Die liefde vir tuinmaak is in die gene. Onlangs kom ek op 'n koerantuitknipsel, geskryf deur Anna Celliers, af oor "Tuinlewe". My oorlede Ma het dit jare gelede uitgeknip en gebêre. En ek het dit bewaar. Dit was lank voor die tyd van rekenaars en blogs en sulke dinge. Ek voeg my eie foto's en soms eie gedagtes by, lekker lees!
Eheverias of soos ons dit ook noem,
woestynrosies, het heelwat volksname. Skaamrosie en kliprosie is twee daarvan.
As ‘n mens hulle begin versamel en leer hoe om hulle te vermeerder, is dit
klaar met Kees! Dan kan jy maar weet die tuingogga het jou genadeloos en ernstig
gebyt.
Hierdie gewilde rosies se vorm en tekstuur
maak dat mens onmiddellik op hulle verlief raak. Hul perfekte rosetvorm en
lieflike loofkleur wat wissel tussen ysblou, duifgrys of dofgroen dwing
eenvoudig elkeen wat hulle in hul hand mag vashou, se bewondering af. Loofkleur
is altyd ook meer intens in die herfs en lente.
Uit een roset wat gelukkig en tevrede groei,
ontwikkel daar gou dik en vlesige stele met nog rosette wat weens hul gewig op
die grond lê. As hulle in groot potte geplant word, hang die vet rosette later
oor die rant-‘n geil gesig! Echeverias is dus ideaal vir tuinhangmandjies en
vertoon pragtig op balkonne.
Bo: Echeveria Setosa
Echeverias hou –anders as ander vetplant en kaktusse
wat lang tye sonder water kan oorleef- daarvan om gereeld water te kry.
Blomstringe aan lang stele wat ver bokant die blare uitstaan, verskyn in die
lente en somer. Baie soorte blom ook in die winter. Die woestynrosies blom
herhaaldelik in verskeie seisoene.
Soggens vroeg, of nà ‘n reënbui, is die dou-
of reëndruppels soos blink pêrels in die hart van elke roset en dan is hulle
vir my op hulle mooiste.
‘n Paar gunstelinge:
Echeveria agavoides: ‘n Enkele stamlose roset wat taamlik groot kan word voordat daar
kleineres aan die basis begin uitgroei. Saam maak hulle later digte polle. Die
blare is soms donkergroen, soms bleekgroen – na gelang van die kweektoestande.
Die blare is skerp en gepunt en die rande is bloedrooi. Die fyn blomstele is
nie opvallend by hierdie spesie wat ook meer koue en droogte kan verdra nie.
Echeveria deranosa: Die plant vorm baie diggepakte rosette met ronde, grysgroen blare met
maroen rande. Dit dra geel blomme aan lang stele.
Echeveria “Metallica”: ‘n Stywe, gloeiende roset met gladde,lepelvormige blare met helderpienk en grys tinte.
Echeveria gibbiflora “Rosea”: Die stamlose, kompakte groeier lyk heeltemal anders as die gewone
echeverias. Die blare is seegroen, erg gekarteld en sag. In dié spesie is ‘n
geweldige variasie wat ander soorte met helderkleurige, gekarteld blare insluit
wat regtig groot word en ‘n mens aan ‘n vulkaan herinner. Hulle is ongelukkig
skaars in die handel en volgens kwekers nie so maklik om te vermeerder nie.
Echeveria runyonil “Topsy
Turvy”: Digte, stamlose rosette met poeierblou of grys
blare wat terugkrul en hulle ‘n onderstebo voorkoms gee.
Echeveria shaviana x affinis
“Black Prince”: ‘n Digte roset met sjokoladebruin
blare met skerp puntjies. Volson verdiep die kleur van die blare, terwyl ligte
skadu die ryk loofkleure verbleek. Hy dra bloedrooi blomme in die laat herfs.
DINGE OM TE WEET:
Tuiniers wat geduld het, kan bloot ‘n paar blare van ‘n roset lostrek
en op ‘n koerantpapier gooi in ‘n plat kartonboks wat in die koelte gehou word.
Binne ‘n paar weke sal helderpienk worteltjies uit die blaarbasisse verskyn en
dan kan dit in potjies in ‘n klam sukkulentmengsel geplant word. Wag ‘n paar
dae vir die wortels om anker te skiet in die grond en gee dan eers water.
Individuele rosette kan ook uit ‘n welige plaat plante verwyder word en
ongeworteld op ander plekke oorgeplant word. In so geval moet die grond eers
liggies klam gehou word, anders vrot die plante.
‘n Voortplantingsmetode wat baie plesier gee en goeie dekorwaarde het,
is om rosette met ‘n kort steeltjie aan, van die moederplant los te sny en in
‘n helder verligte vensterbank in die nek van leë glasflesse of ou wynbottels
uit te stal. Moenie water in die flesse of bottels gooi nie, hulle moet droog
wees.
Binne ‘n paar weke sal die ogies aan die stamme wortels spruit en dan
kan jy sommer ‘n kitsplant met wortels en al in ‘n pot plant.
Terwyl hulle in die vensterbank staan, het jy iets om mee te spog en
waaruit jy hope plesier kry, want almal wat kom kuier, kyk daarna en vra vrae.
Menige jong tuin-entoesias het al op dié manier ‘n lewenslange
belangstelling in tuinmaak ontwikkel wat met steggies begin het.
Is dit nie wonderlik nie! 'n Blaartjie val op 'n klip en nà 'n tydjie verskyn 'n piepklein roset....die begin van groot dinge! Tuinmaak vervul my keer op keer met verwondering en bewondering.