Saturday, 29 March 2014

ECHEVERIAS IS WONDERLIK



Die liefde vir tuinmaak is in die gene. Onlangs kom ek op 'n koerantuitknipsel, geskryf deur Anna Celliers, af oor "Tuinlewe".  My oorlede Ma het dit jare gelede uitgeknip en gebêre. En ek het dit bewaar. Dit was lank voor die tyd van rekenaars en blogs en sulke dinge. Ek voeg my eie foto's en soms eie gedagtes by, lekker lees!
Eheverias of soos ons dit ook noem, woestynrosies, het heelwat volksname. Skaamrosie en kliprosie is twee daarvan. As ‘n mens hulle begin versamel en leer hoe om hulle te vermeerder, is dit klaar met Kees! Dan kan jy maar weet die tuingogga het jou genadeloos en ernstig gebyt.
Hierdie gewilde rosies se vorm en tekstuur maak dat mens onmiddellik op hulle verlief raak. Hul perfekte rosetvorm en lieflike loofkleur wat wissel tussen ysblou, duifgrys of dofgroen dwing eenvoudig elkeen wat hulle in hul hand mag vashou, se bewondering af. Loofkleur is altyd ook meer intens in die herfs en lente.
Uit een roset wat gelukkig en tevrede groei, ontwikkel daar gou dik en vlesige stele met nog rosette wat weens hul gewig op die grond lê. As hulle in groot potte geplant word, hang die vet rosette later oor die rant-‘n geil gesig! Echeverias is dus ideaal vir tuinhangmandjies en vertoon pragtig op balkonne.


 Bo: Echeveria Setosa






 Echeverias hou –anders as ander vetplant en kaktusse wat lang tye sonder water kan oorleef- daarvan om gereeld water te kry. Blomstringe aan lang stele wat ver bokant die blare uitstaan, verskyn in die lente en somer. Baie soorte blom ook in die winter. Die woestynrosies blom herhaaldelik in verskeie seisoene.
Soggens vroeg, of nà ‘n reënbui, is die dou- of reëndruppels soos blink pêrels in die hart van elke roset en dan is hulle vir my op hulle mooiste.
‘n Paar gunstelinge: 
Echeveria agavoides: ‘n Enkele stamlose roset wat taamlik groot kan word voordat daar kleineres aan die basis begin uitgroei. Saam maak hulle later digte polle. Die blare is soms donkergroen, soms bleekgroen – na gelang van die kweektoestande. Die blare is skerp en gepunt en die rande is bloedrooi. Die fyn blomstele is nie opvallend by hierdie spesie wat ook meer koue en droogte kan verdra nie.
Echeveria deranosa: Die plant vorm baie diggepakte rosette met ronde, grysgroen blare met maroen rande. Dit dra geel blomme aan lang stele.
Echeveria “Metallica”: ‘n Stywe, gloeiende roset met gladde,lepelvormige blare met helderpienk  en grys tinte.  
Echeveria gibbiflora “Rosea”: Die stamlose, kompakte groeier lyk heeltemal anders as die gewone echeverias. Die blare is seegroen, erg gekarteld en sag. In dié spesie is ‘n geweldige variasie wat ander soorte met helderkleurige, gekarteld blare insluit wat regtig groot word en ‘n mens aan ‘n vulkaan herinner. Hulle is ongelukkig skaars in die handel en volgens kwekers nie so maklik om te vermeerder nie. 
Echeveria runyonil “Topsy Turvy”: Digte, stamlose rosette met poeierblou of grys blare wat terugkrul en hulle ‘n onderstebo voorkoms gee. 
Echeveria shaviana x affinis “Black Prince”: ‘n Digte roset met sjokoladebruin blare met skerp puntjies. Volson verdiep die kleur van die blare, terwyl ligte skadu die ryk loofkleure verbleek. Hy dra bloedrooi blomme in die laat herfs.

