Showing posts with label kuns. Show all posts
Showing posts with label kuns. Show all posts

Sunday 30 June 2013

Uit die gemak van jou binnekamer

In Februarie 2010 sluit ek aan by RedBubble. Dis nou drie jaar en 'n paar maande later. Ek is nog steeds elke dag daar doenig. Nie net as gasvrou van 'n heerlike groep genaamd  AFRIKAANS nie, maar ook om op gereelde basis van my eie kuns en foto's uit te stal en aanlyn te verkoop.

Die reël op RedBubble is, dat sou jy $100 verdien a.g.v. verkope op die blad, dit aan jou uitbetaal word binne 'n paar dae. Ek was al gelukkig genoeg om dié aardige bedraggie in Rand te ontvang. Dit gebeur natuurlik nie elke dag nie. 'n Mens moet geduld hê. Maar op 'n dag het jy alweer genoeg kaartjies, afdrukke en /of plakkate in verskillende groottes of soorte (fotografies, gemonteer, geraam of op doek) verkoop om jou volgende $100 in jou sak te hoor klingel. Hoe heerlik is dit nie om 'n e-pos te ontvang wat jubelende woorde soos dié bevat nie: "You've made a sale on RedBubble!"

Dikwels weet 'n mens nie eers wie jou werk gekoop het nie, maar soms kry jy 'n warmhart-boodskap van iemand ver oor baie blou waters...iemand wat gedink het jou werk is so mooi dat hy/sy dit wil besit. Dis 'n wonderlike gevoel. Dis genade. Dit maak mens bly en gee soveel bevrediging.  

Hier is 'n paar voorbeelde van hoe 'n kaartjie lyk wat direk van RedBubble af gekoop kan word met die klik van jou muis. Hoe meer kaartjies jy koop, hoe goedkoper word dit. Ek het al dikwels van my eie kaartjies bestel en was nog nooit teleurgestel nie. Die wete dat daar nêrens op Moederaarde presies nog so 'n kaartjie is nie, is 'n baie lekker en bevredigende gevoel en dit verskaf hope vreugde om so 'n kaartjie aan iemand te gee met sy verjaarsdag of wat ookal die geleentheid sou wees.

En so lyk 'n fotografiese afdruk:
 
 
'n Gemonteerde afdruk lyk so:
 
'n Doek (canvas print) lyk so:
 
 en 'n "mounted print" sien so daar uit:

 
Bg. foto is in my tuin geneem. Twee rooiborsduifies wat geweet het hulle moet mooi stil sit en wag vir die klik van die kameraknoppie! ;-) Dis nie aldag maklik om mooi foto's van voëls te neem nie, maar soms is jy baie gelukkig. Hierdie foto was al benoem as WEG se "Foto van die dag", wat natuurlik vir my 'n  groot aansporing was.
 
Op RedBubble kan mens ook almanakke koop. Hier is 'n hele paar voorbeelde van Kalenders wat ek uit my kuns /foto's saamgestel het. Die gehalte van die drukwerk is puik. Ek het al self twee maal daarvan bestel. Dis ook 'n baie gawe geskenk aan iemand aan die einde van 'n jaar.
 
 Klik op die skakel as jy dit van naderby wil beskou: "My tree calendar"
 
In ons groep AFRIKAANS het ek en Maree Clarkson wat die tweede gasvrou van die groep is hope pret. Mense oor die wye wêreld heen stuur aan ons hul mooiste foto's, kuns of skryfwerk. Een maal per week gee ons erkenning aan die heelbeste werk en stal dit uit op ons voorblad . Ons het ook voortdurend uitdagings waaraan lede kan deelneem. Een maal per week gee ons erkenning aan lede wat uitstekende foto's /kuns na ons groep stuur. Hier is 'n voorbeeld van hoe sulke werk lyk: ERKENNINGS / FEATURES. Aan die begin van 'n nuwe maand kies ons een lid wat ons dan spesiale aandag gee en wie se werk uitgelig word sodat almal dit kan geniet. Ons jongste erkende lid was Carisma. Kom geniet gerus haar pragtige foto's van veral wildlewe in Afrika. Elke Vrydag soek ons ook na een besondere kunswerk en foto en noem dit dan Groot treffers / Big hits. Sulke aanmoediging is dalk net wat almal nodig het! 'n Hele paar lede van ons groep stuur gereeld Afrikaanse skryfwerk in wat ek ook in die Sondagsiestas gebruik.

