Showing posts with label vreugde. Show all posts
Showing posts with label vreugde. Show all posts

Monday 22 February 2016

Die pasellas in die lewe !

Op facebook behoort ek aan die heerlikste en interessantste gedigtegroep nl. Versvreugde en Woordgenot. Ronell Marais is die "skeepskaptein" en met haar liefde vir Afrikaans, aansteeklike humor, spontane en liefdevolle geaardheid en lus vir die lewe, maak sy dit vir almal wat deel is van dié blad 'n tierelier-plesier sonder einde! 
So was dit ook vir my 'n heerlike verrassing om gister te sien hoe sy in die blad se argiewe gaan rondgrawe het en op dié onderhoud afgekom het wat drie jaar gelede gepubliseer is. Ek deel dit graag met almal wat wil saamlees. Daar het so baie gebeur die afgelope drie jaar in ons lewe, maar feit bly staan: elke dag bly en is steeds 'n geskenk uit God se hand. 


VEERTIEN VRAE MET ELIZABETH KENDALL (Versvreugde en Woordgenot) – Des. 2012.

1. Liefste Elizabeth, vertel ons eerstens van jou wortelwêreld en jou geliefdes.
Eers net dankie sê vir die wonderlike eer om te kan deel op “Nella se blad”, ‘n allerlekkerste lees-en verdwaal-in-woordeplek! Baie dankie Ronell, ek voel geëerd.


Ja, wortelwêreld is dit beslis! Bronkhorstspruit. Hier aangekom uit Johannesburg toe ek vier jaar oud was, op ‘n plaas gebly tot ek elf was en toe in die dorp in hierdie huis waar ek nog steeds woon. Bus gery skooltoe en my vergaap aan die Matriekseuns se welige beenhare! Ek was ‘n skaam kind gewees. Gelukkig het ek later besef dis BAIE lekker om te kan praat.
Ons wou onlangs verhuis na Die Oog Aftree-oord in Naboomspruit, was totaal in vervoering oor die plek en toe kry ons dit nie reg nie. Nou is ons tevrede en baie rustig. ‘n Mens verplant nie so maklik ‘n ou boom nie!
My geliefdes, my naby-mense is vanselfsprekend Chris. My man en maat en kosmaker! Een van my eerste vrae aan hom toe ons sestien jaar gelede ontmoet het, was: “Kan jy kosmaak?” Toe hy “Ja!” sê, het sy aandele natuurlik hemelhoog gestyg…. hy is ‘n omgeemens, ‘n steunpilaar. Ek lief hom ernstig. Hy het my heelgemaak toe ek versukkeld en maer en bitter broos was. Ek dink nie ek kan genoeg dankie sê dat die Here hom vir my gegee het nie. Toe my Pa nog gelewe het, het hy altyd gesê hy bid dat ek ‘n goeie man kry. En dit het gebeur. Chris is “uitgebid.”
En natuurlik al my kinders en ons kinders: myne en syne, (ons was toe al te “oud” vir “ons s’n!” ) Ek het vier en hy het twee. ‘n Hele huisvol! Saam het ons nege kleinkinders, elkeen uniek en wonderlik….mos!

2. Waar is jou hart se punt?
My hart se punt(e) lê ons hele mooi land vol: die Weskus, die Bosveld, die bergwêreld van Magoebaskloof en sommer ook net hier onder my Ma se akkerboom.

3. Wat is die dinge wat jou seën?
Die natuur en al die wondelikhede wat daagliks voor my oë kom staan: ‘n duif by die waterbak, klein dingetjies, erkenning wanneer mens dit die minste verwag. Liefde.

4. Hoe bederf Elizabeth haarself?
Ek “verdwyn” van die aardbol af, luister na mooi musiek, skilder….veral met die paletmes. Kan dit vir uuuuure doen, salig!

5. Hoe skep jy asem?
Drink chai-en-rooibostee met ‘n  teelepel heuning daarin onder die karee en kyk na die voëls in die tuin, kamera in die hand! Of ons klim in ons Polo en ry net…..bosse toe, berge toe. Selfone en rekenaars af!

