Elizabeth Kendall ©
"Life is a great, big canvas and you should throw all the paint on it you can!" Danny K.
Sunday 16 September 2012
Friday 7 September 2012
Die wete.
Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê
en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te
glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n
heerlike wete.
Dis gerusstellend,
vertroostend, bemoedigend, verkwikkend. Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus.
Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak
dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies.
Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien
en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die
agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan
die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike
gevoel van afwagting. Ná die milde reën ontwaak die wêreld: die tuin begin blom, die vinkneste swaai
vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind.
Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut. Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te
bly!
Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe
met ‘n lied in ons harte. Selfs al sou
ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my.
So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op
die plaveisel my ook sê. Daarom stap ek en jy moedig deur die donker skaduwees tot by die
lig. Ons is nooit alleen nie. God is in
beheer. Hy is elke dag by ons.
Saturday 25 August 2012
Na baie jare.
Ek droom. En ek pak
in en ek gee weg. Ek maak minder. Dis tyd. Alles nog net in my gedagtes. En in my gedagtes begin ek ook koebaai sê. Koebaai aan die kransduiwe, die tortels, die
lagduifies. Ja, al die voëls wat
daagliks hier by Krugerstraat se hoekerf kom inloer het, hul dors kom les het
en dalk ook iets lekkers gekry het om te
eet.
Ek sê koebaai vir my
koue huis, my vier mure teen die suidewind.
Geërf van my liewe Pa. Houtvloere wat praat, stories vertel van baie
kuiers, selfs skinder as tienerkinders laatnag sou insluip. Toe kon ek met ‘n geruste hart aan
die slaap raak, wetende almal is nou veilig tuis.
Sewe, amper agt jaar
lank het ek alleen hier geswoeg en gesweet en my vier kinders grootgemaak. Die herinneringe wat hulle van hul Ma-se-huis
het, is vir altyd mooi. Ek glo so. Ek het my bes gedoen. Die Here het my elke dag
krag gegee. As ek moedeloos en bekommerd
was, het Hy iemand gestuur om my te bemoedig. As ek alleen gevoel het, het ek
Sy stem in die ritsel van die akkerboom se blare gehoor of Sy sorg gesien in my tuin. Pienk bloeisels
aan die perskeboom na ‘n koue winter, appelkose wat in geelryp trosse hang, net
reg vir pluk en konfyt kook.
Hierdie huis was my vesting. Hier het ek weer vrede kom kry,
dit vasgehou en gekoester. Ek was
dankbaar. Die tuin het my besig gehou.
Ek ken elke klip. Die paadjies wat ons met plaveistene gepak het, die fontein
wat my verjaarsdagpresent was een jaar toe ek nog skoolgehou het, die struike,
die plante wat elke winter doodryp. Kom die lente, dan ontwaak alles weer van
vooraf. Nes my eie lewe.
Ek ken die wonder van
verskillende seisoene hier in Bronkhorstspruit.
Koue, koue winters en houtstompe in die antrasietstofie. Lentes wat oopbars en bloei en bot. Herfsblare
wat die hele erf vol lê. Ou Jacob wat
elke jaar aangesê word om
die blare tog maar doodstil te laat lê, want dis “my blommetjies se
kombers.” Warm somers en bekers vol
heerlike boorgatwater. Nêrens proe water mos soos by jou eie plek nie.
Toe Chris
my man word, maak ons alles wat stukkend is, heel. My hart ook. En syne. Ons
laat lê plaveisel buite. Ons haal die
matte binne uit en skuur die houtvloere blink.
Die ou vensters word vervang met houtraamvensters. Ons verf en maak
mooi. Ons woon storieboek-gelukkig in
ons ou huis. Vir vyftien jaar nou al.
Maar nou
droom ons. Want ons mag. Ons droom van Bosveldsomers, van kanniedood en
maroela, van hardekool en bougainvillas wat persblou blom. Ons droom van ‘n
splinternuwe plek, ‘n plek waar ons nuwe voetspore gaan trap. Daar waar
houtkappers en mikstertbyvangers en
troupante die bome bewoon. Waar louwarm dae soos heuning vloei. Waar vars lug
verniet is. En ons weet en glo ons drome gaan waar word.
Thursday 23 August 2012
In woord en beeld
Dis my liefde vir ons taal wat maak dat daar soms verse "gebore" word. Dikwels ook lekker om dit te kombineer met iets wat ek geteken, geskilder of gekiek het. Ek plak 'n paar van my gunstelinge hier vas, hoop julle geniet dit!