Daar is ook op gereelde basis baie interessante en leersame Saterdaggeselsies / Saturday Chats wat deur Maree behartig word. Ek doen een maal per maand 'n Sondagsiesta wat my groot, groot vreugde verskaf. Dan soek ek die mooiste gedigte uit oral op fb-gedigteblaaie en ander webbladsye en stal dit saam met die pragtige kunswerke en foto's van ons lede uit. Die terugvoer wat ons kry is vir ons baie werd.  Kom sluit gerus aan en deel in die vreugde wat die "Rooi Borrel" bied.
 
En nou is dit koffietyd..... dankie dat jy hier kom inloer het!
 
 se mooi waterverfwerk: "Be a coffee drinking-individual, espresso yourself!"
 
 
 
 
 
 

Thursday 3 January 2013

Die internet en sy dinge

'n Week of so gelede ontdek ek dat 'n mens 'n video van Picasa af op YouTube kan laai en dit die wye wêreld in kan stuur....ek dink ek het omtrent soos Jamie Uys gevoel toe hy sy eerste fliek gemaak het! My eerste video, kompleet met musiek en al, word toe gemaak deur net aan te hou klik en klik en lees en lees. Vir iemand wat as kind langs die plaashuis se muur sit en karringmelk skud het totdat dit in goudgeel botter verander het, iemand wat verstaan wat die spreekwoord: "'n Oulap se rooi maak mooi" beteken en iemand wat saans na "Die Du Plooys van Soetmelksvlei" oor die radio geluister het, is dit 'n taamlike prestasie! Glimlag. Die tegnologie ontwikkel en verander so vinnig en daar kom elke dag nog iets nuuts by om te leer.

Ek deel graag my kuns-en-musiekvideos met almal wat hier inloer....o ja, ek weet daar is nog soooo baie om te leer, maar dié is nog maar net die begin! (klik op elke skakel as jy wil luister en kyk. )

Paletmeskuns / Paletteknife art

en toe sommer nog een....

Ek is lief vir kuns! / How do I love art!

en nog een:
Skilder met koffie / Painting with coffee

As jy enige raad, hulp en gawe wenke het om met my te deel, gaan ek so bly wees om van jou te hoor. Intussen: geniet dit! En wie weet, dalk word jy lus om 'n kunswerk te bestel, ek skilder graag op aanvraag.

Terwyl ek nou met bemarking besig is, sal dit seker niemand kwaad doen om ook hier te gaan kuier nie:

Paintings I love

RedBubble: Elizabeth Kendall

South African Artists. com

Elizabeth se kuns / Elizabeth's art

Baie dankie vir jul ondersteuning, aanmoediging en veral liefde. Gedeelde vreugde is mos ALTYD dubbele vreugde!









Saturday 30 June 2012

My plek

Elke mens moet 'n plek hê: 'n plek waar jy kan werk, kan speel, kan droom. 'n Plek waar jy kan lag of huil of sommer net wees.  Ek is so dankiebly oor my plek. Toe die kinders nog almal in die huis was, was dié plek die twee oudstes se slaapkamer.

Elke oggend begin my dag hier...in stilte. Ek lees Bybel en bid.  Ek het dit nodig, dis soos batterye laai, dis soos asemhaal...ek kan my nie 'n dag daarsonder indink nie.

En natuurlik is die lekker warm koppie koffie 'n bonus!



