Showing posts with label vertroue. Show all posts
Showing posts with label vertroue. Show all posts

Friday, 25 August 2017

My wêreld

Voor dié winter begin het, het sy yskoue vingers alreeds my keel toegedruk en het ek gewonder hoe op aarde gaan ek vrou-alleen dit regkry om deur 'n maandelange grou-grys winter te kom. Maar ek het! Die winter is besig om sy koshuiskomberse op te pak en anderland toe te trek. 

Ek het omtrent 'n jaar laas geblog. Miskien het my woorde opgedroog. Miskien was niks-sê-nie 'n manier om deur 'n dag te kom. Miskien wou ek maar net eers mooi dink voordat ek praat. 

Want amper soos in "Blok jou!" het my hele lewe sedert September 2016 verander. Ek was broos en stukkend. Ek moes myself van vooraf leer ken. Ek moes leer hoe om alleen reg te kom. Hoe om nie toe te gee aan selfbejammering en negatiewe denkpatrone nie. Hoe om iets raak te sien wat kleur aan 'n dag kan gee. Ek moes weer leer glo en hoop en vertrou.  

Dwarsdeur al elf maande wat nou al verby is sedert my geliefde Chris se dood, het my bietjie familie, vriende en vriendinne my gedra, gehelp, bemoedig. Die voëls in my tuin het gebly. My kinders het wonderliker geword as wat hulle ooit voorheen was. My kleinkinders het my ge-oumie en geliefie. En die Here het vir my gesorg. Bo alles. Elke dag. 

Ek het my hele huis laat verf, binne en buite. Skoongewaste gordyne in elke vertrek, die mure net 'n titsel donkerder as spierwit. Die hele huis staan oopgesig en lag vir welkom besoekers. Alles is vars en flatervry. En ek alleen kon dit regkry. Hoera! Ek het my twee yskaste (een 'n vrieskas) ingeruil op 'n splinternuwe, kleiner yskas wat minder krag verslind. Ek moet krag probeer spaar, die rekening moet krimp. Ek het planne. 

O, ek het darem verse geskryf, dit gepubliseer op my fb-blad: Verse en vrolikhede. Dikwels hartseer woorde wat trane trek en simpatieke meegevoel uitlok. Op 'n manier het dit tog verligting gebring, maar ek het nie baie daarvan gehou nie. Ek wou so graag liewers net weer vrolik wees. Jare der jare gelede het my ma mos gesê: "Jy kan bly wees jy het so 'n vrolike geaardheid, my kind!" Min het sy geweet hoe droewig ek sou word.  

Ek dink die belangrikste ding wat ek die afgelope (amper) jaar geleer het is om net myself te wees. Soms kon ek gladnie my emosies beheer nie en het spontaan gereageer op iets wat 'n herinnering weer laat oopvlam het. Dan wou die vuur daarvan my verteer. En dit was goed. Ek weet ook nou dat verlies en verlossing nie in een asem gesê kan word nie. Ek besef ook dat die seer altyd sal bly, dat ek daarmee sal saamleef, saamhuil, saamlag. En dat dit nie saak maak nie. Ons lewe maar een maal. Herinneringe is 'n goue draad wat deur elke dag verweef word. 'n Kosbare kleinood.  

Gister in die tuin, kamera in die hand, het iets moois in my binnekamers gebeur, sonder dat ek daarvoor gevra het. Of het ek? Ek het nie net gekyk nie. Ek kon weer sien hoe mooi dit hier om my lyk. Al was hy nie meer hier nie. Die appelkoos- en perskebloeisels het glimlaggend aan hul dun takkies gehang. Die hemel was blouer as ooit, wyd en oop. Ek was bewus van God se groot genade. En ek het geweet ek kan Hom vertrou met my onbekende toekoms. 

Skielik het ek weer my ma se "vrolike kind" geword, sommer net so!  
  

Een van my verse:

26 Aug. 2017

Ek het aan jou gedink
toe jasmyn in pienk en wit
baldadig-bly oor die heining tuimel
toe appelkoos se eerste bloeisels
blosend aan dun takkies swaai
ek het aan jou gedink
toe geelgroen glasogies
vrolik van tak tot tak vlieg en fladder
toe tortel troosteloos sy solo sing
en heimwee in my hart en oë bring
ek het aan jou gedink
toe ‘n nuwe dag die dorp oranje inkleur
toe kleinkinders met blink oë en baie lag
kom hallo sê
 ek dink nou aan jou,
nou en elke dag

Elizabeth Kendall ՙ©






Friday, 11 October 2013

Vrydagoggend se dinge


Dis twintig voor sewe. Brakkies lê opgekrul op sy rooi-en-wit kollekombers hier langs my. Die duiwe koer- koer- koer daar buite waar gisteraand se stormwindblare die hele plaveisel vol lê.  Die wêreld is stadig besig om te ontwaak. Ek hoor kinders roep in die straat, seker op pad skool toe. Motors dreun verby. Die hadedas groet mekaar luidrugtig: “Hallouou! Hallouou!”
 

Ek voel opgewonde. Seker dié dat ek in drie hoofstukke geslaap het laas nag. Dit gebeur gereeld as daar heelwat dinge op my program is. Slaap, wakker, slaap, wakker, slaap, wakker. Die oomblik as ek wakker raak, onthou ek dinge: ek of Jolanda moet die koffie-en teehouer by die NG Kerk gaan oplaai en saamneem na môre-aand se VLU Tak-kuier.  Ek moet uitvind wie maak watter slaai, netnou kom aldrie gewilliges daar aan met dieselfde slaai. Nie dat dit so vreeslik saak sal maak nie. Die agenda vir die bestuursvergadering moet afgehandel word.  Dis ‘n lang vergadering, want dan beplan ons een hele jaar se bedrywighede op een dag. Baie dinge moet onthou word.

