Showing posts with label vroueblad. Show all posts
Showing posts with label vroueblad. Show all posts

Friday 20 June 2014

Instandhouding


Gister hoor ek oor RSG as mens 'n blog het, moet jy dit in stand hou. Nouja, hier is ek! Besig met instandhouding. 
Vanoggend weer vroeg wakker, heerlik tussen die warm komberse gelê en lees aan die Vroueblad. Vandeesmaand se tema is "huise". Ons almal weet "as die Here die huis nie bou nie...." Ons weet ook dis nie die buitekant van 'n huis wat 'n huis maak nie, maar die binnekant: die mense wat daarin woon, die liefde wat gedeel word, die saamwees, die lag, die huil. "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby" (Spreuke 17:1) 

Hier in ons ou huis met die plankvloere is vrede. Vrede en liefde. En ek is so dankbaar daarvoor. 


Die winter lê op die oomblik die hele tuin vol. My vetplante huil. Die gras is vaal. Die wilde knoffel sukkel. Soggens staan die kaal akkerboom donker afge-ets teen die koue winterlug. 'n Verdwaalde hadida gil sy "hallo's" vanuit die hoogste takke van 'n denneboom.
Tog weet ek dis alles net tydelik. Dié wete verbly my grootliks. Dis soos musiek in my binnekamers. En ek hou styf vas daaraan met yskoue vingers. 

Bo in die anaboom se wintertakke sit 'n opgepofde rooikophoutkapper: 'n vrolike flenter kleur teen die ysblou lug.   

Wednesday 13 June 2012

“Hallo Pa!”



Ek stap by die poskantoor verby die telefoonhokkie om te gaan pos uithaal en hoor die jongerige vroutjie daarbinne sê: "Hallo Pa!" Doodgewoon. Sy bel haar Pa en groet hom. Duisende mense doen dit duisende male daagliks. Hoe baie male het ek dit nie self ook gesê nie…..vir langer as vyftig jaar kon ek "Hallo Pa!" sê.  Altyd was "Hallo Pa!" 'n lekker ding om te sê.

"Hallo Pa!" toe ek in die Laerskool was en hy my teen skemeraand, as hy moeg gewerk was op die lande, met 'n lekker Pa-druk groet…toe ek 'n Hoërskoolkind was en smiddae saam met hom in sy blou Datsunbakkie gaan beeste koop het en hy my terselfdertyd leer bestuur het. Toe ek na die derde probeerslag die bakkie weer laat vrek met die wegtrek by die stopstraat, sê my altyd-geduldige Pa: "Jakob kan dit beter doen!" Met daardie woorde het hy my vir die res van my lewe genees van 'n gevrekkery en agterna het ek besef hoe 'n goeie leermeester hy was!

Toe ek op Heidelbergse Onderwyskollege was en vol blydskap naweke tuisgekom het, soggens kastig wou laat slaap en hy dan vroeg-vroeg vir my koffie in die bed bring met 'n altyd lewensblye: "Môre my ou doggie!" en ek nog deurmekaar was van die slaap….toe ek later op Barberton begin skoolhou het en soms met die trein huistoe gekom het, hom in die donker ure van die oggend as die winterwasem voor ons monde staan, op Bronkies se stasie gesoengroet het waar hy getrou in die koue vir my staan en wag het…..toe ek later in Natal gaan bly het en hom net vakansies kon sien of soms wanneer hy en my Ma kom kuier het. Dae voor die tyd was ons al opgewonde en het die kinders die slapies getel.


"Hallo Pa!" toe ons later ook hier in Bronkhorstspruit kom bly en hy soggens vroeg vir ons melk bring en ek sommer saam met hom ry tot by die skool om die Graad Eens te gaan leer. "Hallo Pa!" as ek en my kinders, wat toe nog almal skoolgegaan het, op die plot gaan kuier waar hy en my Ma so lekker gewoel en gewerk het en ons met mandjies vol groente en vrugte daar wegry na ons eie huis toe.
"Hallo Pa!" toe hy na my Ma se dood alleen en verlangend in sy woonstel sit en ek hom probeer troos.

"Hallo Pa!" 'n paar jaar gelede elke dag in die Ouetehuis se siekeboeg….en toe hy die dag voor sy dood nie meer kon praat nie, toe druk hy my hand. Dwarsdeur my hele lewe is my groet met liefde en warmte en blydskap terug begroet; "Hallo, my kind!" of "Hallo my doggie!" selfs toe ek al lankal 'n grootmens was…..altyd was ons bly om mekaar te sien!

Toe ek die sleutel in die posbus druk, breek die damwal en die wêreld word wasig. Elke keer as iemand iets goeds of moois van hom vertel wat hulle onthou of saam met hom beleef het, weet ek van vooraf hoe bevoorreg, hoe geseënd ek was. En eendag, eendag sal ek weer "Hallo Pa!" kan sê.
Ns. Vanoggend het ek weer gaan pos uithaal. Groot was my vreugde toe bg. vertelling in ons kerk se Vroueblad, Die Gereformeerde Vroueblad gepubliseer is en ek 'n boekprys wen. Die boek se naam: God het my gekies deur Ben de Klerk (geborg deur Cum boeke) My Pa is in 2005 oorlede. Vir altyd leef hy in my gedagtes.

Elizabeth Kendall ©