6. Jy is so ‘n kreatiewe gees. Vertel ons van al jou kreatiewe ysters in die vuur… (ek weet jy kan skryf, skilder, tuinmaak, foto’s neem en dies meer…)
Ek moet besig wees. Anders word ek oud! Glimlag. Ek en Maree Clarkson (sy het ‘n tyd gelede na een van my kunsuitstallings hier in die tuin gekom en woon in Tarlton) het ‘n groep op die internet (RedBubble) gestig genaamd AFRIKAANS. Hier speel ons lekker: ontvang foto’s, kuns en soms ook skryfwerk van ons lede, hou uitdagings en ek doen eenmaal per maand ‘n “Sondagsiesta”. Dan “steel” ek al die talentvolle digters wat ek al in my lewe in lewende lywe of op die internet ontmoet het, se lieflike gedigte en stal dit uit vir die hele wye wêreld om te lees en te geniet! En dit gaan maar alles net oor my groot liefde vir ons taal.
Hier is die skakel as julle wil gaan loer!
Ek skryf soms ook op my blogs: Kreatiewe Joernaal, Speel-speel, Lizzie loves painting! en hier kan jy my skoolhoustories kom lees, alles WARE verhale: Stories uit my skooltas

7. Watter kleure tref mens aan op jou palet van vreugde?
Groen, groener, groenste! Soos bome. Jy sal mos verstaan.

8. Jy is so geliefd…waaraan sou jy dit toeskryf?
Ai Nella. Genade. Net genade. Dis nie moeilik om vir julle lief te wees nie!

9. Wat is volgens jou die diepste put van ellende?
Om niks te kan hê om na uit te sien nie….om sonder hoop te moet lewe.

10. Hoe maak Elizabeth haar wêreld ‘n beter plek?
Ek leer baie by Chris. Hy deel graag. Ek probeer ook….omgee vir ou mense, vir alleen-mense. Regtig belang stel, nie net bolangs nie. En ja, as ek dalk miskien wil-wil onvergenoegd voel, dan dink ek maar aan al die seëninge wat daagliks verniet voor my deur kom lê: gesondheid, ‘n sin vir humor (‘n dag sonder ‘n lag is ‘n verlore dag!) en nog vele meer.

11. Wat beteken Desembermaand vir jou? Is jy ‘n feestydmens?
Desember het sy eie woorde: afskakel, rus, oordink…. saamwees, kuier. Dis ‘n groot present om saam met kinders te wees op Kersdag (veral) en ja, hierdie jaar gaan ons by seunskind en my Engelse skoondogter kuier en dit so geniet. Vir hulle ‘n eerste Kersfees in S.A. nà baie jare in Engeland. Spesiaal.

12. Hoe lyk ‘n tipiese dag in die lewe van Elizabeth?
Taamlik rustig op dié stadium: of in die tuin aan’t vroetel of hier voor tussen die verfpotte en as die muse my per geluk beetkry: tussen die woorde. En o ja, in die nuwe jaar ook weer baie betrokke by ons plaaslike VLU. En dis nie net vir ou tannies wat hekel en koekies bak nie. Dis regtig lekker en ons doen heerlike en inspirerende dinge.

13. Wat verkies jy – see of bos, rooi of blou, vanilla of aarbeigeur, tee of koffie, prosa of poësie, introverte of ekstroverte, potjie of braai, blond of brunet, soet of sout, stap of huppel?
Sjoe! See EN Bos. Rooi….pure lewe! Blou: wanneer ek “sag” voel…. Tee, so 2x per dag! Koffie: soggens voor die dag begin, ruik hemels! Introverte: ‘n uitdaging om hulle aan die praat te kry. Ekstroverte: mal oor hulle! Potjie: beesstert , njammmmmm! Braai: niks soos ‘n lekker braai en kuiers-vir-ewig nie! Soet of sout: liewers sout….was lank genoeg “soet”! Stap en huppel! Die lewe is ‘n lied.

14. Wat is die mooiste woorde wat jy in jou hart koester?
Daar is so baie…. Toe my oorlede Pa vir my gesê het: “Sussa, jy moet jou sleutels onthou my kind!” (hy het my o.a. verantwoordelikheid geleer)
Toe Chris vir my heel aan die begin van ons verhouding sê: “I could have drown dead!” ……gaan nie verduidelik nie….
Toe my kind op fb sê: “My Ma, ek is so bly oor jou!”
Toe my kleinkind sê: “ Oumaaaaa, wanneer verf ons?”

