Ek weet nie hoekom nie, maar ek hou van ou goed. Sou jy hier kom kuier, sal jy dit baie gou
agterkom, want om elke hoek en draai het ek “tafereëltjies” gebou met die ou
goed wat aan my en Chrisman behoort. Dis sy woord vir my talle “uitstallings.”
Vanoggend toe ek buite staan en tuin natspuit, het ek so
onder die indruk gekom van die verganklikheid van alle dinge. Laas jaar was die
azalea wat ek uitgeplant het so mooi en kyk nou…die blare is vaalbruin en
opgekrul. Ek gooi bietjie beenmeel by sy voete en gee dit ordentlik water.
Miskien kom dit weer reg, miskien nie. Nes mense…..soms.
Ons huis is in die mark, maar nog nie verkoop nie. Iewers
vorentoe wil ons begin minder maak, begin koebaai sê. Maar nog nie vandag nie.
Ook nie môre nie. Om die eerlike waarheid te sê, ons weet nie wanneer nie. Ons
wag maar geduldig vir antwoorde. Ons weet dit sal kom en ons glo dit sal op die
regte tyd wees.
Iets wat mens nou-al in gedagte begin hou, is dat daar
verseker van baie dinge ontslae geraak sal moet word. Wat maak mens tog met
alles? Ek begin wonder wat gaan ek weggee en uitdeel en aan wie. Dis nie te sê
dat die kinders alles wil hê wat ons nie meer wil hê nie. Hulle het hul eie
smake, giere en geite. Dis nie noodwendig dieselfde as Ma of Pa s’n nie.
Hier is ‘n paar van my kosbare besittings. Elkeen van hulle
vertel sy eie storie.
Hierdie twee skilderye is jare gelede deur my oom gedoen, Pa se jonger broer, Oom Koos. Hy kon
baie dinge met sy hande doen en ek onthou Pa het altyd vertel “Boetie” het op
Potch. gaan leer, terwyl Pa, toe hy in St. 6 was, uit die skool gehaal is en
vir sy Oom op die Bosveldplaas gaan help boer het. ‘n Kind van dertien. Dit het
Pa net sterker gemaak, want in die “latere jare” (soos hy gesê het), is Pa ook
baie geseën en het ‘n goeie lewe gehad.
Hier is ‘n foto van hom in dieselfde raam soos dit op my
oorlede Ma se spieëlkas gestaan het. Toe was hy die burgemeester van die
dorp. Verby was die swaar jare van op
die Spoorweë werk, vir die Jood boer, ‘n kafferwinkeltjie hê, met beeste en
varke spekuleer. Hier was hy ‘n gesiene man en het respek afgedwing waar hy ookal gegaan het. Hy was my
Pa. En aan sy sy, my mooie Ma. Ek kon my altyd verkyk aan haar…haar mooi
neus, haar blou oë, haar mooi versorgde hare. Toe sy ‘n kind was, het sy haar
kunstalent ontdek terwyl sy hul eenvoudige huis se vloere met mis gesmeer het.
Net daar het sy besef dit lyk baie mooier as sy met haar vingers patrone daarop
maak. Sy en my Pa so saam sal vir altyd in my hart gekoester en bewaar word.
Hier is ‘n foto van my en my Ma. ‘n Blonde krulkopkind wat in
‘n huis vol liefde grootgeword het….wat ‘n wonderlike voorreg.
Ek het ‘n ouer broer gehad. Sy naam was Douw. Douw Gerbrand
Grobler. Toe ek tien was, het ek gedink ek wil eendag my seuntjie “Gerbrand”
noem. Dit het nie so gebeur nie, maar dit maak nie saak nie. Ek het ook 'n kleinsus gehad. Ek het haar nou nog. Haar naam is Marinda. Sy het haarself "Lilla" genoem en ek moes haar in haar stootwaentjie aan die slaap stoot toe sy een jaar oud en ek in St. 1 was.
Hier was ek in St. 2 en Douwa (soos almal hom genoem het) in St. 6. Daardie jaar het die Hoër- en die Laerskool saam volkspele gedoen, ek kan nie onthou hoekom nie. Ek onthou net hy was taamlik verontwaardig omdat hy my hand moes vashou vir die foto. En my Ma het gedink haar kinders lyk pragtig. Soos Ma’s mos maar dink.