DINGE OM TE WEET:
Tuiniers wat geduld het, kan bloot ‘n paar blare van ‘n roset lostrek en op ‘n koerantpapier gooi in ‘n plat kartonboks wat in die koelte gehou word. Binne ‘n paar weke sal helderpienk worteltjies uit die blaarbasisse verskyn en dan kan dit in potjies in ‘n klam sukkulentmengsel geplant word. Wag ‘n paar dae vir die wortels om anker te skiet in die grond en gee dan eers water.
Individuele rosette kan ook uit ‘n welige plaat plante verwyder word en ongeworteld op ander plekke oorgeplant word. In so geval moet die grond eers liggies klam gehou word, anders vrot die plante.
‘n Voortplantingsmetode wat baie plesier gee en goeie dekorwaarde het, is om rosette met ‘n kort steeltjie aan, van die moederplant los te sny en in ‘n helder verligte vensterbank in die nek van leë glasflesse of ou wynbottels uit te stal. Moenie water in die flesse of bottels gooi nie, hulle moet droog wees.
Binne ‘n paar weke sal die ogies aan die stamme wortels spruit en dan kan jy sommer ‘n kitsplant met wortels en al in ‘n pot plant.
Terwyl hulle in die vensterbank staan, het jy iets om mee te spog en waaruit jy hope plesier kry, want almal wat kom kuier, kyk daarna en vra vrae.
Menige jong tuin-entoesias het al op dié manier ‘n lewenslange belangstelling in tuinmaak ontwikkel wat met steggies begin het. 

 Is dit nie wonderlik nie! 'n Blaartjie val op 'n klip en nà 'n tydjie verskyn 'n piepklein roset....die begin van groot dinge! Tuinmaak vervul my keer op keer met verwondering en bewondering.

Tuesday, 18 March 2014

'n Heerlike uitstappie

Vandag skyn die son. Dis Dinsdag, die 18e Maart 2014 en ons gaan op 'n uitstappie. Hoe wonderlik dat die weer saamspeel. Die afgelope weke het ons so baie reën gehad. Natuurlik is ons dankbaar, maar ai, dis darem ook lekker om weer die son te aanskou! VLU Van Riebeecktak gaan vandag een van die bome van die jaar nl. die laventelboom, plant.  Bo ons koppe is die lug oop en skoon.

 Op die kerkterrein van NG Nooitgedacht is 'n netjiese gat gegrawe.


Yolande Steenkamp is die sameroeper van hierdie vergadering. Ons almal het dit terdeë geniet.


Heteropyxis natalensis is 'n lieflike boom om in  jou tuin te plant. Dit het 'n mooi vorm en voorkoms. Die bas is ook baie aantreklik. Dis 'n kleinerige, ornamentele boom. In kouer dele vertoon dit pragtig in die herfsseisoen voordat die blare afval. In warmer dele is die boom immergroen. Gekneusde blare en takkies ruik sterk na laventel. Heerlik!
Familie: Heteropyxidaceae  (Laventelboom familie) 
Waar kom die naam vandaan? Heteropyxis – van Grieks ‘heteros’, wat "verskillend" beteken en Latyn 'pyxis' wat 'n "bottel of deksel" beteken, verwysend na die vrugte wat verskil van die Mirtelfamilie. Natalensis – van Natal, nou KwaZulu-Natal.


Dit kan 4-8 meter hoog word en is omtrent 3-5 meter breed. Dit het eenvoudige blare met gladde rande, die blomme ruik soet en is geel-romerig van kleur. Wanneer dit begin kouer word, verander die blare se kleur is lieflike geel, bruin, rooi en pers kleure. Die vrugte is ovaalrond, klein en bars oop wanneer dit ryp is. Daar is vier saad-kompartemente binne-in. Die bas van jong stamme is bleek-bruin, glad en soms krummelrig. Op ou stamme is dit bleekgrys, bruin en het 'n pienkerige tot oranje ondertoon. Die aantreklike kollerige spatsels kleur van ouer stamme is 'n uitstaande kenmerk van die laventelboom. Die bas "skil" af en maak 'n pragtige vertoning. ('n kunstenaar se droomskildery!) 