15. Wat was die hoogtepunt in jou lewe?
Die dag toe ek besef het God het my gebede verhoor.

16. Hoe bly jy so jonk? (Nie dat jy oud is nie…)
Oe, dankie…..ek’s aankomste jaar 65! (soos die oumense sou seg!)
Ek gee oor. Ek probeer nie meer “self” alles regkry nie. Die Here sal my help en krag gee, elke dag. Vir ons almal. Glo dit net.

17. Gee ons ‘n boodskap van hoop, liefde en vreugde om in ons harte te bêre…
Hoop: Moenie ophou droom nie. Nooit. ( Ek het al klaar ‘n droompie reg vir 2013…..)
Liefde: Wees jouself. Almal verskil. Wees wie jy is. Maak jou oë oop, daar is baie mense om jou wat net één woord nodig het. Gee dit vir hulle. Dit kom tienvoudig terug na jou toe…op ‘n vaal dag as jy dit nodig het. Wag net.
Vreugde: Lag! Lag baie. Word weer ‘n kind. Kyk met nuwe oë na ou dinge.


Saturday 31 January 2015

'n Wandeling deur die tuin

Iemand het eendag gesê: "Jou eie tuin moet net vir jouself mooi wees, dan is alles reg!" Nouja, dis wat hier by my gebeur. Ek en my ou "tuiningenieur" kom al 'n lang pad saam. Ons verstaan mekaar. My tuin is 'n bron van vreugde, 'n plek waar ek kalmte vind. 'n Plek waar ek kan wees, asemhaal en luister. 'n Plek waar ek kan rondkyk en my verwonder aan die natuur. Daar wag elke dag iets nuuts, mens moet net kyk.

Vanoggend sit daar 'n hadida by die fontein. Die magrietjies is al besig om te groet. Vir baie mense is 'n hadida net 'n skreeubek, maar vir my is hulle mooi. Die bloedrooi lipstifstreep op daardie yslike snawel is so uniek.

Hier is baie duiwe in ons tuin. Kransduiwe mors, maar ons gee nie om om skoon te maak nie. Kyk hoe mooi blink sy oog in die rooi-en-witraam brilletjie! 
Die vaatjie-kaktus in die groot pot aan die voorkant van die huis groei lustig! Ek wonder hoe groot gaan dit word en of dit my eendag gaan verras met 'n eksotiese blom. 
'n Week gelede het die Pride of India nog pragtig pienk geblom, maar nou is sy tyd ook alweer verby. 
En hier is ons twee hondekinders: Hagar en Brakkies, my getroue bondgenote. Tog altyd so stertswaaibly as ek buitetoe kom. Kyk net hoe glimlag hulle. 
Op 'n dag skryf ek 'n vers:
Nà die reën

Die dag vlerk oop in groen akkerblare
in ligpers agapanthe onder die karee
dit rol oor die huis se dounat dak
mossietjirp deur die tuin
verby laventelbos en roosmaryn
waar dit ‘n ligblou lêplek soek
en later wegkruipertjie speel
met ‘n goudgeel  middagson

Elizabeth Kendall ©

My wens vir jou wat hier lees, is: Geniet jou tuin, geniet jou Saterdag, geniet die lewe! 

Tuesday 18 March 2014

Herfs is mooi

Herfs kom vroeg vanjaar of verbeel ek my? Aan die buitekant van ons erf staan 'n boom waarvan die blare elke dag anders lyk. Elke dag meer geel, meer bruin, meer herfserig...



Herfsvreugdes

As herfs sy bruine en sy gele
en sy pasella rooi
oor my werf in warrelende blare strooi
dan jubeljuig ek sommer so vanself
want geen seisoen maak my so baie bly
as hierdie een met sy sagte
 tusssen-in seën

Elizabeth Kendall ©



Thursday 27 February 2014

Buite is lieflik!