Waarheen gaan ek met hierdie foto’s? Ek skat ek hou dit maar
by my vir altyd.
Van die ander kosbaarhede wat my na aan die hart lê is die
ysterpappotjie waarin ek soms lekkers bêre as my kleinkinders kom kuier. Dit
was vir my kinders ‘n wonderlike ding om jare terug dieselfde potjie se deksel
op te lig in hul Ouma se huis en te loer wat daarbinne is. Nou doen ek dit ook.
Die ou melkkan, die swart pot waarin Chris steeds heerlike
gesonde kosse maak, die outydse strykysters, die skaal en wit melkbeker bo-op
die yskas. Alles vertel stories. Stories van waar dit vandaan kom en wie dit
gebruik het.
Die ysterskoenlees wat teen die kombuisdeur staan. My
kleinkinders weet nie wat dit is nie.
Houtkieries vir eendag as dit mag nodig raak, ‘n speelgoedlorrie, ‘n
outydse skoolbank, ‘n primusstoof, ‘n silwer souspot en unieke suikerpot, ‘n rooi
lantern en in die spens langs die groen blokkiesgordyn, ‘n ewe groen
melkkannetjie en koekroller van hout.
Wat maak ek met al hierdie oënskynlik nuttelose aardse
besittings die dag as ek moet trek en moet minder maak? Waarheen gaan ek
daarmee?
Teen Chris se rook- en leeskamermuur hang sy seremoniële
swaard. Elkeen van ons kleinseuns wat kom kuier, dink homself binne-in die hemel
in as hy net vir vyf minute lank “Oupa se swaard” mag vashou. Dit dateer uit sy
polisiedae toe hy ‘n jong offisier was. Toe offisiere ook nog offisiere was.
In die gang hang ‘n klerehaak met die nommer 10 daarop. Lank gelede toe ek nog skoolgehou het en
een vakansie op die ingewing van die oomblik vir my eersteling, wat toe in
Duitsland au-pair het, gaan kuier het, het ek dié haak by ‘n Hollandse
penvriend present gekry. Ek sê mos vir jou: elke ding in hierdie huis het sy
eie storie. Hierdie haak praat Hollands.
Nic Veldsman van die eertydse hardewarewinkel op die dorp, se
houtkas waarop: “Gebruik alleen Shell Motorolies” in vet, swart letters staan,
is my talle houtlepels se tuiste. Die melkkan daarnaas vertel van jare terug in
Amanzimtoti toe ons Dexterkoeie gehad het en daar elke oggend voor skool gemelk
is.
‘n Antieke kassie waarin my Oumagrootjie se briewe gebêre word asook Pa en Ma se Kerskaartjies aan mekaar toe hulle jonk en verlief was….Chris het dié kassie vir ‘n appel en ‘n ei gekoop op ‘n kerkbasaar….pryk teen die eetkamermuur. My kinders se skoene: leerskoentjies van Jack & Jill…. ‘n kamera, die oergrootjie van vandag se digitales. En in die voorste kamer: ‘n Coca-Colakassie waarin Ouma storieboeke van vergange jare bêre vir snipsnaters wat leesgierig is.

Waar gaan ek heen met hierdie goed? Wie op aarde sal waarde
daaraan heg, behalwe net ek?
En so met die fotonemery van “ou goed” hier in ons huis, roep Chris ewe uit die kombuis vir my: “Moenie my voëltjies vergeet nie!” Ons sal nie “sy voëltjies” ooit vergeet nie. Drie pragtige waterverf-skilderytjies wat hy iewers gekoop het. Ek het dit vir hom laat raam en dit hang teen sy muur en klaarblyklik ook in sy hart.

Ons sal die voëltjies maar moet saamvat. My man sal nie
gelukkig wees daarsonder nie. Ek ook
nie.....
Toe ek vanoggend deur die huis stap en alles met ander oë bekyk, was ek weer opnuut bewus daarvan hoe verganklik alle dinge is.
Toe ek vanoggend deur die huis stap en alles met ander oë bekyk, was ek weer opnuut bewus daarvan hoe verganklik alle dinge is.
Hier was ek en my “kêrel” nog bloedjonk. Ons het mekaar nie toe geken nie, dit het
eers later in ons lewens ‘n ook ‘n storie geword, ‘n baie gelukkige storie met
‘n gawe inleiding, ‘n boeiende verhaal en wie weet….’n gelukkige einde.