Showing posts with label herstelpad. Show all posts
Showing posts with label herstelpad. Show all posts

Friday, 16 October 2015

Hoe sê mens dankie

Gaan jy en Laura nie meer Aardklop toe nie?” vra sy gesels-gesels toe ek haar in die dorp raakloop. “Nee, ons was so lanklaas daar,” antwoord ek doodgewoon.

So in die terugry huis toe onthou ek die Aardklop-toe-gaan-dae. Die opgewondenheid. Die heerlike vertonings, die baie mense, die vrolike sang, die tamatiesous en kitskos by die baie stalletjies, Potch se bome, die koshuiskamer wat ons gedeel het, die plekke waar ons tee gedrink en gekuier het. Dit was wonderlik.

“Nee, ons gaan nie meer Aardklop toe nie, ek gaan Pick en Pay toe en poskantoor toe en vandag gaan ek en Chrisjan Klipeiland Slaghuis toe,” praat ek met myself in die kar. Tye verander. Dinge verander. Lewensomstandighede verander. Ook in Laura se lewe. In elkeen van ons se lewe verander dinge. Net die onthou bly.

Gistermiddag kry ek ‘n e-pos van my liewe nig van Alberton. Ek het so min familie oor. Ek koester dié wat ek nog het. Sal ek vir haar van my rubrieke stuur waar ek vertel het van Chris se stryd teen kanker. Sy vra so mooi. Sy wil dit met hul predikantsvrou deel. Ek gee nie om om te deel nie. Dis mos ‘n voorreg. En as iemand my woorde wil lees, is dit ‘n soliede stuk genade: ‘n Sagte sonstraal uit die hemel wat my dag verlig. Ek stuur vir haar ‘n paar daarvan. So in die uitsoek na dié geskrifsels, val my oog op die woorde. Woorde wat vertel van seer en swaar. Woorde wat praat oor geloof en uithou en moed en hoop. Veral hoop.

En skielik besef ek weer van vooraf: ons God van hemel en aarde het ‘n wonderwerk in my en Chris se lewe laat gebeur. Laas jaar dié tyd was die opdraendes steil en die pad klipperig en vol diep dongas. Nou loop ons al amper gelykpad. Al dra hy steeds ‘n slingerverband om sy linkerarm. Al kry hy so warm daarmee dié tyd van die jaar. Hy doen sy oefeninge. Vinger-en armstrekke, skouer-en handbewegings, oop en toe, oop en toe, swaai soos ‘n pendulum. Ontspan. Ontspan. Elke week fisio toe. Eina. Moedhou. Vasbyt. Toe hy ‘n jongman was, het hy berge uitgeklim, om rugbyvelde gehardloop, uit helikopters gespring. Nou hou hy een gesonde hand bo-oor ‘n hand met twee “dooie” vingers, twee treë vorentoe en strek. Twee treë agtertoe. Ontspan. My liefste Chrisjan.

Nooit gee hy moed op nie. Nooit hoor ek hom kla nie. Dikwels lag ons saam oor simpel goed. Gereeld verlustig ons ons in die eenvoudige en mooi om ons: die eerste rose nà die winter, ‘n perfekte pienk kaktusblom, die honde se eiesoortige maniere, die duiwe se aanhoudende sang in die boomtoppe.

Dwarsdeur agtien chemosessies, dertig bestralings, nog tien voorkomende breinbestralings, ‘n operasie om sy slukderm te rek, ‘n skouer en elmboog-operasie om vasgeklemde senuwees los te maak. Dwarsdeur alles klou ons vas aan twee lewensbelangrike dinge: geloof en hoop. Ons bid. Ons glo. Ons wéét ons is nooit alleen nie. God dra ons. Dag nà dag nà dag. Hy abba ons, Hy troos ons, Hy help ons. Hy het ons lief. Ons kry dit reg. Een dag op ‘n slag.

Ons gaan nie meer Aardklop toe nie. Ons gaan ook nie Bosveld of Timbaktoe of Kaap toe nie.  Nie op die oomblik nie. Maar vandag gaan ons slaghuis toe en ons gaan maalvleis en skaaptjoppies en wors en wat nog koop en ons gaan huistoe kom met groot dankbaarheid in ons harte, want Chris kry weer makliker gesluk, sy kuif lê weer mooi, sy glimlag maak my hart so bly. Die herstelpad is ‘n lang pad. ‘n Saamlooppad. Hoe sê mens dankie? Ek weet nie.  Ons sê dit net. “Dankie Here!”