Vanoggend moet ek sommer vroeg die spreier aansit daar in die hoek by die rose, ou Jacob het gister nie oral ewe nat gemaak nie en ek hoor die son gaan bak vandag. Ek verlustig my so aan die lieflike kleure van die eerste rose nà ‘n lang winter.  Een draai deur die tuin en alles val weer in plek.









Icebergs.
 





 
 Hierdie roosboom (Just Joey) staan in die agterplaas, ek gaan nie eers probeer tel hoeveel blomme daar is nie. Wat 'n lekkerte om te aanskou!
 
 
 Vars en verlep....ewe mooi
 

   
“Vertrou God vir groot dinge met jou vyf broodjies en twee vissies; Hy sal vir jou ‘n manier wys om duisende kos te gee”, het Horace Bushnell jare terug gesê en dit is steeds van toepassing.

Friday, 21 September 2012

Hier lewe ek!

Smiddae so teen half vyf se kant kom klim die saligheid oor my siel. Dan is die dag se take min of meer afgehandel. Dan wil ek buite wees, die vrede van die tuin indrink en my verlustig in die vrolike en vars spore van 'n nuwe seisoen wat oral te siene is.

By die agterdeur op die perskeboom se growwe tak, sit 'n babaduifie. Tjoepstil. Ek staan een armlengte van haar af. Sy sit rustig en steur haar nie aan my nie. Tevrede. Haar vere is sag en donsig.  Dié goue oomblike word minute vol verwondering.

 
Die laat middagson val sag op die kaktus se helderpienk blommetjies. My oë kuier oor die mooi daarvan.
 
 
Dan sien ek dit raak: oor 'n paar dae gaan die litroos 'n fees van blomme wees. Oral is nuwe lewe. Ek hoor God se stem: " Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen."
 
 
Tussen die woestynrosies se goudgeel blomme dartel 'n by lewensbly.
 


Ek vryf met my kaal hande oor die gladde klippe wat ons van Letsitele af gebring het lankal terug. Elke klip in ons tuin vertel sy eie storie. En al dié stories is mooi, lekkerluister-verhale van geseënde en goeie jare wat verby is......

 
 
Aan die kant van die erf in die voortuin kombers die klimop oor die groot, ou karee wat my oorlede Ma nog hier geplant het. Sagte skadu's val oor die agapanthe en boslelies wat aan sy voete groei. In hierdie hoek wag heerlike koeltes op 'n warm somersdag.
 
 

Hier word drome dikwels gebore of versies uitgedink. Hier kry ek inspirasie.  Hier luister ek na die duiwe se voortdurende koe-koerliedere. Dis agtergrondmusiek in my tuisdorp, ja regtig.

 
 
Aan die appelkoosboom se tak hang die glasogies en langstert muisvoëls se lemoenskil opgekrul, spesiaal so afgeskil dat daar nog oorgenoeg lemoen is vir hulle om aan te peusel.
Die oranje, groen en bruin maak 'n mooi prentjie teen die laatmiddag se blou.
 
 
Soos so dikwels vantevore, kom daar groot kalmte en vrede in my hart as ek deur die tuin wandel.

 
Die lugplant het min nodig om te oorleef. Ons kan so baie uit die natuur leer...


 
 
Toe die son in die weste begin sak, wéét ek weer van vooraf: God is in beheer.
 
 
Elizabeth Kendall ©
 


 
 

 
 

Sunday, 29 April 2012

Uitgebid.

“As jy daai jaffel soek van gisteraand, ek het dit al klaar opgeëet,“ sê hy met ‘n vonkel in die oog. Ek kyk hom aan, kamstig emosieloos, speel-speel teleurgesteld tot in my diepste wese.
In die gang en teen die mure hang vrede en liefde op hierdie laatherfsoggend.
Toe gaan stort my man en los my voor die spieelkas waar ek jare se lag-en huilplooitjies probeer kamoefleer met ‘n nuwe botteltjie onderlaag laasweek by Clicks aangekoop. 
My gedagtes vat koers na tye terug. Toe dinge nog so anders  was. Ek bekyk myself in die spieel en dink aan hom.  Dié man wat my oorlede pa vir my uitgebid het.  Dié man wat nie my kinders se Pa is nie, maar hom soms verbeel  hy is myne. Sorgsaam.  Soos ‘n Pa.  Sterk.  Soos ‘n Pa.  Soms vol geite ook maar. Nooit ongeduldig nie. Rustig. Soos ‘n rots.  My rots.  Myne.  Altyd daar. Waardeer ek hom ooit genoeg?
Anderdag praat ek en ‘n vriendin oor mans. ‘n Man moet mens veilig laat voel stem ons altwee saam.  As jy nie veilig voel nie, kan jy maar los. Veilig omdat jy weet hy sal saans seker maak al die deure is gesluit. Veilig omdat hy onthou dié dinge wat jy vergeet. Veilig omdat jy weet sy doen is beter as sy sê. Hy praat nie baie nie, hy doen baie. Hy kyk dat daar gereeld ‘n heerlike Fenjal vir my in die badkamer is, hy koop nuwe hondekos as die sak begin leeg raak. Hy weet wat in die wêreld aangaan. Mens kan hom na enige plek toe vat, hy sal weet wat om vir wie te sê en ook wanneer hy net niks moet sê nie. Dis wat so lekker is van hom. Mens kan hom vertrou met jou lewe, jou buie en jou drome.
Wie gee dan om as die laaste jaffel opgeëet is, ‘n uitgebidde man is ‘n aanwins in jou lewe, jou huis en veral in jou hart!
Elizabeth Kendall ©