Showing posts with label moed. Show all posts
Showing posts with label moed. Show all posts

Saturday, 1 August 2015

'n Jaar van genade

'n Hele jaar is verby. Driehonderd-vyf-en-sestig en 'n kwart dag. 'n Jaar sedert ons die skrik-nuus gekry het: Chris het longkanker. In ons kleingeloof het ons krag gekry. Elke dag. Elke uur. Elke minuut. Die Here het ons vasgehou, ons gelei, ons gedra. Dwarsdeur elke drif en diepte, elke slaggat en sloot. Hy het Sy liefde en sorg oor ons uitgegiet en ons versterk.
En hier is ons nou met harte wat oorloop van dankbaarheid. Laasweek het Chrisjan sy eerste ordentlike haarsny gehad. Toe die Pakistani die knipper bokant en agter sy ore instoot, val daar hope hare op die vloer. Niks snaaks nie, maar vir ons 'n wonderwerk. Verby is die kaalkopdae. My man het weer hare! Hare wat blink in die son, hare wat gekam kan word. Skuinspaadjie, soos hy wil.

O ja, hy is nog swakkerig. En o ja, ek is nog steeds die vetter ene van ons twee. Ek moes mos eet om sterk te bly. Al was daar dae wat ek nie honger was nie. Hy kon nie, nie altyd nie. Daar was dae wat hy niks kon inkry nie. Maar nou kan hy. Hy eet die gesonde groentesop, die saggekookte hoendervleis, die broodjie-met-gouda op, hy eet alles wat ek vir hom aandra. Wonderlik is dit as hy sê:"Dit was heerlik!" En die kos bly binne. 'n Voordeel het uit al die nadele tevoorskyn gekom: ek het weer leer (lekker) kosmaak. Regtig.

Daar was weke in wit hospitaalbeddens, drips en kateters en swart susters, dokters wat verduidelik en mense wat bemoedig, dertig en nog baie meer dae van heen-en-weer ry Pretoria toe en terug. Nou is dit alles verby. Juig aarde juig!

Soggens as die winterson dooierus op die plaveisel langs ons huis vat, stap Chris buite rond, hy gaan saam Pick & Pay toe, hy koop self ons vleis by Kwaliteit Slaghuis, hy trek sy eie geld by die kitsbank al gaan dit sukkel-sukkel. Sy hande is nog dood, sy hak pyn, soms skiet einapyne deur sy bene. "Dit moet nog van die chemogif wees!" Ek smeer room aan en vryf sy dun bene. En ons bid sommer so heeldag tussendeur. Geduldig wees is 'n goeie ding.

Buite ons slaapkamervenster hang 'n voerplankie vir die voëls. Elke dag kom kleur janfrederik ons dag in. Die ou groot kransduiwe laat die plankie kantel, dan val die meelwurms op die grond, waar jantjie dit oppik. Goudgeel vinke en bontrugwewers, vaalgrys muisvoëls, 'n bottergatjie, klein glasogies en mooi bloedrooi houtkappers is almal deel van ons geveerde vriende. As Chris daar in die lekker warm bed lê, het hy 'n skouspel om na te kyk. Gratis en goed.  'n Presentjie reguit uit die hemel.

Môre verjaar my liefman. Die kinders kom kuier. 'n Naweek vol blydskap en dankbaarheid. 'n Lewe om te vier! Dankie Here. Dankie, dankie.