Neem my saam op die sandpad,
daar waar tyd aan 'n doringboom hang
hou my hand styf vas in joune
en sê dat jy ook so bietjie verlang.
Monday 13 August 2012
Glo net
Geloof kan berge verskuif
Geloof kan jou oplig en jou abba
Geloof is ‘n vashouplek -
‘n stukrag en ‘n anker
Geloof reënboog ‘n vaal dag
Geloof is krag
Geloof is moed
Geloof het net ses letters
Geloof is goed
Geloof kom lê ‘n hand op joune
Geloof fluister vuurwerke
in jou binneste
Geloof groei
en prewelbid
wanneer kleingeloof jou hele mens vol sit
Elizabeth Kendall ©
Sunday 12 August 2012
Sondagstilte.
Labels:
blydskap,
genade,
kerriekos,
saamwees. winter,
vrede
Ek dwaal op die digblaaie rond. Ek lees die seer van mense raak.
En ook die bly. Die lewenslus, die vreugdes, die warm menswees. En in die
kombuis maak hy vir ons kerrie. Die aartappels lê warmsag en prut. Die geur
daarvan maak ons huis ‘n lekker plek. Oor die radio speel die heelmooiste musiek.
Die tortels koer vredeverse.
En die koue winterwind het gaan lê.
Monday 30 July 2012
Alles is genade
Labels:
dankbaarheid,
genade,
seëninge,
skilderye,
verkope
Ek voel geseënd. En dankbaar. Aan die
begin van 2012 het ek vir die Here gevra dat ek asb. elke maand net een
skildery sal verkoop. Net een. Dit sou genoeg wees om my hart te laat bokspring
van blydskap.
Ronell Marais wat saam met my gedigte
skryf en woorde liefhet, kom kuier een Sondag al die pad van Alberton af. Sy
koop “Five trees”. Ek gee haar ‘n ongeraamde prentjie present omdat sy agter my
aangery het en ons word meer as net kennisse.
Skilderye bind mense aan mekaar vas. Dit vertel stories. Dis lewe.
In Meimaand skilder ek weer ‘n rivier
en bome terwyl ek droom van heerlike somersdae in die natuur. Sanne-Marie koop
dit. Die verf is nog skaars droog toe sy sê sy wil dit hê. My beker loop oor.
Ek laat dit mooi raam en Sanne kry dit by my Maureenkind se huis in Pretoria.
Ek plak my prentjies vas op facebook. Ek het mos tyd. Wie nie waag nie, sal nie
wen nie.
Daar is min dinge so bevredigend en
so lekker as om te kan weet dat daar iemand is wat bereid is om jou werk te
koop. Die wêreld is vol mense. Elkeen het sy eie smake en voorkeure. Die wêreld
is vol kunswerke.
Duisende kunstenaars verkoop werk op
straathoeke, by vlooimarkte, in galerye of sommer so uit die vuis. Vir my is
die gerief en die gemak van die internet ‘n wonderwerk waaroor ek my daagliks
verbly. My kuns is op drie verskillende webblaaie: RedBubble, Paintings I love
en South African Artists.com En o ja, ek het ‘n facebookblad ook: Elizabeth se kuns/ Elizabeth's art. Ek hou alvier hierdie plekke aan die gang. Kort-kort
gooi ek kole of dun houtjies op die
vuur, die vlammetjie moet aanhou brand. Iemand mag kom “hande warm maak” op
enige een van dié webwerwe. Iemand mag kom loer en met ‘n warm binneste weer
wegstap, want God het my ‘n talent gegee en ek wìl dit graag deel.
In my (soms) kleingeloof, het ek eers
anderdag besef dat my stil gebed nog elke maand beantwoord was. Sedert Januarie
het ek elke maand een of meer skilderye verkoop. Dié wete laat my klein en vol
verwondering. Die Here sorg vir ons. Ons moet Hom net vra en vertrou. Ons moet
dankbaar lewe en ons talente gebruik en oefen. Ons moet nooit moed opgee nie.
Hy is getrou. Hy gee meer as waarvoor ons vra.
In Januarie verkoop ek ‘n groot
skildery aan Kara van Toronto. Ek noem dit: “This is Life!” Dis met ‘n paletmes
gedoen. ‘n Massiewe golf blou see. Sy ontvang dit met blydskap en hang dit
bokant haar bed…..ver, ver oor die blou waters wat ons skei. My hart juig!
