27 September
2013. Wat ‘n heerlikheid op aarde is dit tog nie om, noudat
dit weer warmer is, in die tuin te kan vroetel nie! Gister was so ‘n dag. Ek het
gewag vir my kinders wat van Engeland en
die lughawe af sou kom. Vanselfsprekend kon ek van pure opgewondenheid nie vir een oomblik
stilsit nie. Ek moes net iets konstruktiefs vind om myself mee besig te hou.
Soos julle almal weet, ‘n tuin het voortdurend aandag nodig . Daar is maar altyd iets wat verander, geskuif, uitgehaal, omgespit, skoon geskoffel, natgemaak of sommer net geniet kan word. Altyd.
Soos julle almal weet, ‘n tuin het voortdurend aandag nodig . Daar is maar altyd iets wat verander, geskuif, uitgehaal, omgespit, skoon geskoffel, natgemaak of sommer net geniet kan word. Altyd.
Ek het onlangs die
mondogras wat “swaar trek” (soos my Ousie sou sê) onder die appelkoosboom, laat
uithaal. Om elke dag na dié dapper, onsuksesvolle groeipoging en agteruitgang
te kyk, was net nie meer ‘n plesier nie. Ek en ou Jacob het dit toe op ‘n ander
meer geskikte en sonniger plek geplant en was heel in ons skik daarmee.
My liewe klein worshond,
Brakenjan, kon sy oë nie glo toe hy die yslike stuk aarde sien waar hy nou na
hartelus kan grou en grawe nie....en niemand raas eers nie. Sy jagtersinstink
het totaal oorgeneem en binne ‘n dag of twee het dit erger as ‘n omgeploegde
land gelyk. Ek het besef ek sal ‘n plan moet maak, maar wat? Niks wil eintlik
daar groei nie.
‘n Goue oomblik het aangebreek toe ek onthou hoe baie
klippe in hierdie erf van ons lê. Klippe wat ek gekoop, gekry of wat vir my
aangery is. Klippe wat saam met my getrek
het uit ander provinsies, iewers ingesmokkel omdat dit spesiale betekenis vir
my het. Klippe wat my hart en tuin vol lê.
Baie van hierdie skatte lê egter tans weggesteek onder geilgroeiende
vetplante of struike. ‘n Tuin staan mos nie stil nie.
Tussen stekerige dorings
en vetplante grawe ons ‘n hele klomp van hierdie hoekige, gepunte klippe uit en
pak dit onder die appelkoosboom. En net daar neem my verbeelding oor. Ek maak al die gladde,
gestreepte Letsitele-klippe (by Chris se broer present gekry toe hulle Pretoria
toe verhuis het) bymekaar en pak hulle
soos bruin broodjies langs die puntklippe.
Toe gaan haal ek my
tweelingklippe. Lange jare gelede het Wilhelm en Liesl, skaars baksteenhoogte,
elkeen vir hul Ma ‘n yslike klip aangedra waar ons iewers by die see vakansie
gehou het omdat hulle toe al geweet het. Ek het hierdie twee taamlik groot, witterige
klippe seker noual bykans agt-en-twintig jaar lank in my tuin(e). Waar ek gaan,
gaan hulle ook. My lewenslange metgeselle, nes Rut se skoondogter.
Die uitpak van die
verskillende kleure en vorms klippe is ‘n yslike lekkerte. Speel-speel word dit
al mooier. Jacob raak net so begeesterd
soos sy “Oumies” en kom met ‘n kruiwavrag geelbruin en donkerder, plat klippe
van buite af aan. Ek trek twee strepe vir hom en beduie hy moet dit tussen die
strepe inpak, so goed en mooi as wat hy kan.
Hy doen sy bes, maar
is kort-kort buite sy “spergebied”....geduld
help gelukkig en ek wys hom weer. Toe hy
dit snap, geniet hy dit amper meer as ek. En ek moet sê, ek is heel beïndruk
met sy inisiatief en vindingrykheid. Ons loop ‘n draai
deur die tuin en tel al die wit klippe op, pak dit in lyne en vorms. Ag dis
lekker.
Iewers op ‘n dag het een van my kleipotte gebreek en
ek het die gebreekte stukke sommer oral rondgestrooi, die patrone daarop was
mooi vir my en buitendien het dit as goeie grondbedekkers gedien. Ons pak hulle
soos legkaartstukke langs mekaar. Kyk
net!
Kort-kort was ek
hande, hou die hekkie dop. Wanneer kom die kinders tog nou? Teen half twaalf is
ek lyfseer van al die gebuk en gebuig. Ek loer na Jacob. Hy lyk ook nie meer so
energiek soos toe ons begin het nie. Toe roep ek halt.
Maandag sal ons
aangaan en ek gaan beslis nie klippe koop nie. As ons ons oë oopmaak en mooi kyk, gaan ons genoeg
in hierdie tuin kry om al die vorms vol te pak. Boombas gaan ook nie werk nie, want
“Meneertjie” gaan dit opkou. Brakkies is juis so lief vir die dennebolle wat
oral rondlê. Gelukkig hoef ek nooit Pick & Pay se kougoed vir klein
hondjies te koop nie...
Toe die kinders
twaalfuur met wye glimlagte by die hekkie injubel, vergeet ek al my stywe
spiere. En toe kuier ons eers! Daar moet nog heelwat klippe ingepak word voor
ons kan sê ons is klaar, maar Rome is ook nou nie in een dag gebou nie. En
sover lyk dit darem al na besigheid, of wat dink jy? Natuurlik is jy ook welkom om my nog meer idees te gee. Onthou net ons het honde wat wil kou.
(Word vervolg)