Maandag, 30 September 2013.
Nouja, soos belowe en beplan, kon ek toe vandag aangaan met my "klippetuin". Ek kon eers elf uur begin en het aangehou tot ek klaar was. Ek en my getroue ou Jacob. (nie die een van "Ampie" nie... )
Nietemin, ons het heelwat verrig. Terwyl ek gou Donkerhoek se kant toe gery het om my kleinmense weer terug te gaan besorg aan hulle Mamma, het Jacob al die wit klippe op die werf uitgesoek en in die kruiwa gelaai. Hy het ook buite die klein hekkie al die kleiner klippe uitgehaal en sommer terselfdertyd mooi skoongemaak daar. Nou lyk ons ingang sommer weer vrolik en vaartbelyn.
Onder die appelkoosboom begin dit al beter en beter lyk. Ons sit 'n pot met woestynrosies vol lieflike geel blommetjies aan die sonkant van die boom neer. Die hope bruin klippe word sommer langs die plat, geles neergelê met rye wit strepe tussen-in vir interessantheid.
Die vier "stepping stones" was eers by die voorhekkie.
Ek sleep 'n kleipot met kruie daarin nader en maak dit staan langs die gebreekte stukke potskerwe.....en kry sommer 'n rilling al langs my ruggraat af van pure lekkerte oor die heerlike aardsheid daarvan!
Toe wag daar 'n verrassing vir my tuinman. Ons beweeg weg van die appelkoosboom en gee al ons aandag aan 'n oorgroeide vetplanthoekie wat in die jaar toet laas aandag gekry het. Die lieflike gladde spoelklippe wat ek toe gekoop het, lê almal begrawe onder die grond. Jacob haal van die plante uit en maak die grond los met sy vurk. Janee, nes ek gedink het! Daar kom hope mooi klippe uit, glad en rond. Hul winterslaap is vir ewig verby.
Al hierdie plante gaan nou-nou weer netjies terugkeer aarde toe en ek glo hulle gaan voortaan sielsgelukkig wees.
Kyk hoe mooi skoon is dit nou, sommer splintenuut.
Nêrens kon ek egter nog van daardie gepunte, hoekige klippe kry om die blok onder die boom vol te maak nie, maar dit was nie regtig so 'n groot probleem nie. Die plat klip met die ronde een wat soos 'n pot en sy deksel bymekaar pas, was ideaal om in die oop spasie neer te sit, knus langs die gladde swartes wat lyk asof hulle lê en hande vashou. In my gedagtes het ek al klaar gesien hoe kom Geelvink en sy vrou daar water drink.
Daar was oorgenoeg mooi bruines om oral langs die kleipot in te pak.
En so het die eindresultaat gelyk! Ons agtertuin kan nou maar kwalifiseer as voortuin of wat dink jy?
En die vetplanthoekie het ook sommer gaaf gelyk met sy nuwe baadjie aan.
My broodboom floreer langs die laventel en tussen die woestynrosies.
Tuinmaak is wonderlik. Elke dag wat ek kon tuinmaak in my lewe, was vir my 'n mooi dag, 'n geseënde dag, 'n dag waarin ek skatryk gevoel het. Vandag was so 'n dag. En ek sê dankie.
Op die stomp lê ses wit skulpe, tevrede. Hulle is deel van die tuin nes die klippe, die potskerwe, die dennebolle, die stompe. En as ek by hulle verbyloop, kyk ek na hulle met sagte oë. Hulle maak my hart bly en my tuin warm en vriendelik. 'n Hawe, 'n tuiste, 'n huistoekomplek so lank as ek lewe.
Sjoe, DIS PRAGTIG en ek lig my hoed vir jou en Jakob!! Uiters kreatief en sommer baie inspirerend, ek gaan ook sommer inspring! Lief jou kleipot en jou Broodboom lyk mooi en gesond daar tussen die laventel en die Echeverias. Ek het ook skulpe in die tuin gepak in plaas van om hulle weg te gooi toe ek laas skoon gemaak het. Watse krui is in die kleipot?
ReplyDeleteDankie Maree, bly ek kon inspireer! Ek sal Mara vra wat dit vir my present gegee het, het al klaar weer die naam vergeet, maar dit ruik heerlik!
DeleteDis asof mens sommer nuwe moed kry vir die lewe as jy terugkyk op so n lekker dag, al het jy n paar eelte, n klompie blase en n seer rug bygekry! Dis pragtig Elizabeth, en dankie vir die deel!
ReplyDeleteLekker lag ek nou, janee, die pyne praat saans na so 'n dag! Dankie Antionette, 'n groot plesier!
Delete