In Febr. laat weet South African
Artists.com se Marina Eilers my dat twee abstrakte skilderye ‘n baas soek. Ek
maak die pakkie op met ‘n lied in my hart.
Voordat Februarie verby is, bestel
Liesl Greyling op fb ‘n kleinerige skildery wat ek op x-straal gedoen het.
“After Alfred” kry ‘n baas en ons voel altwee in ons skik. Sy sal dit self laat
raam.
Ek skilder elke week iets. Sommer net
omdat dit my soveel genot verskaf, omdat ek kan en omdat ek wil. Ek neem foto’s
van my kuns en laai dit op die kuns-webwerwe. Ek geniet die kommentaar van
vriende, kennisse en mede-kunstenaars. Ek geniet hulle kuns ook. Ons inspireer
mekaar, moedig mekaar aan met opregte lofuitinge. Dis so bevredigend.Dis so
sielsverrykend heerlik!
In Maartmaand verkoop ek weer twee
skilderye: “A river in Africa” Hoe baie het ek dit nie geniet om dié
natuurtoneel te skilder nie! Willem van die boekwinkel op die dorp koop dit en
ek en hy gaan soek ‘n gepaste raam uit by Sarie se raamplek. Willem hang my
skildery in sy kantoor op, almal kan dit sien. Ek voel so bly.
Intussen kom kuier Linda hier. Sy
bestel ses windpompe. Ek doen dit in waterverf. Nie baie groot nie, maar tog ‘n
heerlike uitdaging. Sy maak fotostate daarvan en plak dit op blikke vas wat sy
versier: “Pa se bêreblik” noem sy dit! By Willem Prinsloo se Mampoerfees
verkoop sy haar blikke. Die oorspronklike windpompe gaan sy laat raam en in
haar huis ophang, al ses van hulle. Dit was Meimaand se ses seëninge.
In Junie toe die koue al goed begin
knyp, sien een van Maureen se
fb-vriende die blou rivier en groen bome
raak op haar blad, want ek en my kinders deel mekaar se blydskap en hartseer. Die prentjie rààk sy hartsnaar, want daar waar
hy bly in Michigan was groot veldbrande en sy geliefde landskap is afgebrand.
Sy herinneringe was besig om te vervaag. Toe hy die blou rivier sien, spring
daar ‘n duidelike beeld van beter tye voor sy oë op en hy bestel ‘n soortgelyke
skildery by my. Ek verf dié keer op ‘n lekker groot geblokte doek. Heerlik! Ek
voel dolgelukkig dat my handewerk in ‘n ver land oorsee gaan hang en iemand se
hart gaan bly maak. Die blou rivier kronkel tussen die berge in, ‘n lafenis vir
die siel.
Steeds Junie en weer bestel
Sanne-Marie ‘n skildery: sy wil twee hê wat langs mekaar kan hang. Twee wat
bymekaar pas en hande kan vat. Ek sê dankie en doen my bes. Dis die einde van
Junie en Bronkhorstspruit is koud, maar my hart is warm en vol vreugde want ek
geniet wat ek doen!
Ek koop meer verf by Jimnettes in
Pretoria, ek speel met kleure op die x-straalplate. Die paletmes ken sy pad. Ek
verloor myself tussen die verfpotte!
‘n E-pos van ‘n onbekende man kom lê in my
posbus: sy naam is Omar en hy woon in Engeland. “Is die skildery: “Getting
Lost” wat op PIL was, nog beskikbaar? “ vra hy in Engels. “Dit is nog
beskikbaar” sê ek, ook in Engels. Ek laat dit vir hom raam, netjies en met
montering en glas voor. Sarie doen uitstekende werk. My Omar-ondersteuner klim
op die vliegtuig, klim in ‘n motor en ry van Johannesburg tot in Bronkies om
die skildery persoonlik te kom haal. Hy bring een van sy kollegas saam. Hulle
bekyk al my werk wat hier in die voorste kamer uitgestal is. Ek bewe van
opgewondenheid, neem ‘n foto van hom met sy skildery in sy hande. Hulle wil nie
koffie of tee drink nie. Ek gee vir hulle pasteitjies vir die pad. Hy belowe hy
gaan nog iets bestel, eendag vorentoe. Ek is so bly soos ‘n kind wat ‘n blink
geldjie in sy skoen ontdek na ‘n Tandemuisbesoek. Nee, ek is nog blyer as dit,
want Omar se kollega koop ‘n skildery wat al lank hier by my staan. Is dit maar
net toeval dat dié
skildery se naam: “Heaven is a beautiful place” is…..ek glo nie.
