Friday 7 September 2012

Die wete.


Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n heerlike wete.
 Dis gerusstellend, vertroostend, bemoedigend, verkwikkend.  Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus. Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies. 
Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike gevoel van afwagting. Ná  die milde  reën ontwaak die wêreld:  die tuin begin blom, die vinkneste swaai vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind. Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut.  Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te bly!

Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe met ‘n lied in ons harte.  Selfs al sou ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my. So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op die plaveisel my ook  sê.  Daarom stap ek en jy  moedig deur die donker skaduwees tot by die lig. Ons is nooit alleen nie.  God is in beheer.  Hy is elke dag by ons.
 

2 comments:

  1. Die reën bring beslis allerhande lekker en soete gevoelens en 'n lied in die hart! Nou kan ons uitsien na tuine wat gaan ontplof in groen. Ek lief ook daai klank van die reën op die dak, die lekkerste slaap ooit!

    ReplyDelete