Showing posts with label gedagtes. Show all posts
Showing posts with label gedagtes. Show all posts

Friday, 28 December 2012

Oujaargedagtes en dinge.


Dis drie dae voor die jaar 2012 verby is. Verby vir altyd.  Dis drie dae na ‘n mooi Kersdag in my lewe. Geseënde saamweestye. My seun wat so opreg aan die etenstafel in Engels bid: “Make us fond of You.” Een sin, diep woorde. Die resep vir ‘n vol en oorvloedige lewe!
 “Fond”…hoekom het ek nog nooit besef dat dit een van die heelmóóiste woorde in Engels is nie? Die woordeboek verduidelik:  Having a strong liking, inclination, or affection en daar word ook gepraat van:  Affectionate; tender: a fond embrace.
Daarom wil ek soos Paulus in die boek Thesalonicense dit uitjubel en sê: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.

Vanoggend was ek weer so dankiebly! Ek kry ‘n verrassing in my posbus. ‘n Brief van my Pa-se-neef Kosie en in die pakkie ‘n koper sleutelhouer wat hy eiehandig gemaak het. Ek kon nie wag tot by die huis om sy slakkeposbrief te lees nie. Dìt op sigself is iets besonders. Wie stuur in hierdie moderne tyd van e-posse en sms’e en bbm’s nog ‘n gewone brief? Heerlik, heerlik! Ek lees dit sommer so in die terugstap huistoe, sien in my gedagtes hoe hy die koper kersierooi met sy gasvlam maak, sien hoe hy staan en werk met die kapmes en ysterpunt om die verlangde effek te kry. In sy brief vertel hy my hoe hy te werk gegaan het. Ek hoor hom praat.

Ek lees met ‘n glimlag sy gedig:

Kopermasker

kersierooi in die vlam se gloed

hamerslae sekuur en goed

twee oë vir kyk

‘n neus vir ruik

‘n mond vir eet en drink

ryk versier

glad geskuur

gepoleer tot alles blink….
 
 

En dis myne! Ek kyk lank daarna. Agterop het hy my naam uitgekrap. En die
jaar: 2012. Kosbaar. Klein en tog groot. Ek voel skatryk oor my onverwagte
Krismisboks. 
In die akkerboom koer die dorpsduiwe. Die grassnyer dreun uit die bure se erf. Môre kom hulle terug van die see af. Dan kan hul goue Labrador weer sy spore in hulle erf trap. Hy het vir twee weke by ons loseer. Die mooiste hond met die sagste oë…het my so baie aan ons eie ou Lassa laat dink wat al lankal in die hondehemel woon. Hagar, ons swart (en ouer) Labrador, was baie verdraagsaam en geduldig teenoor die lewenslustige, stoute en goue Zulu.  Sy streke kan seker maar toegeskryf word aan sy jeug en verlange na sy mense. In ons erf het skielik gate verskyn, ‘n hele roosboom is opgekou en Hagar se kombers verflenter, maar nouja…..”fond” is en bly een van die heelmóóiste woorde.

Monday, 7 May 2012

Winterwoorde.

Winterwoorde.

Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in die tuin tussen koue klippe en vaal gras.

Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone. Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.

Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en druiwekonfyt, dikgeplak.
Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.

Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike lugreëling in die voorste kamer.

Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers, grys soos die winterlug vanself.

Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.

Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike, helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop, baie ver van hier.

Elizabeth Kendall ©