Juliemaand breek aan. Dis koud. Dis stil. Dis winter. Die gras is vaal en die bome kaal. Ek verkoop niks. Dis die 28e, die maand is amper verby. Ek maak koffie in die oggendure in ons koue kombuis en kyk op my foon na die boodskappe: Twee skilderye is van South African artists.com af bestel. Ek jubel! En ek dink aan my gebed. En ek weet. Dis die Here. Hy seën my so. Ek vertel vir Chris. Hy stem met my saam. Ons saam blywees word ‘n dubbele blydskap. Vandag is dit Maandag, ek gaan netnou poskantoor toe om uit te vind wat die posgeld sal wees. Iemand in die Kaap gaan twee skilderye teen sy muur ophang.
skildery se naam: “Heaven is a beautiful place” is…..ek glo nie.
Juliemaand breek aan. Dis koud. Dis stil. Dis winter. Die gras is vaal en die bome kaal. Ek verkoop niks. Dis die 28e, die maand is amper verby. Ek maak koffie in die oggendure in ons koue kombuis en kyk op my foon na die boodskappe: Twee skilderye is van South African artists.com af bestel. Ek jubel! En ek dink aan my gebed. En ek weet. Dis die Here. Hy seën my so. Ek vertel vir Chris. Hy stem met my saam. Ons saam blywees word ‘n dubbele blydskap. Vandag is dit Maandag, ek gaan netnou poskantoor toe om uit te vind wat die posgeld sal wees. Iemand in die Kaap gaan twee skilderye teen sy muur ophang.
In Augustus bestel Omar van Engeland drie skilderye wat ek al in 2010 voltooi het. Dié drie lê my na aan die hart. Ek het dit laat raam en dit hang in ons kerk se jeuglokaal .....om kinders en jongmense bly te maak, sou hulle daarna kyk! Omar en sy vennoot is baie besig en kry nie juis kans om Bronkies toe te kom nie. Ek gaan haal die skilderye en maak dit staan hier in die voorste kamer.....en ek wag maar geduldig. Op 20 September kom haal hy sy skilderye....en gee my sommer 'n piksoen op die wang! Dis vir sy dogtertjie wat tien word se verjaarsdag. Mag dit haar elke dag bly, blyer, blyste maak! Toe hy groet, sê hy vriendelik: "We'll keep in touch!" 'n Reënboogbelofte aan my horison!
In Augustus kry ons lekker kuiermense, vriende van baie jare. Ons blaai deur die kunswerke: waterverf, akriel, olie......ek deel twee uit sommer net omdat dit lekker is en omdat ons mekaar jare der jare al ken. Retha koop een.....heerlik! Boomstamme teen die blou, met waterverf gedoen. Ek voel so bly!
Op 7 Oktober verkoop ek aan Estelle Duvenhage van Vredenburg (ook iemand wat lief is vir ons taal en woorde) 'n skildery wat ek in olieverf gedoen het. Heerlik gespeel met die paletmes! Ure en ure se genot wat hier vasgeverf lê. Dankie Estelle, vir jou wonderlike ondersteuning. 'n Paar jaar gelede het sy my ook ondersteun en 'n akriel-skildery van 'n maan gekoop, ek was so dankbaar. Sy geniet dit steeds, so sê sy.
Op 'n heerlike reënerige dag in November, die 8e om presies te wees, kom Grietha Opperman by ons hekkie ingestap. "Ek kom my skildery haal!" groet sy vrolik met die intrapslag. Musiek in my ore!! ♪♪
Sy koop "Die meisie met die pêrel oorring" (Hollands: Het Meisje met de Parel), dis een van die Hollandse skilder Johannes Vermeer se meesterstukke gewees en ek het dit 'n paar jaar gelede in die kunsklas by Riana Dippenaar voltooi. Dis in akriel gedoen en geraam. Grietha betaal my en ek en sy is beide in ons noppies!
Dankie Here.
Ek weet dis U groot genade.
Sunday 29 July 2012
Vriende
Ons was jare en jare en jare lank vriende. Wim en Laura. Soos
sout en peper. Deel van ons daaglikse
bestaan.
