Dit is die vyf streke
van Overvaal. (Nie "eregaste" nie!) In totaal vanjaar was daar op dag een amper-amper 180 VLU lede.
‘n Wye verskeidenheid van vroue wat almal entoesiasties en ywerig is om dit
waarna die VLU streef, uit te leef nl. “om geleenthede tot verruiming aan vroue
te bied en hulle toe te rus om ‘n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die
gemeenskap en land te lewer.” SAVLU
Van Riebeecktak is weer eens gekies om die rekwesitespan
te wees. Ek en my vriendin Mara vertrek
Donderdag die 10e van Bronkhorstspruit af en ry die 40 km. na Ou Meulstroom, al
geselsende. Nou het ons tog bietjie tyd om te kuier! Ons dek die hooftafel wat eintlik drie tafels langs
mekaar is. Marie Bester wag ons in asook Kowie Snyman. Vele hande maak ligte werk!
Ek bewonder die lieflike borduurwerk op die tafeldoek.
Dit moes lank geneem het om so ‘n kunswerk te kon skep. Ons rol die dik
plastiek bo-oor die kosbare tafeldoek uit. Dan pak ons die hope lêers en sakke op die stoele.
Elke streek s’n apart, almal bymekaar. Dit neem ‘n hele tydjie om alles mooi
georden te kry.
Die Overvaal vaandel
pryk ook daar naby. Vir dié wat graag wil weet wat die simboliek van alles is, verduidelik ek sommer gou:
Vrou: Voete plat op die aarde –nederigheid.Pot: Sy beskik oor
kennis en deel dit graag met ander. Saai: Vooruitgang. Hare: Ons behoefte om
uit te reik na ons lede, ons mede-landsburgers en gemeenskap. Die hare wat waai
simboliseer ook die wye veld wat deur ons studierigtings gedek word. Blom: Provinsie se
nasionale blom, maar ook Eenvoud en
skoonheid. Diamante: baie
verskillende fassete in ons organisasie nl. gehardheid, glans, kosbaarheid,
suiwerheid. Kleure: Rooi-warmte,
Groen- rustigheid, Blou- kalmte, ruimte, Goue draad- saambindende faktor. Ook
simbolies van rykdom uit ons provinsie, vooruitstrewendheid.
Leon van Nierop is ons Skrywer van die Jaar. Nà sy
boeiende praatjie verkoop sy jongste boek Plesierengel
soos soetkoek. Ons geniet elke woord wat uit sy mond kom. Hoe geseënd is die
veteraan-skrywer nie. Inspirasie op sy beste. Op sy facebookblad skryf hy op 12
September: “En vandag het ek met die VLU - dames gepraat naby
Bronkhorstspruit. So 'n gulhartige, warm ontvangs het ek in g'n jare gehad nie.
Die warmte en vriendskap het my eintlik omgeslaan. En al die
Plesierengel-romans wat daar was het letterlik binne 10 minute uitverkoop. Was
dit nie vir sulke lesers nie, was skrywers soos ek nie daar nie.”
Dit was ‘n voorreg om Leon van Nierop te kon ontmoet
en na sy wonderlike stories te luister.
Heerlik was dit om Lapa se kleurvolle boekuitstalling
te bekyk en die wêreld te vergeet terwyl daar na hartelus rondgesnuffel en
geblaai is.
Net die heelbeste werk word op Kongres uitgestal. Hier
is ‘n paar voorbeelde van brei-, hekel- en naaldwerk wat deur vlytige vingers gedoen is.
Yolande Steenkamp van Van Riebeeck se wasgoedpennetjiesak, so mooi.
Die grys-en-rooi-swart kniekombers is deur Van
Riebeecktak se visie-voorsitter, Sally Ferreira, gehekel. Daar was heelwat
ander inskrywings ook van ons tak se talentvolle lede, almal pragtig!
Ek kan dit maar net staan en bewonder. En weer en weer
bewonder. Talente onbegrens.
Jy is nie
sonder talente gebore nie! Begin om weer te droom, begin om weer te doen wat
vir jou lekker is en wat jy geniet. Jou gawes sal vir jou plek maak op die
regte tyd. Doen alles wat jy doen asof jy dit vir die Here doen; jy sal verbaas
wees om te sien waar en wanneer God besluit om jou talente te gebruik tot eer
van Sy Naam. Daar is geen einde aan wat jy vir God kan doen as jy begin om te
woeker met jou gawes nie!
Manna Tydskrif Blog
Daar was baie om te sien: lieflike juwele soos o.a.
varswater pêrels, armbande en wat nog alles. “Gij sult niet begeren!”
Voor in die saal pryk die mooiste proteas. ‘n Kuns om
dit so te kan rangskik....
Elza de Bruyn is die presidente van Overvaal. Dis die
eerste keer dat sy as presidente optree. Kalm en vriendelik. Om na haar te
luister en te ervaar hoe sy elke situasie met waardigheid en selfvertroue
hanteer, is werklik ‘n inspirasie.
Een van ons sprekers was Eunice van der Merwe. Sy
beklemtoon weer dat elkeen ten volle toegerus is om ‘n bemagtigde vrou te wees.
“Your pain becomes your power.”
“Your mess becomes your message.”
LIEFDE is die HELE wêreld se
GROOTSTE WAPEN
Ina Booyse word as nuwe
vise-president verkies. Ons is almal saam met haar bly!
Gedurende die afgelope jaar het Overvaal negentien
lede aan die dood verloor. Daar word kerse aangesteek. Ons gedagtes gaan uit na
hulle wat deur hierdie verlies geraak is.
V.l.n.r. : Jolanda Smit (Sekretaresse), Petra Maritz
(skakelbeampte), Meisie Kotze, Yolande Steenkamp en Elizabeth Kendall
(Voorsitter) , die vyf lede van Van
Riebeeck (Bronkhorstspruit) wat die kongres kon bywoon. Wat ‘n voorreg!
Tussen-in was daar genoeg tyd om die natuurskoon by Ou
Meulstroom te bewonder of soms net stil te raak.
Ons “eie” Dawie de Jager se sang en musiek het
natuurlik weer baie hartsnare geraak en ons besonder trots laat voel.
Hier kuier lede van verskillende takke heerlik saam.
Tafels is keurig gedek en daar was oorgenoeg heerlike
kos!
Toe dit aand word, hou ons konsert en lag baie. So
lekker om so te kan ontspan en deel te voel van al die pret!
Daar was ‘n heerlike voorlesing deur Leonie Potgieter
van Wapadrant.
Verskillende modes is op skreeusnaakse wyses
uitgebeeld, daar was heelwat sangitems en verder net pure plesier!
Corné Gaspar van Roodepoort, Witwatersrand ontvang ‘n trofee vir
uitstekende werk, ‘n spesiale prys! Ons
het haar by die Winterskool ontmoet en was dit nou lekker om haar weer te sien.
So word heerlike vriendskapsbande onderling tussen VLU-lede gesmee.
Bo teen die balk by ons chalet kom kondig ‘n swaeltjie
die begin van ‘n nuwe somerseisoen aan. Lieflik!
Toe ons huiswaarts keer, is ons batterye opnuut gelaai
en ons harte vol dankbaarheid. Dis lekker om ‘n VLU-vrou te wees!