(Elkeen van ons het 'n beurt gekry om 'n graaf grond in die gat te gooi. Lieflike ryk, rooi grond)

In ons tuine is die laventelboom beslis een van Suid-Afrika se aantreklikste kleiner boomsoorte. Dit vertoon pragtig in kleiner tuine. In groter tuine kan dit in groepe aangeplant word vir meer effek. Dis 'n baie goeie boom vir 'n wildlewe-vriendelike tuin, want dit lok insekte en voëls. In 'n groot pot geplant, maak dit ook 'n baie mooi vertoning. Die laventelboom is ook 'n gewilde bonsaiboom. Dit groei vinnig, tot een meter in 'n jaar. Dis maklik om te onderhou. Voed dit met organiese voeding of kompos en beskerm jong boompies teen koue. Dis rypbestand, maar moet beskerm word wanneer dit jonk is. Dit hou van vol son, maar sal ook gelukkig wees in gedeeltelike skadu. Skoenlappers hou van die blomme en voëls wat graag insekte vreet, word deur die laventelboom aangelok. 

(Luitha weet van bome plant!)
Dit het ook medisinale voordele: 'n heerlike tee kan van die blare gemaak word. Blare kan ook, wanneer tot 'n vloeistof gekook word, gebruik word om verkoues te voorkom. Die wortels en takkies se sap kan gebruik word om tandvleisontsteking en infeksies te beveg. Boombas word gebruik as teenmiddel vir impotensie.
Koedoes, duikers en swart renosters is baie lief om die blare te vreet. Die blomme lok bye, skoenlappers en ander insekte. Die hout is swaar, hard en sterk. Dit word meestal gebruik vir heiningpale. Blare word gebruik vir potpourie en parfuum.
(Marietjie weet van graaf hanteer! )
 

By Ezemvelo, naby Bronkhorstspruit, is daar heelwat laventelbome te sien. Dit word aangetref in KwaZulu Natal, Noordwes Provinsie, Gauteng, Mpumalanga en ook in Zimbabwe.
(Inligting deur my in Afrikaans vertaal, verkry vanaf Witkoppen Kwekery.)


(Niks beter as 'n netjiese paar crocs om die grond vas te trap nie!) 



En kyk nou net! 'n Laventelboom is geplant vir ons nageslag om te geniet. 
(Jolanda, Marietjie en Yolande)

Herfs is mooi

Herfs kom vroeg vanjaar of verbeel ek my? Aan die buitekant van ons erf staan 'n boom waarvan die blare elke dag anders lyk. Elke dag meer geel, meer bruin, meer herfserig...



Herfsvreugdes

As herfs sy bruine en sy gele
en sy pasella rooi
oor my werf in warrelende blare strooi
dan jubeljuig ek sommer so vanself
want geen seisoen maak my so baie bly
as hierdie een met sy sagte
 tusssen-in seën

Elizabeth Kendall ©



Tuesday, 11 March 2014

Internetloos


Ek wil-wil myself jammer kry. Dis vandag die derde lang dag sonder internet. Die eerste een was nie so erg nie. Oudergewoonte was ek baie vroeg wakker en het gesien net vier van die vyf modemliggies brand. Ag tog! Ek het ge-Bybel en gebid en gekoffie en moes vroeg saam met Jolanda  ry om Pretoria Streekkonferensie van die Vroue Landbou Unie te gaan bywoon. Heimlik het ek gehoop die vier brandende modemliggies sou weer vyf wees as ek terugkeer.

Helaas! Dit was toe nie die geval nie. Ek het my diensverskaffer gebel. “Dis Escom se loadshedding!” is aan my gesê. “Dit het oral groot probleme veroorsaak! Jy sal Telkom moet bel.”