Wim en Laura. Toe hy sestig geword het, het hy ons almal na
sy verjaarsdag genooi by die dam…. Laura het so baie moeite gedoen, die mure was
met foto’s van hulle ervaringe en avonture versier. Vriende en familie was daar
van oraloor. Stories en grappies is vertel.
Ons het laat eers huistoe gegaan. Heerlik gekuier. Skatryk gevoel.
Wim en Laura. Ek en sy was een maal saam op Aardklop. Ons
twee het in ‘n koshuiskamer by Potch Universiteit gebly en elke dag ten volle
benut tussen stalletjies en tente, tussen konserte en sang. Ons het dit so geniet! Hande geklap en op en
af gespring saam met die jonges toe Ray Dylan en David Fourie en wie nog almal sing.
Ag dit was heerlik. Hartsgoed gedeel.
Wim en Laura, Mara en Gerhard. Ons. Kuier
saam op ‘n Sondag na kerk, braai ‘n vleisie en lag en lag en lag. Praat strooi
en praat diep. Deel mekaar se kommers, deel mekaar se blywees.
Toe ek en Chris nog nie ge-eg was nie, gaan kuier ons by
hulle waar hulle karavaantjie langs die Wilgerivier staan, ons swem in die
rivier, ons brand bloedrooi in Afrika se warm son, ons eet slaai en broodjies
en braaivleis. Ons teug aan ‘n saamweeswyn.
Die wêreld is wonderlik.
Voor Chris my lewe binnegewals het en ek sielsalleen moes
regkom met vier kinders, laai Wim my op en piekel my saam na ‘n Voortrekkerkamp
waar Laura al wag. Langs die pad gesels ons aanmekaar. Hy vertel my van sy
kinders, van Laura en hoe lief sy vir die natuur is. Wim is my vriend, Laura my
vriendin. My kinders is sonder ‘n Pa. By die kamp tel Wim vir Liesl wat toe in St. Een was, op sy skoot
en Pa haar.
Wim en Laura. Ons kinders en hulle kinders. Ons vra mekaar
uit. Ons deel ons lewens. Ons kuier dikwels. Ons is altyd bly om mekaar te
sien. As hulle dorp toe kom, eet hulle sommer hier. As ons Bosveld toe gaan,
maak ons ‘n plan om ‘n draai by hulle te maak, veral in die winter.
Toe kry ek ‘n sms. Wim het ontsteking in sy voet. Hospitaal
toe in Warmbad. Hospitaal toe in Pretoria. Been en voet afgesit. En nou is dit
sestien, nee sewentien dae later en Wim is nie meer met ons nie. Hy is by die
Here. Wim en Laura. Tot gister.
Wim is dood. Ek bel Laura vanoggend. Ons huil in mekaar se
ore. Ons trooswoorde word roeispane in elkeen se bootjie. Die lewe wag vir
niemand nie. Ons harte en ons deur is oop vir Laura. Vir altyd. Ons weet wéér ons
word almal ouer. Dis ons wat wik en God wat beskik.
Ons herinneringe bly vir altyd. Donderdag verjaar my Chris.
Donderdag word Wim begrawe. My hart is seer. Laura bly alleen agter. Laura, ons, Gerhard en Mara
en die Here.
Elizabeth Kendall ©
Thursday 26 July 2012
My duiwe
By die waterbak hier in ons tuin
daal blou duiwe daagliks pofveer neer
Toontjies pienk en pragtig,
vredeversies in vlerke toegevou
sing hul sag hul weemoedwysies
vir my en ook vir jou
fladderveer en klouter
trap hul op die huis se dak
soms laat hul my toe om stil te kyk
hoe hul vlerksleep en kafoefel
sirkeldraai teen blou, blou lug -
skemeraand se tuiskom na 'n dag se vlug
Elizabeth Kendall ©
Sunday 22 July 2012
Goeiemôre!
Dis half sewe. ‘n Sondagoggend in Juliemaand. Agter die donker
takke van die groot ou akkerboom voor ons huis, vou ‘n nuwe dag sy ligblou
laken oop. Ek was al vroeg wakker. Twee
boepensbekers koffie verder en ek hoor die duiwe buite gesels. Op die huis se
dak sit hulle met opgepofde vere. Vanoggend is nie so erg koud nie.
Ek sit hier en dink.
