Showing posts with label familie. Show all posts
Showing posts with label familie. Show all posts

Thursday, 3 October 2013

In die kleinste oggendure

Elke dag het sy ops en sy afs. (Ek glo nie jy gaan my twee nuutste woorde in 'n woordeboek kry nie!)
Vandag het al baie vroeg begin. Donkernag. Hagar blaf kliphard buite: "WOEF! WOEF!" Wakker is ek. Wakker is Chris. Wakker is Brakenjan, ons worshond, wat binne slaap. Hmmmmmm, ander honde wat rondloop in die donker straat is toe die rede vir die onrus.
Almal keer terug na Droomland, behalwe die uwe. Wawyd wakker. Kyk op die foon. Kwart oor twee. Aggenee. Draai om, knyp my oge styf toe en doen my bes om die wêreld te vergeet.  Onsuksesvol. Staan op, gaan maak koffie, kom lees en bid my dag vol vrede en vreugdes.

Sit voor die rekenaar en kyk e-pos. Twee verrassings lê en wag: die eerste 'n heerlike kommentaar van my oorlede Pa se neef Kosie wat doer ver in die Kaap bly.  Bloed bly maar dikker as water.  Ek het sy werk eendag toevallig raakgelees op 'n Afrikaanse gedigteblad (Vic Viviers) en sedertdien hoor ons taamlik gereeld van mekaar. So lekker. Hy het een van my bloginskrywings: Ek en ou goed van 'n tydjie terug onder oë gehad en dit klink asof hy dit baie geniet het. Hartverblydend! 'n Mens weet mos nooit wie lees jou woorde as jy op 'n blog gedagtes deel nie. Sulke terugvoer is so kosbaar.

Die tweede e-pos is van Mary T Kelly van Ierland. Nog nooit gehoor, gesien of saam tee gedrink nie. Toetentaal onbekend. My oë gly oor haar Ierse Engels: "Dear Elizabeth, I have long been an admirer of your paintings on PIL and just recently became a member.


I did a painting of your River in Africa (above) last year, I did a slightly different take on it so it looks somewhat different. My question to you is, would you mind if I submitted my version to the PIL site ? If you are not happy with the idea then I fully understand. Thank you for taking the time to read this. I am attaching an image of this picture and if you do agree I will of course mention it's been inspired by your painting.
Kelly's painting:

Wat 'n heerlike kompliment! Om iemand ver oor vreemde waters so te kon inspireer is vir my beter as botter op brood of 'n beursie vol geld. Ek voel dankbaar en bly en laat weet haar die saak is reg, die Kaap is Hollands, sy kan haar skildery met liefde op Paintings I Love gaan uitstal, ek voel geëerd.

Toe ek teen ligdag die kamer se gordyn ooptrek, sien ek die mooiste wonderwerk net hier langs die venster. Gister was dit nog net lang, dun stele met belowende knoppe, vandag volmaakte blomme.

 
 
Ek dink ek gaan die res van die dag gebruik om dit te bewonder ...en om dankie te sê.

Sunday, 7 July 2013

'n Mens weet nooit

Miskien moet ek dit maar net skryf en uit my lyf uitkry. My hele lewe lank was sy my tannie. My mooi jong tannie. Die tannie wat nooit oud geword het nie. Die tannie met die goeie gene. My Pa se jongste en enigste sussie. In die Kaap. Ver. Vandat ek kan onthou, bly Tannie Freda en oom Jannie in die Kaap. Lank, lank gelede toe ek nog 'n skraal en bloedjong student was, gaan kuier ons vir hulle in hul huis in Bellville. Sy kom in die sitkamer ingestap met 'n skinkbord in haar hande: "Ouboet, wil julle bietjie tie hê?" vra sy in haar Bolandse aksent. My Pa, 'n bruingebrande boer van die goeie ou Transvaal, hoor nie mooi wat sy sê nie. Sy praat anders en vinnig. "Wat sê jy Freda?" vra hy.  Sy herhaal wat sy gesê het en almal lag. Ons kuier heerlik. Sy is 'n uitstekende kok en weet hoe om mense te onthaal. Oom Jannie sorg vir grappies en spitsvondighede in sy Bolandse aksent...
 
Op 'n keer kom kuier die Kapenaars vir my ouers en ek, wat toe al getroud was, woon in Levubu waar vrugte so volop is dat mens dit later nie eers meer waardeer nie. Ons maak vrugteslaai en ek skil vinnig 'n pynappel. Tannie Freda en Oom Jannie kuier saam met my ouers by ons. Sy bekyk my. "Jitte Elizabeth, jy sny die helfte van die pynappel weg! " sê sy geskok. Hoekom onthou ek dit....miskien het ek daardie dag geleer om alles wat mens verniet kry, te waardeer. Om nie te mors nie. Dis dalk hoekom ek dit soos gister onthou.

Twee jaar gelede ry ek en my Chris Kaap toe. Lank voor die tyd laat weet ons vir Tannie Freda ons kom by hulle langs. Sy vat-vat aan 80 jaar. Toe ons van Paternoster af bel, beduie sy die pad soos 'n jong vrou. Chris, wat maar nie snelweë en vreemde paaie gewoond is nie, ry seepglad op Tannie Freda se aanwysings en ons stop sonder sukkel voor haar deur in Welgemoed, waar sy en Oom Jannie al jare lank woon. "Almal wil hê ons moet in 'n aftree-oord gaan bly", sê sy later vrolik en opgewek. "Ons wil nie..." Ek kan my in elk geval nie voorstel hoe sy in 'n aftree-oord gaan inpas nie.

Sy nooi my oom Douw-hulle wat nie te ver bly nie. My mooi niggie kom ook. Die tafel kreun onder haar heerlike disse. Sy lyk sestig. Haar hare donker, haar vel so mooi. My oorlede Pa se kleinsus. Ouma het ons toentertyd vertel sy was so bly dat sy nà vier seuns uiteindelik 'n dogtertjie gehad het. Sy het glo kort-kort in die nag opgestaan nà klein Fredatjie se geboorte, kot toe gestap, haar doek oopgemaak en gekyk.....net om seker te maak. Vir Ouma was die wonderwerk amper te groot om te glo.

Vanoggend kyk ek oudergewoonte wat gaan op faceboek aan. Toe ek die bloedrooi blokkie op boodskappe druk, lees ek die nuus. My tannie is sedert gister in 'n koma. 'n Bloedklont in haar kop....skryf my niggie. Kritiek. Laas jaar was sy 80. Dis seker doodnormaal dat iemand van 81 so-iets kan oorkom. Tog.

Skielik verlang ek sommer na almal. Na my Pa, my Ma, my eie Ouboet. Skielik wens ek, ek was maar weer 'n langbeenstudent wat na bloedfamilie se heerlike Bolandse woorde sit en luister. Ek vou Oom Jannie toe in my gedagtes, in my gebede. Ek vou hulle almal toe, my twee ver-niggies wat deur hierdie swaar tyd moet gaan. Bloed is dikker as water. Omdraai is daar nie.

Ek onthou my Ma se heel laaste gedig wat sy geskryf het voor haar dood. En dit troos my. Hoe kort is die lewe, hoe min weet ons. Hoe kosbaar is elke goeie dag onder die son.
 
Ek bel my oom. "Ons was sestig jaar getroud", sê hy verlore. Sestig jaar. Herinneringe om vir ewig te koester.
 
Die Kaap is vandag so ver. So baie ver. En bloed bly dikker as water.

Oom Jannie en Tannie Freda.
(foto onlangs geneem)