Om Telkom te bel, sit nie in elke ou se broek nie. Dié van julle wat dit al gedoen het, sal weet waarvan ek praat. “To report an existing problem, press one! “ “To do this...press two! To do that...press three!” “Klangelêngelêng!” speel onaardse musiek in my ore. “Thankyou for your patience! Our service consultants are all busy at the moment. We will answer your call as soon as a consultant is available!” Oor en oor. Oor en oor. En ek hou aan. Ek luister wraggies daarna. Oor en oor. Niemand doen moeite om die foon op te lig aan die anderkant nie. Niemand. Na ‘n uur is ek moeg.

Later probeer ek weer. Geduld is die wagwoord. Na tien minute antwoord ‘n witman. Sela. Engelse aksent. Sy naam is Chris. Amper soen ek hom dwarsdeur die telefoon. Hy vra ek moet die modem afskakel. Ek doen dit. Skakel weer aan. Hy toets dit waarskynlik aan die anderkant, ek hoop en dink so. “There is a problem with the exchange!” Hy vra my selnommer. Hy sal dit rapporteer. Hulle sal vir my ‘n "fault"-nommer stuur.

“Hoe lank gaan dit vat?” vra ek die “million dollar question” op my mooiste Ingils.

“Difficult to say. Maybe tomorrow...” probeer hy my troos. Ek weet dis nie waar nie.

Dis nou al oremôre en niks het gebeur nie. O, ek het Vrydagaand ‘n sms gekry wat sê die ADSL is “restored”. Ek kyk. Nee, dit is nie. Ek stuur ‘n groot “NO” as antwoord terug aan wie ookal in ‘n droomwêreld  lewe.

Saterdagoggend het ek ‘n faultnommer per sms gekry. Die derde dag. Dit reën en reën. Niemand sal “exchanges” regmaak as dit so reën nie. Nog reën word voorspel. Intussen gaan my foon ook van die MTN netwerk af. “Yellow!” antwoord die MTN-stem. Ek wil amper sê “BLUE! Not yellow”, maar laat hulle begaan. Gelukkig word die foonprobleem redelik gou opgelos. Daar was fout met een of ander “setting”.

Ek bel my diensverskaffer om te hoor wat hy sê.

“Wat gaan aan?”

“Ons het gehoor MTN het ook gecollapse!”

Ek wil sommer ook koelêps.

My tweeling verjaar vandag. 33 jaar oud. Ek was 33 toe ek hulle gekry het. Wonderlike seëninge, altwee is gelukkig getroud. Ek stap deur die tuin, probeer om nie aan die klein-jakkalsies-wat-wingerde-opvreet te dink nie.  Dit voel asof my naelstring met die res van die wêreld afgeknip is, sommer netso, sonder enige waarskuwing. Dis goor.

Môre is Sondag. Ek het min hoop dat daar op ‘n Sondag iets gedoen gaan word om die toestand te verbeter. Wat my pla, is dat ek betaal daarvoor. Baie. En ek kry geen diens nie. Nul per mond. Ek voel soos ‘n pasiënt.  

Iewers in die nag se kleinste ure word ek wakker. Ek lees Solly se boek en ek praat met die Here.

Ek wonder oor VLU Noord se uitnodiging aan my as “Kunstenaar van die Jaar”. Ek beter begin dink wat ek gaan sê, wat ek gaan doen, wat ek gaan saamneem. Meimaand is nie meer so ver nie. Ek ruik die reën en die nattigheid in die tuin onder die donker bome toe ek Brakkies uit laat gaan om te piepie. Doodstil in die nag. Die fontein se water is die enigste geluid wat ons hoor. Dit bring vrede en kalmte. Ek gaan maak vir my koffie. Dis half vier op ‘n Sondagoggend. Daar is iets heerliks aan alleen wakker wees. Ek tel my seëninge een vir een.

En so het nog ‘n dag vebygegaan. Ek het myself besig gehou met ander dinge, met Chris gekuier en musiek geluister. Aand se kant bel ek Telkom. Om ‘n lang storie kort te maak, die knap konsultant aan die ander kant laat my toe, seker uit desperaatheid, ‘n tandestokkie in die modem druk. Sy verwys my na ‘n “high level fault”-konsultant. Lg. reken sy kan my nie help nie, my diensverskaffer moet. Ek bedank haar innig...vir niks... en sit die foon neer.