Hoe diep kan 'n mens se wortels in 'n plek in groei? Ek wonder. Ek put daagliks genot daaruit om hier in my eie "paradys" rond te wandel en die eenvoudige dinge te geniet. Dié dinge wat my nà aan die hart lê. Miskien weet julle al teen dié tyd wat dit alles is.

Nooit word ek moeg daarvoor om foto's te neem nie. Dis elke keer 'n groot genot om te kom loer wie  dié dag se kuiergaste in die tuin is. 

Vandag was ek verras om my eie foto te sien, 'n gevlekte lyster het jou wrintiewaar kom kuier.


Die woestynrosies floreer. Ek het hierdie idee op Pinterest gesien. Toe keer ek 'n gekraakte pot om en plant my echeverias daarin. Nà 'n paar maande lyk dit al amper soos 'n Pinterest-prentjie, nie waar nie?


 Niks straal vrede en stil vreugdes so mooi uit soos 'n tortelduif by die waterbak nie....




 'n Paar tonele in my tuin. Die geel madeliefies is omtrent uitbundig vanjaar. 



 'n Rooiborsduifie kom drink water by die fontein. Hy steur hom nie aan Hagar en Brakkies wat op die gras daar naby speel nie. Elkeen in sy eie wêreld. En ek het die voorreg om alles rustig te geniet.






 Nog nooit het Hagar vir Brakenjan afgeknou nie. Nog nooit. Maar Brakkies is versigtig. Sy lyftaal wys baie keer dat hy die grootste respek vir sy ou Labrador-maat het. Hulle kan vir ure so speel.


 Bo-op die huis se dak loop 'n kransduif en bekyk die wêreld. Ek wonder wat dink hy.


 My goudgeel vygies wat my twee kleinkinders laas jaar help plant het blom aanhoudend. Hulle glimlag in die volson wat smiddae daar waar hulle staan, skyn.

 Hierdie kalant is niemand se speelmaat nie. Ek verlustig my aan die mooi vertoning wat hy teen die grys sementmuur maak. 

Geel madeliefies. Goudgeel geluk.


Saturday 22 June 2013

Soms mag mens niks doen

Salige Saterdag. Heeldag. Die huis is koud. Buite skyn 'n winterson. Ek sien vreemde swartblou voëls wat my woestynrosies sit en kou. Hulle lyk na spreeus. Daar moet iets lekker in 'n woestynroos se blaar wees, want dis nie die eerste keer dat ek voëls betrap wat so heerlik sit en peusel nie. Die kwêvoëls dink ook dis hul spesiale lekkerny.
 
Ek het vandag tyd. Wat 'n heerlikheid is dit nie! Ek kyk op na die ysblou lug. Die boomtakke, kaal soos koue vingers, maak hul eie prentjies.



Hoe mooi lyk die wit takke van die "Pride of India" nie teen die oop, skoon en blou lug nie. 'n Groot vrede kom lê in my binneste en vanoggend se bekende stilwees-woorde uit Jesaja 41: 10 kry sommer weer nuwe betekenis.
 
 
Elke seisoen het sy eie bekoring. Winter in Bronkhorstspruit kan knypkoud raak. Tog weet ons die aarde moet ook ruskans kry.
 
 
Die feit dat my rose dié tyd van die jaar nog in volle blom langs die paadjie hek toe staan, is een heerlike bonus. Ek put soveel genot daaruit!
 
 
In die agtertuin jubel die "Just Joeys" in hul oranjerooi rokkies en maak my hart winterwarm en bly.
 

Op die draadtafel by die voordeur waar die son soggens louwarm kom lêplek soek, blom die kaktus steeds...'n lieflikheid om te aanskou in die winterkoue. Hoe dikwels beloon die natuur ons nie. Spatsels kleur tussen die dorheid en die vaaltes. Nes ons lewens. Ons moet net tyd maak om dit te waardeer en weer 'n slag raak te sien.

