Dis eers toe
ek binne is, dat ek die gevoel kry dat dit dié keer anders is. Ligter. Sommer
baie ligter. Weg is daardie vorige besoeke se vasdrukgevoel van kan-nie-asem-kry nie. Maar ons
weet nog niks. Geduld hang soos 'n swaar gordyn tussen ons en die blymaakkkonsert.
Tog glo ek. Hy ook. En ons wag.
Hulle roep
hom vir die "scan". Ek, immers aan sy sy, hoe dan nou anders? Hy trek die donkerblou jurk aan, verdwyn saam
met 'n jong dingetjie in 'n vertrek vol mediese apparate. Gaan lê op sy rug op
die smal bedjie. Self ook maar smal en baie bietjie nà 'n hele jaar se chemos
en bestralings.
Toe dié
prosedure klaar is, gaan wag ons vir die dokter. Hy sal sê. Ons lees laasmaand
se tydskrifte, rek bene buite in die lenteson, kyk hoe die vinke nesmaak in die
koorsbome, knoop geselsies aan met bekendes. Ons wag. Niks bekommerd nie.
Nà 'n uur of
wat mag ons die hemelpoorte binnegaan. Juig! Die mooie dokter groet met 'n
stewige handdruk. Ons wissel 'n paar onnodige woorde, kan nie gou genoeg by die
"million dollar question" uitkom nie: "Hoe lyk die verslae,
dokter?"
Toe hy dit
sê, voel ek hoe my oë van agter af warm word, vol word. As ek dit sou knip, sou
die blyweestrane bo-oor die tafel spat. "Alles lyk goed. Alles lyk reg!
Bloedtoetse reg. Geen snaaksighede nêrens nie, alles mooi!" Hoera, hoera!
Prys die Here! Elke klein en groot gebed is verhoor. Jubel en juig.
Toe ons
buite kom, plak ek 'n soen op my man se mond. Ons lag die lentedag mooier. Nou
net vorentoe kyk.
By die
winkelsentrum aangekom, parkeer ek bo en moet ons noodwendig van die roltrap
gebruik maak om te kom waar ons wou wees. Vir twee dinge in hierdie lewe is ek,
noem dit maar "skrikkerig": 'n hotnotsgot en 'n roltrap. Moenie eers
vra hoekom nie. Mens mag mos maar vir so min goed bang wees. Ek is.
Ek mik en
trap soos altyd in die verlede (soos nog voor Chris deur al sy driwwe en dale moes
gaan) en daar gaan ek. Af met die roltrap. Toe kyk ek om. Nooit! Daar staan my
man, heelbo. Verlore. Hy mik-mik. Sy hele lyf huiwer. Onlangse onkologie hang
oor sy onseker bene en arms. Paniek pluk aan my hart. 'n Vreemde vrou wat
boontoe roltrap ry, sien my angs. "Ek sal hom help," sê sy soos 'n
engel-uit-die-hemel. Die roltrap rol my al verder en verder weg van my
hartsmens daar bo. Ek bly omkyk. Kon ek maar in ‘n soutpilaar verander! Bid
hardop: "Moet asb. net nie nou vorentoe tree nie, my lief!" In my
gedagtes sien ek al hoe hy holderstebolder van bo af aftuimel en stukkend
breek.
Net toe is
die vrou by hom, langs hom, teen hom. Hy hou aan haar skouer vas en kom soos 'n
Kersfeespresent na my toe aan. Sela. Nog 'n keer dankie, dankie, dankie.
Dit was
gister. Vandag loop ons grondlangs, ons harte op die heelboonste roltrap van
die lewe.
29 Augustus
2015.