Dié vertrek is nou 'n kunsgalery. Soort van. Kyk maar self! Ek stal skilderye hier uit, dié wat op bestelling is en dié wat nog gekoop moet word, dié wat my nooit wil verlaat vir geld nie en dié wat ek verniet weggee...


Soggens klouter die winterson stywebeen hier by die venster in. Hier kan ek lekker alleen wees. My tafel staan reg langs die sonkol. Ek luister musiek of sommer net radio.


Baie maal luister ek net na die stilte of die voëls hier naby. Dis heerlik om hier te kan wegraak van die wêreld af en te doen wat ek wil, hoe ek wil en wanneer ek wil. Dis kos vir my siel! Ek het dit nodig. En ek geniet dit so.





In die een hoek bly my boeke en baie foto's....albums vol van my en hom, ons gesamentlike kleinkinders, kinders, familie en vriende in en uit elke stadium van ontwikkeling en groei en saam menswees.

Hier skryf ek ook soms verse as die goeie muse oor my neer sou daal.... woorde in my lieflingtaal.

In die lekker groot ingeboude kaste is daar baie pakplek vir al my goeters...skryfgoed, papiergoed, verf, kwassies, paletmesse...ag sommer alles.
Teen die kaste plak ek die skilderye wat op x-straal gedoen is: vir die lekker en vir die mense wat kom inloer om saam met my te geniet! Ek hou nie meer uitstallings in die tuin nie. Bronkhorstspruit is nie 'n kunsdorp nie. Ek stal my werk uit op die internet. Daar is verskillende webblaaie:
en
en
Ek het al wonderlike terugvoering van aldrie hierdie webblaaie gekry. Dis elke keer 'n yslike verrassing en 'n groot blydskap!

Hier word baie nuwe skilderye gebore....ek werk graag op die tafel, soms gebruik ek die esel wat Liefman vir my op my verjaarsdag present gegee het.

 Langs die venster staan die voëltjies se waterbak.
Dis van hierdie hoek af wat ek hulle "bekruip" en my bes doen om mooi foto's te neem. Soms werk dit, soms nie.

En hier staan my "gewete"...as ek voel my klere sit nou bietjie te styf, dan trap ek fiets vir 'n week of twee en die Kaap is weer Hollands. Ek is nie vreeslik lief vir oefen nie, maar in die wintermaande is dit tog lekker om die stram en stywe skarniere bietjie op te warm... en dis glo gesond vir 'n mens, sê dié wat weet!


Elke mens het 'n plek nodig. Hierdie is my plek.
En ek sê dankie daarvoor.

Wednesday 30 May 2012

Nabetragting

♪♪ “Die-ie arbeid van jou ha-ande
sal jy met vreug’ geniet
wa-an-neer die koringla-an-de
met seën hul opbrengs bied ” ♪♪

sing ek saam met die res van die gemeente en  w e g  spring my gedagtes tot op die groenwordende grasperk van ons geliefde en bekende tuin. Weg spring hulle by die swaar houtdeure van die ou kerk uit tot binne-in gister in.

Die waar woorde van die ou bekende psalm kom skop nes teen my ribbes: “Die arbeid van jou hande…” ek sien die verf: die blou , die groen, die bruin, die wit. Ek sien die wye vlaktes van ‘n oop, skoon doek. Ek voel die uitdaging. Ek beleef die opwinding. Die esel staan en wag. Musiek speel. Die wêreld raak vergete. My hart kom lê klam in my oë. Ek verf.  My siel lê tussen die kleure, my hart klop in my vingers. Ritmes en patrone maak sin op die doek.

‘n Skildery word gebore.

…..”sal jy met vreug’ geniet ”

Ek sien die baie skilderye op die grasperk staan: hier ‘n landskap, daar ‘n abstrak, hier ‘n akriel, daar ‘n olie. Ek hoor die mense praat, lag, gesels, kuier.  Ek luister na die duiwe tussen die groen van die karee en die plataan. Blydskap klim in my keel op, die vreugde van werk, die wonder van menswees, die heerlikheid om te deel met ander wat ook van dieselfde dinge hou.

