Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die
akkerboom het haar mooiste groen rok aangetrek. Smiddae na half vyf kom lê die
sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die
blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde
houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi
bakstene van die outydse vensterbank vas.
Onder die karee lag oranjerooi boslelies oopmond. ‘n Geelvink
bou sy nes bo aan een van die dunste takkies. Stukkies gras en blare val grond
toe. ‘n Lyster wip oor die grasperk. Sy geel snawel blink in die son.
Oranje botterblomme en persblou gesiggies groei welig in die
bedding naby die voëls se waterbak. Ek pluk ‘n takkie roosmaryn af en vryf dit
tussen duim en voorvingers. Die geur daarvan klou aan my hande vas.
‘n Motor ry verby ons huis. Iemand druk bont
advertensieblaaie in die gleuf by die voorhekkie. Die duiwe vlieg fladderend
weg. Ons swart hond blaf hard. Iewers lui ‘n telefoon .
Ek maak die deur oop en stap my werkkamer binne. ‘n Ligte
windjie laat die gordyn by die oop venster beweeg. “Twiet twieteriet!” fluit ‘n
mossie buite in die tuin. Dis somer in
Bronkhorstspruit.