.
Jy is nie sonder talente gebore nie! Begin om weer te droom, begin om weer te doen wat vir jou lekker is en wat jy geniet. Jou gawes sal vir jou plek maak op die regte tyd. Doen alles wat jy doen asof jy dit vir die Here doen; jy sal verbaas wees om te sien waar en wanneer God besluit om jou talente te gebruik tot eer van Sy Naam. Daar is geen einde aan wat jy vir God kan doen as jy begin om te woeker met jou gawes nie!  Manna Tydskrif Blog


 
Daar was baie om te sien: lieflike juwele soos o.a. varswater pêrels, armbande en wat nog alles. “Gij sult niet begeren!”
Voor in die saal pryk die mooiste proteas. ‘n Kuns om dit so te kan rangskik....
 
Elza de Bruyn is die presidente van Overvaal. Dis die eerste keer dat sy as presidente optree. Kalm en vriendelik. Om na haar te luister en te ervaar hoe sy elke situasie met waardigheid en selfvertroue hanteer, is werklik ‘n inspirasie.
 Een van ons sprekers was Eunice van der Merwe. Sy beklemtoon weer dat elkeen ten volle toegerus is om ‘n bemagtigde vrou te wees.
“Your pain becomes your power.”
“Your mess becomes your message.”
LIEFDE is die HELE wêreld se GROOTSTE WAPEN
 
Ina Booyse word as nuwe vise-president verkies. Ons is almal saam met haar bly!
 
Gedurende die afgelope jaar het Overvaal negentien lede aan die dood verloor. Daar word kerse aangesteek. Ons gedagtes gaan uit na hulle wat deur hierdie verlies geraak is.
V.l.n.r. : Jolanda Smit (Sekretaresse), Petra Maritz (skakelbeampte), Meisie Kotze, Yolande Steenkamp en Elizabeth Kendall (Voorsitter) ,  die vyf lede van Van Riebeeck (Bronkhorstspruit) wat die kongres kon bywoon. Wat ‘n voorreg!
 

Tussen-in was daar genoeg tyd om die natuurskoon by Ou Meulstroom te bewonder of soms net stil te raak.
Ons “eie” Dawie de Jager se sang en musiek het natuurlik weer baie hartsnare geraak en ons besonder trots laat voel.
Hier kuier lede van verskillende takke heerlik saam.

Tafels is keurig gedek en daar was oorgenoeg heerlike kos!
 Toe dit aand word, hou ons konsert en lag baie. So lekker om so te kan ontspan en deel te voel van al die pret!


Daar was ‘n heerlike voorlesing deur Leonie Potgieter van Wapadrant.
Verskillende modes is op skreeusnaakse wyses uitgebeeld, daar was heelwat sangitems en verder net pure plesier!

 Corné Gaspar van Roodepoort, Witwatersrand ontvang ‘n trofee vir uitstekende werk, ‘n spesiale prys!  Ons het haar by die Winterskool ontmoet en was dit nou lekker om haar weer te sien. So word heerlike vriendskapsbande onderling tussen VLU-lede gesmee.
Bo teen die balk by ons chalet kom kondig ‘n swaeltjie die begin van ‘n nuwe somerseisoen aan. Lieflik!
 
Toe ons huiswaarts keer, is ons batterye opnuut gelaai en ons harte vol dankbaarheid. Dis lekker om ‘n VLU-vrou te wees!

Wednesday, 28 November 2012

'n Handvol verse

Tuis
 
Wit magrietjieblare
spel dit een-een uit:
die vreugdevolle jare
in ons ou dorpie
Bronkhorstspruit
ek pluk hul een vir een
(oorlaai met God se seën
en Sy genade dag na dag)
 
die voëls in die tuin
 en akkedissies, blink en bruin
wat oor die klippe glip,
‘n lyster en sy maat
roep rooidag wakkerpraat,
geelperskes hang donswang aan die boom
 in somermaande,  lou en loom
en in die voortuin, onder die karee
hoor ek hoe hadida 
triomfantelik sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
 
 
Hier wil ek bly 
Die wete maak my rustig
dit gee vrede
en vreugde
en bowe-al
dankbaarheid –
soos die akkerboom se wortels
so diep, so diep
 vas en seker
lê myne ook
ingebed
toegekombers
veilig
 
tot eendag…
Elizabeth Kendall ©
 
‘n Paar woorde
 Sondagvrede lê die hele tuin vol
vou sag oop in grysblou duiwevlerke,
blink in die nat
 van gisteraand se reën op nuwe roosblare,
waar wit en swart spoelklippe
die paadjie hek toe uitspel…
dit  word ‘n trooshand
op my skouer
‘n lied
en  ‘n  dankiegebed
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Friday, 12 October 2012

Reënverse en vreugdes

 

 
Vars
 
Daar's druppels op die drumpel
en duiwe op die dak
'n mossie tjirp-tjirp vir sy maat
in die Sondagstilte van ons straat
gesiggies lag ligblou in die tuin
tussen blare groen en geel en bruin...
'n nuwe dag, so vars en skoon
laat dankies in my hart kom woon
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
So betyds
 
Slierte reën, ja strome van seën
het op die aarde neergeval
en elke dorre kraak
en droë sloot
verander in 'n
modderdam, 'n poel,
'n nat-nat klei
wat mens tussen
jou vingers kon vat en brei
en so die grond se geur kon inasem,
die groen hoor groei
en sien hoedat 'n
droë boom weer bloei
en in jou maat se oë weer lees:
die vreugde van 'n vrolik'
najaarsfees
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
 
Nat.
 
Dit reën sopnat waternat sousnat reën
reën dit in die straat
en oor die groen, groen bome
die rose, die magrietjies, die wilde knoffel,
reëndruppels spat en klets en praat
teen die ruite
buite,
oor die dorp, die winkels, huise, karre
mense skarrel vinnig onderdak
‘n ousie met ‘n plastieksak
buk om weg te kom van die nat
wat oral spat
en ek

sit vredig en versies skryf met jubels
in my lyf

Elizabeth Kendall ©
 
Reën
 
‘n Nuwe dag klouter nat en vars
deur oop vensters  
groen, groen en blink
lê die tuin en lekkerkry ...
stroopsoet mossies
kwetter in die karee 
en iewers ver
hoor ek ‘n hadida
sy juigkreet skree
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
Eerste lentereën
 
Vanoggend donskombers die wolke bo-oor  my 
nat blare lê die voorstoep vol 
‘n tortel trippel vinnig oor die huis se dak 
om na sy koe-koerdoekmaat te hol 
liggroen blaartjies het oornag 
oral aan die akkerboom verskyn 
ek ruik die goeie grond se klam 
die druppels op ‘n klimop-blaar 
boslelie trek haar rooi rok aan 
en staan en glimlag daar 
onder die koelte van die ou karee 
waar sonbesies later vandag 
hul versies vrolikbly sal skree
 
 Elizabeth Kendall ©
 
 


Ma-wees
Nes  ‘n  welkom  reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
 by haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©