Showing posts with label blom. Show all posts
Showing posts with label blom. Show all posts

Friday, 3 April 2015

Langs die pad




Dis Goeie Vrydag. In die kerk ontroer die woorde van Skrifberyming 7 my:


Hy het die lyde op Hom geneem,
wat nou ons hart van Hom vervreem;
en al die smarte wat ons pla,
het Hy gewilliglik gedra

Ek dink aan Chris. Chris wat alleen tuis is, hy en die honde. Chris wat nog so swak is, tog so moedig. "Ons is te haastig," sê hy gisteraand. "Dis maar twee maande nà die laaste bestraling."  Ek weet. Ons moet leer om geduldiger te wees. Hy sàl weer sterker word. Ons glo dit. 

Nà kerk vat ek my kamera en ry 'n ent uit die dorp. Ry om te gaan kyk of daar mooi kosmos langs die paaie is. En om te leer van geduld. Die kosmos is min vanjaar, nêrens sien mens meer die dieppers /maroon kleure nie, net blertse wit en ligpienk. Tog bly dit mooi.... en foto's neem bly maar een van die heerlikhede waarmee ek myself daagliks bederf. 




Net God weet wat vir ons elkeen die beste is.







Ons moet daarom daarna streef om die gawe van geduld aan te leer, sodat ons binne die wil van God kan lewe. Hierdie geduld kan ons maar net van Hom af bid.















Om te wag is vir ons altyd moeilik. Tog leer ons so baie uit die natuur. 

“Staan stil en ruik die rose”, soos ’n ou Engelse spreuk sê. Maak tyd om die lewe te geniet. Ek het die kosmoskleure en die vaal grasvelde vanoggend geniet. En baie geleer. 


Friday, 1 November 2013

In die somer

Gister was 'n lekker dag. Die kanse dat vandag ook een gaan wees, is goed. Ek dink die natuur en die seisoene speel 'n yslike rol wat my gemoedstemminge betref. In die somer lééf ek! Kom kuier saam met my in die tuin.
                                                               Só het gister begin:

 
Volmaakte blomme van die kaktus net hier langs die venster. Een hele dag lank blom dit uitbundig. En almal wat dit sien, word dadelik bly. Nie net vir een dag nie, sommer vir lank.
 

Wie op aarde sal nie vir 'n paar minute gaan stil staan en net bewonder as so-iets moois voor jou oë verskyn nie? Iets anders wat my ook heeltemal bly maak, is al die verskillende vetplante in my tuin. "Dankbare plante" noem baie mense dit. Altyd gelukkig. Altyd mooi.

 
Ek ken nie al die name nie, maar geniet en waardeer elke een!
In 'n ronde bak groei hierdie kaktus met sy klein, wit dorinkies nou al vir jare.
Nouja hier is die geleerde naam! Opuntia Microdasys.
Ek dink mens kan dit in Afrikaans seker maar "Haas-oortjies" noem.


                         Dit het al gebeur dat al hierdie ronde bolletjies pienk blomme dra.
 
 
Hierdie vetplant lyk baie soos iets wat onder in die see kan lewe. Cotyledon orbiculata (varkoor /honde-oor)  Ons het dit onlangs uitgedun en ek was verstom oor die baie nuwe blare. Die tuin sorg vir homself. As mens dit mooi oppas, hoef jy nie hope geld te spandeer aan nuwe plante nie.


                            Tussen bruin en wit klippies en knus teenmekaar lê hulle dag na dag.
Tevrede en bly.
 
 
Vygies vol geel blomme, 'n lus vir die oog!

 
Intussen het dié doring ook 'n baba gekry.


              Geliefde woestynrosies. Lank terug het ek vyf of ses gehad, nou het ek baie!

 
 Die fynste blommetjies aan die punte van dun, dun  stingels.
 Hawortia (miniatuur aalwyne)  (Dankie Maree vir die inligting, ek sal dit nou onthou!)
 

                                                                 'n Hele versameling!



 
 Die miniatuur "bottle brushies" het gesukkel waar dit geplant was. Gister het ek dit oorgeplant in hierdie pot vol heerlike, ryk potgrond. Hou duimvas! Die vetplantjies wat vroeër hier gegroei het, het verhuis na kaal kolle oral in die tuin....om daar hul plekke vol te staan!

 
               'n  Massiewe monster!! Sal seker nog eendag net so hoog soos die muur groei. Intussen het ek uitgevind dat garingbome net een keer blom. Garingbome is almal vetplante, groei redelik stadig, maar word jaar ná jaar groter. In dié tyd bou dit ’n goeie voorraad energie op en wanneer dit ’n sekere grootte bereik, gebruik dit die energie om die enkele bloeiwyse te vorm en soveel moontlik saad te kan versprei. Daar is darem troos ook. Die meeste van hierdie vetplantsoorte het ’n alternatiewe vegetatiewe voortplantingstelsel waarop dit altyd kan teruggeval. Dié bystand is in die vorm van klein rosette wat aan die plant se basis vorm. Dit kan afgesny en uitgeplant word. Ek en ou Jacob het al dikwels van hierdie kleiner plantjies aan die buitekant van die erf langs die muur verplant.  Eendag ver vorentoe, sal almal so groot soos dié ene wees!

 
 Vet vingertjies groei geil... een van my vele gunstelinge!
 
 
 Ek het hierdie rotsrosies mooi styf teenmekaar ingepak, die pot se onderkant wat gebreek is, so verdoesel.
 
 
 Nog 'n gunsteling! Uitgeplant in twee goedkoop potte.
 


 Naby die waterbak waar voëls dikwels kom kuier, sal hulle heerlik kan groei en die grond bedek.


 
 

 En hier sien jy die hele prentjie!
 
Jasmyn hang oor die muur. As jy instap, ruik jy die heerlike, soet reuk.
 
 Soos stroopsoet skoolkinders langs mekaar..... geplant op 'n kaal kol.
 


 
 Ek ken dié een as 'n "Flappie"....het dit 'n ander naam?
Was verras om blomme te sien!
 


 
 My groen tuin.
 

Nog stukkies tuin, rose wat blom...


 
 Skulpe op 'n stomp, elkeen vertel 'n storie.
 



 
 'n Granaatroos. Hierdie struik groei al donkiejare lank in my tuin, ek dink my Ma het dit nog hier geplant!
 
 
 Pienk salie in 'n pot langs die huis.
 
 
 Laventel.
 



 
Die aand word pienk. 'n Sagte dag eindig so mooi soos dit begin het. En ek sê dankie dat ek kon werk en lewe en vars lug en sonskyn kon geniet!
 
The fact that I can plant a seed and it becomes a flower,
share a bit of knowledge and it becomes another’s,
smile at someone and receive a smile in return,
are to me continual spiritual exercises.
Leo Buscaglia