 

Wednesday 13 February 2013

Kom ons kyk kiekies

So lank as wat ek kan onthou, was 'n kamera en foto's neem een van die heel lekkerste dinge op aarde vir my om te doen. Ek onthou nog so goed ek was omtrent in St. 7 iewers rond toe ek van my spaargeld vir my my eerste eie kamera gekoop het. Dit was 'n Kodak Brownie. Vir my gelykstaande aan 'n wonderwerk! Nietemin, sedertdien het daar heelwat beter modelle gevolg en telkens het ek my verlustig in die genot wat 'n kiekie kan bring.
Vandag neem ons foto's en bêre dit op ons rekenaars. Die digitale kameras maak alles soveel makliker....tog mis ek die gevoel van 'n foto-album vol herinneringe wat ek kan vashou en koester in my hande. Nie dat daar 'n gebrek aan sulke items in my huis is nie....daar is rakke vol albums, jare se leef-ervaringe vasgeplak en gestoor vir die nageslag. En taamlik dikwels blaai ons deur dié albums en geniet alles weer van voor af.
Ons was onlangs in die Bosveld anderkant Nylstroom en kamera in die hand, het ek die skoonheid van hierdie stuk wêreld ingedrink en vasgekiek vir ewig. Kom geniet die mooi van God se Skepping saam met my.....
 

Ou Bloukoppie daar teen die muur
is dit 'n muggie waarna jy so gluur?
 
 
Die growwe stam van 'n doppruim, 'n blinkblaar wag-'n-bietjie, 'n soetdoring of 'n kurkbasklapper......almal ewe uniek, almal ewe mooi.
 

"Kwêêêê!" roep die grys loerie sy kenmerkende Bosveldroep....
 
 
...en bloukopkoggelmander luister
 

Nêrens is die lug so blou, so skoon soos hier in die bosse nie en sou 'n mens opkyk, raak jy bewus van jou eie kleinheid.

 
Tarentaal vertel 'n ou verhaal
van kruiwawiel se tjierietjier -
spikkelveer roep poelpetaan
oor rant en vlei die donkermaan
dan pik-pik hy
en skrop soel somers pienktoon oop
daar waar hy ouman ver
sy paadjie saam-saam loop
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Ons land
Waar soggens vroeg oranje-geel
die son oor gras en bosse streel
waar kierieklapper en karee
hul eenvoud skoon aan almal gee
het ek my hart toe wéér verloor
my liefhê-land, my siel bekoor…

deur leegtes en verbrande gras
oor heuwels teen 'n slakkepas
geluister hoe die wind deur oop vensters praat,
gesien hoe 'n kiewiet wip-wip na sy maat…
en altyddeur geweet:
my land is mooi, my land is goed
my land pomp deur my hart se bloed
Elizabeth Kendall ©

  
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort...
- Prediker 11:6
 

 
 

Onbegryplik groot 
“Nou kan jy weer bly word, “ sê hy en kyk na my -
na lange jare saam is daar wêrelde van verstaan
ja ek kan weer sing en skaterlag
ribbokrats oor rante klim
goudgeel stukke sonlig sluk

en opkyk na die wolke blou daarbo 
 ’n twyfelaar wat glo
Elizabeth Kendall ©



Dis knoetse en knobbels en krake...
 
en sandpaadjies tussen graspolle....
 
Ruik jy die vars lug, hoor jy die roep van 'n houtkapper, voel jy die stilte om jou vou soos 'n sagkombers?
 

Hier is dit rustig. Hier kan jy net jy wees.
 

 




 Wie het die waters in die holte van Sy hand afgemeet, met die breedte van Sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Jesaja 40.


 
 
 
Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag...
C. Louis Leipoldt.
 
 
 
'n  Bosveldvisvanger teen die hemelblou
 
 
en 'n kakelaar wat kan kekkelpraat van smôrens vroeg tot sawens laat...
 

.....moet van akkedissies nie vergeet
 

of pienkrooi naaldekokers wat mos alles weet !
 


 
Die hoep-hoep met sy vere bruin en swart
het my lank doodstil laat staan,
verwonderd en verbaas het ek gekyk
hoe hy met sy lang snawel
sappige wurms uit die grond uit grou,
hom niks gesteur aan my en jou.
 
 
 
 Teen skemeraand het ons saam met die bottergatjie op die blou stoele langs die swembad gaan sit -
ons het gesels, gelag
en ook miskien gebid...
 
 
 
Ons batterye is weer gelaai, ons harte is lig en die lewe is 'n lied.