Vars
Daar's druppels op die drumpel
en duiwe op die dak
'n mossie tjirp-tjirp vir sy maat
in die Sondagstilte van ons straat
gesiggies lag ligblou in die tuin
tussen blare groen en geel en bruin...
'n nuwe dag, so vars en skoon
laat dankies in my hart kom woon
Elizabeth Kendall ©
So betyds
Slierte reën, ja strome van seën
het op die aarde neergeval
en elke dorre kraak
en droë sloot
verander in 'n
modderdam, 'n poel,
'n nat-nat klei
wat mens tussen
jou vingers kon vat en brei
en so die grond se geur kon inasem,
die groen hoor groei
en sien hoedat 'n
droë boom weer bloei
en in jou maat se oë weer lees:
die vreugde van 'n vrolik'
najaarsfees
Elizabeth Kendall ©
Nat.
Dit reën sopnat waternat sousnat reën
reën dit in die straat
en oor die groen, groen bome
die rose, die magrietjies, die wilde knoffel,
reëndruppels spat en klets en praat
teen die ruite
buite,
oor die dorp, die winkels, huise, karre
mense skarrel vinnig onderdak
‘n ousie met ‘n plastieksak
buk om weg te kom van die nat
wat oral spat
en ek
sit vredig en versies skryf
met jubels
in my lyf
Elizabeth Kendall ©
Reën
‘n Nuwe dag klouter nat en vars
deur oop vensters
groen, groen en blink
lê die tuin en lekkerkry ...
stroopsoet mossies
kwetter in die karee
en iewers ver
hoor ek ‘n hadida
sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
Eerste lentereën
Vanoggend donskombers die wolke bo-oor my
nat blare lê die voorstoep vol
‘n tortel trippel vinnig oor die huis se
dak
om na sy koe-koerdoekmaat te hol
liggroen blaartjies het oornag
oral aan die akkerboom verskyn
ek ruik die goeie grond se klam
die druppels op ‘n klimop-blaar
boslelie trek haar rooi rok aan
en staan en glimlag daar
onder die koelte van die ou karee
waar sonbesies later vandag
hul versies vrolikbly sal skree
Elizabeth Kendall ©
Ma-wees
Nes ‘n welkom reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
by
haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©