Werk het werklik net plesier geword, werk is ‘n voorreg, werk is lewe. Gister was geseënd. Gister was goed. My dankbaarheid staan kiertsregop in goudgeel are op spreekwoordelike koringlande.  Ek vryf die korrels tot meel in my nabetragtingsgedagtes oor ‘n kunsuitstalling gehou op eie werf.  Ek eet my blyweesbrood omdat ek mag doen wat ek die graagste wil. Nou……. en elke dag vorentoe!

Elizabeth Kendall ©
Bg. skilderye is op S.A. Artists.com verkoop aan iemand in Engeland. (2010)

Sunday 27 May 2012

Raakgesien



Tussen Montluçon en Aubusson
sit ‘n lenige, donker man
droomverlore en staar
na duisende kunswerke op die internet

sy kennersoog
val op ‘n abstrakte prentjie
wat vroegoggend opgelaai is,
gepos en geraam

(amper soos Ma se ingelegde perskes
van toeka wat op die spensrak staan
en almal se monde laat water)

amper so….net anders

en die man merk dit
met sy lang, dun vingers
as een van sy gunstelinge

en onder die bruin akkerboom
bokspring haar hart
en lê ‘n glimlag
in haar oë
want sy het mos maar net
in haar passie geglo

Elizabeth Kendall ©

Saturday 26 May 2012

'n Bestelling



Van hier tot in die Karoo is daar glo altesaam 280 000 windpompe op plase in Suid-Afrika. Dit klink buitensporig, maar dit het gesorg dat ons die land die grootste aantal windpompe ter wêreld het. Australië is die enigste land wat amper soveel het.

Hier is ses Suid-Afrikaanse windpompe!

Ek het dit geniet om dié bestelling met

waterverf 

te doen! Hoe paslik!


Wednesday 16 May 2012

'n Passie....dis wat dit is!


Daar is twee dinge wat ek besit wat my so baie vreugde gee: my paletmes en my vulpen. Om met 'n vulpen te skribbel is mos net heeltemal anders as om met enige ander pen te skryf. Die sensasie van nat ink op papier, die vaartbelynde lyf van 'n vulpen, die uniekheid daarvan....ag, ek HOU VAN 'n vulpen!

 So is dit ook met my paletmes. Ek het 'n hele paar van hulle: daar is een met 'n smal, lang lem, 'n kleintjie, 'n groter, vetter een... tot selfs ene met 'n vierkantige lem. Elkeen van hulle doeltreffend op sy eie manier. Dié een waarmee ek hier bo gewerk het, is egter my gunsteling. Dié mes is al so tuis in my hand soos 'n eie kind in sy ma se hartholtes. Dis 'n mes van middelmatige grootte met 'n lem wat net lekker werk en alles doen wat ek begeer. 'n Gewillige mes dus. Een van die grootste plesiere in my dag is om met dié mes te plak en te pleister, te smeer en te trek en te druk, te draai en te swaai...met 'n verskeidenheid kleure gelaai. Ek vergeet die wêreld. Ek vergeet van seerkry en hartseer en mistroostig wees. Dis wonder-oomblikke van suiwer genot, dis genade op genade. Dis dankie-blywees in die oortreffende trap. Dis jubel en juig. Dis hemels.

En as ek klaar is en ek staan terug en bekyk my handewerk, dan stroom daar 'n blou rivier van vreugde oor my gemoed, want ek weet waarvandaan dié gawe kom. Dan voel ek skatryk en geseënd en lyk elke  môre splinternuut en mooi!

Monday 7 May 2012

Winterwoorde.

Winterwoorde.

Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in die tuin tussen koue klippe en vaal gras.

Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone. Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.

Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en druiwekonfyt, dikgeplak.
Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.

Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike lugreëling in die voorste kamer.

Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers, grys soos die winterlug vanself.

Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.

Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike, helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop, baie ver van hier.

Elizabeth Kendall ©