Showing posts with label behandeling. Show all posts
Showing posts with label behandeling. Show all posts

Saturday 11 April 2015

Dis goeie nuus


Hy was maar gespanne. Ek ook. Al het ons gebid, al het ons geglo. Was dit Izak de Villiers wat eens op 'n tyd gepraat het van "'n twyfelaar wat glo..." Is ons nie maar almal twyfelaars nie? Die oggend van 10 April het uiteindelik aangebreek. Die dag waarop ons sou hoor of Chris nog skoon is nà sy behandeling vir longkanker. 
Dit is nou twee en 'n halwe maand nà die laaste voorkomende breinbestraling. My man bly nog maer. Maar moedig. En vol humor. Ten spyte van. Hy dra sy nuwe kruisbande en swart pet. Sy vel en hande is skoon en mooi vandat hy nie meer rook nie. Sy oë helder. Al verdwyn hy nog in sy denimbroek, al bly die slukkery pynlik, al voel sy hande nog dood. "Nogtans sal ek jubel", het Habakuk eeue terug gesê. Nogtans. 
Toe ons gister by die Onkologie afdeling afklim, ('n dierbare vriendin het ons vervoer) voel hy opeens duiselig, sy bene knak sommer onder hom. Ek, wat die vorige dag 'n katarak ekstraksie en intra-okulêre lens inplanting* gehad het, voel ook nog nie juis pure perd nie. "Staan net stil," sê ek vir hom. Ons hang aan mekaar. Gelukkig val alles gou weer in plek en kan ons die afspraak gaan nakom. 
Toe ons later die dokter sien, brand ek van nuuskierigheid. Die bruin koevert lê voor ons op die tafel. Chris vra eers ewe ordentlik uit oor die jong dokter se fietstoer. Die oomblik toe hulle asemskep, vra ek: "Wat is die uitslag?" "Goeie nuus!" sê die dokter met 'n glimlag. "Alles lyk mooi, skoon, geen snaaksighede nie." 
Dankbaar is 'n klein woordjie. Ons kyk vir mekaar. Soos kinders wat 'n lankverwagte present gekry het. Genade, onbeskryflik groot. 
Die volgende skandering is eers in Augustus. Chris sal weer sterk en gesond word. Ons glo dit. Prys die Here ! 

*slim (en mooi) woorde wat ek op die pamfletjie gelees het. 
Foto van glasogies is in ons tuin geneem 'n dag of twee voor die goeie nuus. Dit was seker 'n soort blye boodskap! 

Saturday 13 December 2014

‘n Nuwe hoofstuk

Dis Saterdag hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos ‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir elkeen wat hier lees  ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©

Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©

Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes  aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©

Toe hierdie dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.