Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê
en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te
glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n
heerlike wete.
Dis gerusstellend,
vertroostend, bemoedigend, verkwikkend. Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus.
Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak
dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies.
Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien
en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die
agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan
die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike
gevoel van afwagting. Ná die milde reën ontwaak die wêreld: die tuin begin blom, die vinkneste swaai
vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind.
Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut. Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te
bly!
Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe
met ‘n lied in ons harte. Selfs al sou
ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my.
So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op
die plaveisel my ook sê. Daarom stap ek en jy moedig deur die donker skaduwees tot by die
lig. Ons is nooit alleen nie. God is in
beheer. Hy is elke dag by ons.