Dis 'n rustige Sondag. Die strate is stil. Die dorpsduiwe koer hul vredeverse. Ek staan en sing saam met die res van die gemeente. Ons kerk was al meer as honderd jaar oud. Ek was skaars vier toe ek die eerste maal hiernatoe gekom het. Intussen het daar baie water in die see geloop. Predikante en gemeentelede het gekom en gegaan. Die lewe het sy draaie geloop. Tog voel ek nêrens anders so tuis as hier in die bekende omgewing tussen die bekende mense van my tuisdorp nie.
Hoe mooi is die wysie van Skrifberyming 45 tog nie. So bekend, so bemind. Ek wens ons kon sommer al die versies sing. Troosryk is die woorde, vol heerlike beloftes.
Skrifberyming 45
Hy het my die stad getoon,
groot en van die hemel dalend,
en, deur God se ligglans skoon,
soos 'n kleurgesteente stralend,
helder soos 'n kristallyn
wat in al sy klaarheid skyn.
Rondom rys, gedug in krag,
twaalftal poorte in die mure.
Elkeen voor sy poort op wag,
staan die eng'le, glansfigure.
Bo hul blink, in vlammespel,
twaalf stamname uit Israel.
Lokkend staan die poorte oop,
oop na al die wêreldoorde,
dat die nasies toe kan loop:
van die suide en van die noorde
en vandaar waar son en maan
nie meer op- en ondergaan.
Uit die diepte omhoog geskraag,
rys die muur as skut en wering;
en daaronder, laag naas laag,
lê ie ewige fondering.
Van die Lam se apostelskaar
straal daaruit die name klaar.
In die stad se mate was
daar geen kleinheid en geen engte.
Van die klimmende terras
het die hoogte aan breedte en lengte
in sy maat geheel gelyk,
tot die hemelblou gereik.
En die muur was swaar van bou
wat die grote stad omring het;
glanse soos van môredou
was die glans wat dit deurdring het.
En die stad se boustof was
goud, deurskynend net soos glas.
Fondamente uit edelsteen
was dit wat die stad omlyn het.
Pêrelpoorte daaromheen,
wat met sagte lig geskyn het.
Goudbane al die strate was,
maar deursigtig, blink soos glas.
Maar 'n tempel, skoon van bou
(aan wat was nog steeds gedagtig!)
het my oog nie daar aanskou;
want die Here God almagtig
is sy tempel, en die Lam
is die helder altaarvlam.
En geen lig van son en maan,
wat hul wentel langs die transe,
sal daar op- en ondergaan:
God self skyn daar met sy glanse,
en die Lam is self die lig
waar 'n eewge nag voor swig.
Nasies, vry van die gerig,
kom uit nuwe wêreldlande
om te wandel in die lig.
Konings bring hul offerande
uit 'n volle wêreldskat:
eer en glorie, in die stad.
Vir 'n nag van skrik en vrees
word die poorte nie gesluit nie,
want daar sal geen nag meer wees
en geen klaag- of skrikgeluid nie.
Heerlikheid en eer alleen
trek dan deur die poorte heen.
Daar sal in die heiligdom
niemand wat die kwaad bedrywe,
ooit of immer binnekom.
Hul van wie die naam geskrywe
in die Lewensboek sal staan,
hulle sal daar binnegaan.
Die baie bekende woorde van Psalm 18 klink vanoggend sommer nuut. 'n Gevoel van groot dankbaarheid kom lê in my binneste. Ek luister na die lieflike orrelklanke wat daar bo van die gallery af kom en die hele kerkgebou warm maak. Elke woord kry betekenis terwyl ek so sing.
Psalm 18.
Ek het U hartlik lief, o Heer!
U is my sterkte en teëweer.
Die Heer’s my rots, my vesting
sterk,
my redder wat my heil bewerk,
my rots wanneer die stormwind huil,
my skild, die weerkrag van my heil,
my vesting op die bergkrans steil,
by wie ek vas en veilig skuil.
Ek sou graag wou hê dat Psalm 18 eendag op my begrafnis uit volle bors gesing moet word en almal moet weet hoe goed en groot die liefde van die Here is.