Ek dink aan my mense: my kinders, my
man, my vriende. Ek dink aan die
wonderwêreld wat die internet vir ons
geskep het. Gister kon ek op facebook
sien my niggie in die Kaap wil haar klavier verkoop. My ander niggie in Alberton se kleinkinders
kuier by haar vir die vakansie. Vanoggend het ek saam met Magriet van Tolwe
verlang na die lente. Môre sal ek weer met mense op die nuwe kunswebblad gesels
wat ek waarskynlik nooit in my hele lewe ooit gaan ontmoet nie. En dit nogal in
Engels! Dis ook al plek waar ek deesdae Engels praat…op die internet.
Ek het onlangs my oorlede Pa se neef Kosie op ‘n gedigteblad
raakgelees. Wat ‘n heerlike herontmoeting! Iemand stuur ‘n e-pos met mooi musiek en
Vincent se skilderye en ek sing hartlik saam: “Starry, starry night!” Elke môre groet Maree van Tarlton, Pieta van Kleinmond en die
uwe mekaar op Redbubble. (Ek “werk” mos
eintlik daar: ‘n Gasvrou vir die groep
AFRIKAANS. Dis so lekker! Ek en Maree
ontvang foto’s en kuns van oraloor in die wêreld. Daar is so baie talentvolle
mense op Moederaarde en ook in die kuberruimtes. Ons deel baniere uit en reël uitdagings
in ons groep. Ons kry self ook hope inspirasie deur net na al die interessante
en mooi werk van ander te kyk en dit te waardeer.)
Op facebook is ‘n magdom interessante gedigtegroepe. Dis wonderlik om myself te “verdrink” in
talentvolle digters soos Erna Jo, Marie Bredenkamp, Naudé Kritzinger , Francois
Viljoen en nog baie ander se lieflike digwoorde. Ek kan nog so baie by hulle
almal leer. Ronell Marais se absolute
lewensvreugde is ‘n daaglikse inspirasie.
Baie maal, as ek na my kinders verlang, loer ek wat op hul
profielblaaie aangaan en weet ek dis weer hoogtyd vir lekker saamkuier in
lewende lywe. Aanlynkuiers verskil grootliks van die ware Jakob, al troos dit
in ‘n mate.
Die belangrike ding om te onthou in vandag se wêreld met
allerlei kommunikasiemiddels wat tog so gerieflik en gemaklik kan word, is dat ons steeds tyd moet maak vir mekaar en
vir die dinge rondom ons. Ons moet gebalanseerd lewe. Om buite in die vars lug
rond te loop of net stil te sit en luister na die voëls in die tuin, ‘n akkedis
te sien wegglip tussen die vetplante en aan die einde van die dag die lug te sien verkleur in die weste….dis alles lewensbelangrike sielskos.
Mag jou dag vol mooi wees: ingekleur met God se genade, vandag,
môre en ook oormôre. Mag jy vreugde vind in die klein dingetjies, tyd maak vir
dit wat werklik geluk en blydskap bring……stil word in jou kleinheid en jubel in
jou grootsheid. En mag ons mekaar
aanvaar net soos ons is. Elke dag is ‘n leerskool en bied nuwe uitdagings.
Mooi loop tot volgende keer!
Monday 16 July 2012
Winter
Oor ‘n wye, ysige vlakte
op ‘n plaaspad ver van hier
sing suidewind ‘n solowysie
al asof sy groete stuur
daar waar ‘n hek –
geroes, geanker
krom teen koue kaaltes hang
dui heiningpaal, verwese
lang verlore baasskap aan
‘n Sneeukombers strek oor die bulte
en weeskind wuif die veld -
Geloof was net ‘n stippel
in kommerharte vasgespeld
steeds sing suidewind so solo
en wag op weersiens bly -
tot eendag wanneer dié plaas
‘n baas en léwe weer sal kry
Elizabeth Kendall ©
Thursday 12 July 2012
Met die kamera in die hand
Daar is mooi oral om ons heen...
Ons moet dit net raaksien, tyd maak....
Ek kan nooit genoeg van klippe kry nie: rondes, plattes, growweriges, skurwe ou boepensklippe...
eendag moet hulle maar 'n KLIP op my graf sit en nie 'n koue marmersteen nie.
Klippe is so vriendelik.
Hoor jy die wind?
'n Flenter vreugde!
Subscribe to:
Posts (Atom)