Saturday, 6 June 2015

'n Voorreg

Ons was onlangs by Dikhololo vir vyf heerlike dae lank. Ja, dit klink doodgewoon. So baie mense gaan so dikwels Dikhololo toe of Sabie toe of Dullstroom toe of dalk selfs Weskus toe. Vir ons was dit baie spesiaal en 'n baie groot voorreg, want ons harte was vol blydskap. 

Ek het dit reggekry om al die pad soontoe en terug te bestuur. Ons het die heerlikste brood op Brits gekoop. Die reuk daarvan was die hele kar vol. Die elf kilometer grondpad net voor mens Dikhololo se hek binnery, was 'n belewenis. 

Die dae was vol vrede en vreugdes. Rustig. Tevrede. Dankbaar. 

Met groot waardering en bewondering het ons die heerlike klimaat en talle diere en voëls, klippe en bome, gras en bosse geniet en beleef. Dit was weer lekker om te lewe! Chris is op sy herstelpad nà tien maande van worstel en sukkel. Hy het selfs op Dikhololo se grondpaaie weer kar bestuur. Hy het klein entjies gaan stap. Hy kon eet. Van braaivleis en swaar kosse het ons liefs maar weggebly. versigtig eet was beter. Klein treëtjies en baie geduld bly maar nog die wagwoord. Ons weet. 

'n Kameeldoringboom se delikate takke en die lieflike bosse in die agtergrond. 

 'n Rooibekneushoringvoël sit vir 'n paar sekondes stil.

Gebande muishond in die oggendson.

 Rooibokke kom drink water by een van die damme.

 'n Natalse fisant, so mooi! 

'n  Mikstertbyvanger bo in die boom. 

 'n Dassie kyk vir my. Daar is so baie dassies op Dikhololo, pa's, ma's en kleingoed. Interessant was dit om te luister na hul luidrugtige roep oral tussen die klipkoppies. 

 'n Vroulike dassievoël wip-wip naby ons hut. Dis 'n kleinerige voëltjie met die mooiste kleure.

Bontkiewiete is volop by die waterplasse. Hul Engelse naam "Blacksmith Plover" is baie beskywend en sê dat hul roep soos dié van 'n hamer op 'n aambeeld klink. 

 Die natuur bly wonderlik! Hier suip 'n jong zebra aan sy ma. 

'n Pylvlekkatlagter kom kuier. Daar is nie ‘n manier dat jy nié sal weet wanneer ‘n swerm pylvlekkatlagters op pad is nie. Dit is van die Babelse verwarring van hulle gebabbel waar die voëls hulle Engelse naam ‘babbler’ kry. 

Friday, 3 April 2015

Langs die pad




Dis Goeie Vrydag. In die kerk ontroer die woorde van Skrifberyming 7 my:


Hy het die lyde op Hom geneem,
wat nou ons hart van Hom vervreem;
en al die smarte wat ons pla,
het Hy gewilliglik gedra

Ek dink aan Chris. Chris wat alleen tuis is, hy en die honde. Chris wat nog so swak is, tog so moedig. "Ons is te haastig," sê hy gisteraand. "Dis maar twee maande nà die laaste bestraling."  Ek weet. Ons moet leer om geduldiger te wees. Hy sàl weer sterker word. Ons glo dit. 

Nà kerk vat ek my kamera en ry 'n ent uit die dorp. Ry om te gaan kyk of daar mooi kosmos langs die paaie is. En om te leer van geduld. Die kosmos is min vanjaar, nêrens sien mens meer die dieppers /maroon kleure nie, net blertse wit en ligpienk. Tog bly dit mooi.... en foto's neem bly maar een van die heerlikhede waarmee ek myself daagliks bederf. 




Net God weet wat vir ons elkeen die beste is.







Ons moet daarom daarna streef om die gawe van geduld aan te leer, sodat ons binne die wil van God kan lewe. Hierdie geduld kan ons maar net van Hom af bid.















Om te wag is vir ons altyd moeilik. Tog leer ons so baie uit die natuur. 

“Staan stil en ruik die rose”, soos ’n ou Engelse spreuk sê. Maak tyd om die lewe te geniet. Ek het die kosmoskleure en die vaal grasvelde vanoggend geniet. En baie geleer. 


Saturday, 13 December 2014

‘n Nuwe hoofstuk

Dis Saterdag hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos ‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir elkeen wat hier lees  ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©

Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©

Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes  aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©

Toe hierdie dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.