Showing posts with label sonneblom. Show all posts
Showing posts with label sonneblom. Show all posts

Sunday, 15 March 2015

'n Sondagoggend in Maart

Kom stap saam met my. Sommer net hier. Ek ken elke hoek en draai. Tog lyk alles elke oggend splinternuut. Die magrietjies blom songeel en uitbundig. Dis koel en bewolk, herfs is oppad. 'n Lieflike seisoen. Nie te koud nie, nie te warm nie, net nommerpas. 

 Pienk en wit rose gee kleur aan die tuin. 


Drie lawaaierige hadidas kom sit vir 'n paar oomblikke doodstil op die lamppaal, dis nog vroeg in die oggend. Soos ouderlinge met kispakke aan sit hulle daar in amper gewyde stilte.....net vir 'n rukkie, dan vlieg hulle met groot geskal en vlerkgeklap weg.

Altyd eerste om sy herfsjas aan te trek, aan die buitekant van ons erf, pronk die esdoringboom alreeds in goudgeel gewaad, so mooi. 


In die groentetuin wag 'n verrassing: Meer as een groenrissie hang doodgelukkig aan sy groen stam en groei fluks. Hoera, ek is so bly! En om te dink ek het dit van droë pitjies gesaai. Hoe bevredigend is dit tog nie net om iets aan die groei te kry nie. Een van die dae eet ons heerlike slaai en groenrissies. 


 Wonder jy wat dit gaan word? 'n Eiervrug of brinjal. Ook maar net 'n eksperiment, ek sal resepte moet soek, want ek ken dit nie juis nie. Met ‘n brinjalplant in die tuin het jy altyd kos in die huis.
Dié familie van die tamatie, soetrissie en aartappel ken ons ook as “brinjal”, en op ‘n Italiaanse spyskaart beteken “melanzane” een en dieselfde ding. Die wonderlike kenmerk van eiervrug is dat hy die geure wat saam met hom in die pot beland – tamatie en basilie, knoffel en komyn, pietersielie en parmesaan – opneem en vermeng in ‘n hemelse smaakervaring op jou bord.
Eiervrug, of Solanum melongena, is ‘n tropiese groente en kom oorspronklik uit Indië. Dis ‘n belangrike bestanddeel in tradisionele Maleise kookkuns en Mediterreense geregte, en jou vegetariese kollega sal beaam dis ‘n regte staatmaker in vleislose skottels.
Net ‘n stoel of vyf naby jou agterdeur gee jou genoeg van dié vet, pers uitblinkers om jou mense weke lank te laat smul.



Vanjaar het die aasblom omtrent in oorvloed geblom, ek verwonder my steeds aan die fyn haartjies op die oop blom, die groen brommers wat deur die vleisreuk aangetrek word en die skoonheid van hierdie unieke plant. 

 'n Miniatuur "bottel-brush" floreer langs 'n grysvaal vetplant.

 Teksture en vorms. Die blare van 'n massiewe monster in die voorgrond. Intussen het ek uitgevind dat garingbome net een keer blom. Garingbome is almal vetplante, groei redelik stadig, maar word jaar ná jaar groter. In dié tyd bou dit ’n goeie voorraad energie op en wanneer dit ’n sekere grootte bereik, gebruik dit die energie om die enkele bloeiwyse te vorm en soveel moontlik saad te kan versprei.



Ryp peppadews op die kombuistafel. Trek handskoene aan as jy daarmee werk, die pitjies laat jou kaal vingers brand.  Peppadew is 'n handelsnaam vir die pikantrissie, in Hollands soms genoem kaboutermusjes. Ek preserveer dit as volg: 1 k goeie wit asyn, 1 k wit suiker, 1 k water. Kook dun stroop. Voeg halveerde pikantrissies hierby en kook vinnig op. Bottel. (Dit is raadsaam om dit te halveer omdat myne soms 'n goggatjie in kry - ek pluk in my eie tuin.) As jy 'n baie mooi produk soek MOET jy elke liewe pitjie eers uitskraap. By hierdie hoeveelheid stroop voeg ek so vier - ses koppies pikantrissies. As daar stroop oorbly gebruik ek dit bloot as smaakmiddel oor slaai, broodjies en gebraaide hoenderborsies. Kookkuns

En hier is sommer nog 'n heerlike happie: Weg se werf

'n Sonneblom in wording.  Ek het dit present gekry, net omdat ek nuuskierig was om te sien of ek dit aan die groei kan kry. Nou kan ek nie wag om te sien hoe mooi dit gaan blom nie. 
Die waarde van die sonneblom in vandag se wêreld kan kwalik oorskat word. Sonneblomolie bevat byvoorbeeld linolsuur, wat, na vertel word, die cholesterol-gehalte in die bloed verlaag. Naas mielies, koring en suikerriet is dit nie verniet een van ons belangrikste landbougewasse nie. Trouens, Suid-Afrika is die wêreld se tiende grootste produsent van sonneblomsaad, en plaaslik word die gewas in Limpopo, Mpumalanga, die Noordwes-provinsie en die Vrystaat verbou. 

Friday, 11 May 2012

'n Kleursimfonie

Hoe saai en vaal sou die lewe nie gewees het sonder blomme nie! Sommer kaal en kleurloos. 
Bloedrooi papawers, kosmos: pienk en wit, oranje kappertjies om iewers in 'n pot te sit, 'n goudgeel sonneblom, sagte, pienk rose waarvan die geur aan jou vingers klou.

Ek jubel en juig omdat ek kan sien! Omdat ek dit mag geniet en daaraan kan vat en dit kan ruik.

Hier is 'n paar voorbeelde van waterverf- en potloodskets-kuns wat ek so geniet het!

Monday, 7 May 2012

Winterwoorde.

Winterwoorde.

Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in die tuin tussen koue klippe en vaal gras.

Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone. Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.

Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en druiwekonfyt, dikgeplak.
Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.

Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike lugreëling in die voorste kamer.

Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers, grys soos die winterlug vanself.

Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.

Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike, helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop, baie ver van hier.

Elizabeth Kendall ©