Wat was my verbasing groot, toe ek sien VYF liggies brand by die modem! Dit lyk soos “Sun City” hier onder die tafel! Jubelend skakel ek die rekenaar aan, net om weer teleurgestel te word. Google wil nie oopmaak nie, geen konneksie. Ek bel vir Anton op die heilige Sondag. “Meisiekind, daai tandestokkie het gemaak dat jy jou “password” verloor het!” Ag tog. Wat is ‘n pensioenaris nou sonder ‘n password?  Hy belowe om môre ‘n draai by my te kom maak en alles te herstel. Ek loer na die vyf troosliggies.

Vandag is môre. Die vyfde dag sonder internet. Dis Maandag en dit reën en reën. Plas-plas-plas, val die druppels hier buite op die plaveisel. ‘n Nuwe, nat dag lê voor.  Kom ons kyk wat gebeur vandag.

Hoera!! Die diensverskaffer-jongeling het Maandagoggend redelik vroeg alles kom opfix! Nuwe password ens. ingesleutel. Alles werk weer. Klopdisselboom. Of laat ek liewer sê: “connected”!

Is dit nie ‘n storie dat ons so afhanklik is van dié dinge nie? Dis maar hoe dit is in 2014. Hoe gaan dit wees oor ‘n geslag verder wonder ek... 





Monday, 10 March 2014

Ons hou konferensie

Op Woensdag 5 Maart  het ek saam met Susan in die reën Pretoria toe gery waar ons ‘n uitstalling moes gaan “bou” vir  Pretoria Streek se konferensie.
Toe sy voor ons huis stop, het dit gesous. Soos dit al sous van laas week af en nog steeds gaan sous tot Vrydag, sê die manne wat weet. Ons was uitasem en natgereën toe alles uiteindelik in die motor gelaai is. Chris het oral gehelp en my Brakkies-worshond het alles bekommerd staan en bekyk agter die toe hek. Waar gaan sy Ounooi dan nou in die nattigheid tog heen? Hy het so klein en verlore gelyk op sy bal-en-kloupootjies. Gelukkig het ek geweet hy sou tevrede wees om by sy baas te bly en in sy warm bedjie te lê en slaap en wag.  Hagar, ons ou Labrador, het nie eers uitgekom om te kom groet nie, hy het van beter geweet!

Ons het heerlik gekuier en gesels op pad na Pretoria. Dit het een hele uur geneem om daar te kom, want die pad was nat en glad en ons was maar liewer versigtig.
 Hier is die mooi kis, kamerverdeler en ander dinge wat uitgestal is. 
‘n Spierwit hekellap uit toeka se dae gee ons uitstalling sommer ‘n hupstootjie!

 Pragtige porselein en doilies met kraletjies. 

Ons kwilt waaraan baie van ons taklede langer as ‘n jaar gewerk het, het ons spesiaal gaan leen om ook weer uit te stal. 

 
Toe het ons begin aflaai: ‘n trousseuakis, ‘n mat, ‘n kwilt, ‘n een-en-sestigjarige pop, (Marietjie, my pop wat my Pa my present gegee het toe en so vier, vyf was) gehekelde borslappies wat aan my tweeling behoort het, bloesies en porselein en doilies....wat nog? Dit moes alles deel van ons uitstalling wees met die tema: “Die vreugde van vrouwees”. Ons het dit so geniet!
Op ‘n stadium klim ons altwee bo-op die staaltafels om die kwilt teen die muur gehang te kry. Benoude oomblikke, sê ek vir jou! Ons is nie meer veertien nie. Ten spyte van die koel weer, was ek papnat gesweet en beangs en het my Ma uit my jeugjare hoor sê:
 “Sussa, moet jy bo-op alles klim my kind, is jy ‘n ribbok?”

