Ek stap by die poskantoor verby die telefoonhokkie om te gaan pos
uithaal en hoor die jongerige vroutjie daarbinne sê: "Hallo Pa!"
Doodgewoon. Sy bel haar Pa en groet hom. Duisende mense doen dit duisende male
daagliks. Hoe baie male het ek dit nie self ook gesê nie…..vir langer as vyftig
jaar kon ek "Hallo Pa!" sê.
Altyd was "Hallo Pa!" 'n lekker ding om te sê.
"Hallo Pa!" toe ek in die Laerskool was en hy my teen skemeraand, as
hy moeg gewerk was op die lande, met 'n lekker Pa-druk groet…toe ek 'n
Hoërskoolkind was en smiddae saam met hom in sy blou Datsunbakkie gaan beeste
koop het en hy my terselfdertyd leer bestuur het. Toe ek na die derde
probeerslag die bakkie weer laat vrek met die wegtrek by die stopstraat, sê my
altyd-geduldige Pa: "Jakob kan dit beter doen!" Met daardie woorde
het hy my vir die res van my lewe genees van 'n gevrekkery en agterna het ek
besef hoe 'n goeie leermeester hy was!
Toe ek op Heidelbergse Onderwyskollege was en vol blydskap naweke tuisgekom
het, soggens kastig wou laat slaap en hy dan vroeg-vroeg vir my koffie in die
bed bring met 'n altyd lewensblye: "Môre my ou doggie!" en ek nog
deurmekaar was van die slaap….toe ek later op Barberton begin skoolhou het en
soms met die trein huistoe gekom het, hom in die donker ure van die oggend as
die winterwasem voor ons monde staan, op Bronkies se stasie gesoengroet het
waar hy getrou in die koue vir my staan en wag het…..toe ek later in Natal gaan
bly het en hom net vakansies kon sien of soms wanneer hy en my Ma kom kuier
het. Dae voor die tyd was ons al opgewonde en het die kinders die slapies
getel.
"Hallo Pa!" toe ons later ook hier in Bronkhorstspruit kom bly en hy soggens vroeg vir ons melk bring en ek sommer saam met hom ry tot by die skool om die Graad Eens te gaan leer. "Hallo Pa!" as ek en my kinders, wat toe nog almal skoolgegaan het, op die plot gaan kuier waar hy en my Ma so lekker gewoel en gewerk het en ons met mandjies vol groente en vrugte daar wegry na ons eie huis toe.
"Hallo Pa!" toe hy na my Ma se dood alleen en verlangend in sy
woonstel sit en ek hom probeer troos.
"Hallo Pa!" 'n paar jaar gelede elke dag in die Ouetehuis se
siekeboeg….en toe hy die dag voor sy dood nie meer kon praat nie, toe druk hy
my hand. Dwarsdeur my hele lewe is my groet met liefde en warmte en blydskap
terug begroet; "Hallo, my kind!" of "Hallo my doggie!"
selfs toe ek al lankal 'n grootmens was…..altyd was ons bly om mekaar te sien!
Toe ek die sleutel in die posbus druk, breek die damwal en die wêreld word
wasig. Elke keer as iemand iets goeds of moois van hom vertel wat hulle onthou
of saam met hom beleef het, weet ek van vooraf hoe bevoorreg, hoe geseënd ek
was. En eendag, eendag sal ek weer "Hallo Pa!" kan sê.
Ns. Vanoggend het ek weer gaan pos uithaal. Groot was my vreugde toe bg. vertelling in ons kerk se Vroueblad, Die Gereformeerde Vroueblad gepubliseer is en ek 'n boekprys wen. Die boek se naam: God het my gekies deur Ben de Klerk (geborg deur Cum boeke) My Pa is in 2005 oorlede. Vir altyd leef hy in my gedagtes.
Elizabeth Kendall ©