Gelukkig was daar genoeg hande wat kon help. Luitha het die kunstenaar van die jaar, Laurika Rauch, se uitstalling gedoen en ons het mekaar oral gehelp en mooi gemaak. Ek dink die kis en kamerverdeler het baie mooi gelyk, wat dink julle? Mooi hout meubels is darem maar net ‘n lieflikheid op aarde!
Links voor is die mooi en outydse porseleinkoppies en doilies. Agter op die tafel waar my Marietjiepop sit, het ons ‘n mooi gehekelde tafeldoek gegooi. Handsakke, skoene, handskoene en krale was ook deel van ons uitstalling. Een van my skilderye moes die prentjie voltooi. Alles dinge wat ‘n vrou sou kon vreugde gee!  
Die blou blompotjie was Luitha s’n, ‘n kosbare en waardevolle kleinood. 

 

Ons was tevrede toe ons werk klaar was. Donderdag sou die konferensie plaasvind. Dié dag waarop net  vier van my modem se liggies douvoordag gebrand het. Ek het vergeet daarvan en gehoop dit sal alles weer reg wees teen die tyd dat ek tuis kom. Oor die nuus het ons gehoor van Escom se probleme en dat beurtkrag weer moontlik ons voorland gaan word. 
 
 
 In die kerk waar ons bymekaargekom het, was ons skaars aan die gang toe die krag afgaan. Dit was skemerdonker. Die streekvoorsitter, Lily Coetzee, het haar nie laat onderkry nie en ‘n mikrofoon wat met batterye werk, gebruik. Die klank daarvan was uitstekend! 

 Ons het die konferensie baie geniet....ten spyte van ‘n baie lang kragonderbreking. Die gaskunstenaars het geduldig bly sit en gewag dat die krag moet aankom. Toe Johan Coertzen teen half een besluit hy gaan nou maar a-capella sing, spring die ligte aan net toe hy die woorde: “Dan moet ek JUIG!...my Redder en my God” sing. Hoe paslik. Miskien moes hy al nege uur begin sing het! 
 


 Daar is baie trofeë uitgedeel en baie pryse gewen. Ek het weer onder die besef gekom van hoe knap en deugsaam ons vrouens is. Vaardig met naald en gare, wol en blomme. Talentvol. Wat almal moet weet, is dat die VLU nie net ‘n klomp tannies is wat naaldwerk doen en koekies bak nie. Daar is baie ander dinge wat ook gedoen word. Foto’s neem en prosa skryf is twee van dié dinge wat my baie naby aan die hart lê. 

 Luitha se rangskikking! (Gevorderd.)  Daar was ook beginner rangskikkings en die tema was: Groen, groen, groen! Is dit nie pragtig nie?





Wie sal 'n deugsame vrou vind? Haar waarde is ver bo korale!








 Vir dié wat nie weet nie, hierdie koek word 'n simnelkoek genoem. 

Ons skakelbeampte, Petra Maritz,  se album was ‘n oogfees! As ek ‘n beoordelaar was, sou ek haar loshande ‘n eerste plek, ‘n medalje en ‘n vakansie in Mauritius gee. Ure se werk het tussen die kleurvolle bladsye gelê. Al Van Riebeeck se bedrywighede is hierin opgeteken en sal bewaar bly vir ons nageslag. 






 Daar was genoeg om te bewonder en waardeer. Maryna Olivier het ‘n eerste prys losgeslaan met haar laphoed. Emma en Jolanda se bloese het ereplekke gekry, Yolande het eerste prys met haar foto van "Nuwe lewe" gewen, baie ander het ook trofeë en pryse gekry. 

 
  





 Die skrywers van die jaar: Herman Charles Bosman en Deborah Steinmair, se werk en foto's is ook baie mooi uitgestal.



 Die kleurskema was cherise en pienk en die tafels mooi gedek. 




                                   Hier sit Maryna, Luitha en Jolanda al heerlik en kuier!

‘n Collage van gebeurtenisse: