Showing posts with label longkanker. Show all posts
Showing posts with label longkanker. Show all posts

Sunday 13 September 2015

Die mooiste Sondag


Ek wou dit gister al maak. Het klaar al die bestanddele gaan koop, maar toe ek tuiskom, onthou ek dat ek die spek vergeet het. Ag! 

Hy sê toe, getrou aan sy sorgsaamheid en omgee, hy wil (en moet) dorp toe gaan. Elke keer as hy dit sê, is ek bly. Nie dat dit so opwindend is om dorp toe te gaan nie, enige-iemand kan dorp toe gaan, soveel maal as wat hy wil. 
In sy geval is dit 'n egter 'n hengse prestasie. Hy bestuur self. Hy ry alleen. Hy lê nie meer hulpeloos en afhanklik op sy rug op ons bed nie. Hy word sterker by die dag. Prys die Here van hemel en aarde! Sing 'n jubellied! 

Nietemin, ek maak toe dié mondwater en super-maklike gereg wat ek op Maree se blog raakgelees het, nà kerk. Hy sit onder die groenerwordende perskeboom en geniet die somerson op sy hande en arms, op sy gesig wat al meer en meer na Chris begin lyk. Nà 'n jaar en 'n maand lyk hy weer soos hy. Hoe wonderlik. 
Geelwortels, seldery, uie, stukkies spek...... hmmmmmm! 

              Maalvleis bygevoeg, 'n glas rooiwyn....
 Grand finale! 

"It's you, it's you, it's you!"
 En ons luister musiek, Joe Dolan, Bob Seger.... 

"Some day lady, you'll accompany me..." 


 En ons kuier. Net ons twee en die voëls en die honde. 


DANKBAARHEID  is een klein woordjie met so baie betekenis. Veral nou, veral vandag. Die mooiste Sondag. 

Lewensvreugde

Pluk ‘n handvol drome
 met sterre in jou oë
 wys dat jy ook omgee
 en aan liefde glo

hoor hoe sing die geelvink
 die tiptol en t’rantaal
 dis agter uit die berge
 waar hul die fluit loop haal

pak jou sorge in ‘n streepsak
 lag en wees weer bly
 sukkels lê mos agter
 vandag is jy tog vry

blink jou oë van blywees
 of buig jou skouers krom
 dink nie eers nog eenmaal
 gee alle eer aan Hom

lewe is mos lekker
 kom leef nou saam met my
 bars ons uit ons nate
 juigend-jubelbly


Elizabeth Kendall ©

Saturday 1 August 2015

'n Jaar van genade

'n Hele jaar is verby. Driehonderd-vyf-en-sestig en 'n kwart dag. 'n Jaar sedert ons die skrik-nuus gekry het: Chris het longkanker. In ons kleingeloof het ons krag gekry. Elke dag. Elke uur. Elke minuut. Die Here het ons vasgehou, ons gelei, ons gedra. Dwarsdeur elke drif en diepte, elke slaggat en sloot. Hy het Sy liefde en sorg oor ons uitgegiet en ons versterk.
En hier is ons nou met harte wat oorloop van dankbaarheid. Laasweek het Chrisjan sy eerste ordentlike haarsny gehad. Toe die Pakistani die knipper bokant en agter sy ore instoot, val daar hope hare op die vloer. Niks snaaks nie, maar vir ons 'n wonderwerk. Verby is die kaalkopdae. My man het weer hare! Hare wat blink in die son, hare wat gekam kan word. Skuinspaadjie, soos hy wil.

O ja, hy is nog swakkerig. En o ja, ek is nog steeds die vetter ene van ons twee. Ek moes mos eet om sterk te bly. Al was daar dae wat ek nie honger was nie. Hy kon nie, nie altyd nie. Daar was dae wat hy niks kon inkry nie. Maar nou kan hy. Hy eet die gesonde groentesop, die saggekookte hoendervleis, die broodjie-met-gouda op, hy eet alles wat ek vir hom aandra. Wonderlik is dit as hy sê:"Dit was heerlik!" En die kos bly binne. 'n Voordeel het uit al die nadele tevoorskyn gekom: ek het weer leer (lekker) kosmaak. Regtig.

Daar was weke in wit hospitaalbeddens, drips en kateters en swart susters, dokters wat verduidelik en mense wat bemoedig, dertig en nog baie meer dae van heen-en-weer ry Pretoria toe en terug. Nou is dit alles verby. Juig aarde juig!

Soggens as die winterson dooierus op die plaveisel langs ons huis vat, stap Chris buite rond, hy gaan saam Pick & Pay toe, hy koop self ons vleis by Kwaliteit Slaghuis, hy trek sy eie geld by die kitsbank al gaan dit sukkel-sukkel. Sy hande is nog dood, sy hak pyn, soms skiet einapyne deur sy bene. "Dit moet nog van die chemogif wees!" Ek smeer room aan en vryf sy dun bene. En ons bid sommer so heeldag tussendeur. Geduldig wees is 'n goeie ding.

Buite ons slaapkamervenster hang 'n voerplankie vir die voëls. Elke dag kom kleur janfrederik ons dag in. Die ou groot kransduiwe laat die plankie kantel, dan val die meelwurms op die grond, waar jantjie dit oppik. Goudgeel vinke en bontrugwewers, vaalgrys muisvoëls, 'n bottergatjie, klein glasogies en mooi bloedrooi houtkappers is almal deel van ons geveerde vriende. As Chris daar in die lekker warm bed lê, het hy 'n skouspel om na te kyk. Gratis en goed.  'n Presentjie reguit uit die hemel.

Môre verjaar my liefman. Die kinders kom kuier. 'n Naweek vol blydskap en dankbaarheid. 'n Lewe om te vier! Dankie Here. Dankie, dankie.


Saturday 11 April 2015

Dis goeie nuus


Hy was maar gespanne. Ek ook. Al het ons gebid, al het ons geglo. Was dit Izak de Villiers wat eens op 'n tyd gepraat het van "'n twyfelaar wat glo..." Is ons nie maar almal twyfelaars nie? Die oggend van 10 April het uiteindelik aangebreek. Die dag waarop ons sou hoor of Chris nog skoon is nà sy behandeling vir longkanker. 
Dit is nou twee en 'n halwe maand nà die laaste voorkomende breinbestraling. My man bly nog maer. Maar moedig. En vol humor. Ten spyte van. Hy dra sy nuwe kruisbande en swart pet. Sy vel en hande is skoon en mooi vandat hy nie meer rook nie. Sy oë helder. Al verdwyn hy nog in sy denimbroek, al bly die slukkery pynlik, al voel sy hande nog dood. "Nogtans sal ek jubel", het Habakuk eeue terug gesê. Nogtans. 
Toe ons gister by die Onkologie afdeling afklim, ('n dierbare vriendin het ons vervoer) voel hy opeens duiselig, sy bene knak sommer onder hom. Ek, wat die vorige dag 'n katarak ekstraksie en intra-okulêre lens inplanting* gehad het, voel ook nog nie juis pure perd nie. "Staan net stil," sê ek vir hom. Ons hang aan mekaar. Gelukkig val alles gou weer in plek en kan ons die afspraak gaan nakom. 
Toe ons later die dokter sien, brand ek van nuuskierigheid. Die bruin koevert lê voor ons op die tafel. Chris vra eers ewe ordentlik uit oor die jong dokter se fietstoer. Die oomblik toe hulle asemskep, vra ek: "Wat is die uitslag?" "Goeie nuus!" sê die dokter met 'n glimlag. "Alles lyk mooi, skoon, geen snaaksighede nie." 
Dankbaar is 'n klein woordjie. Ons kyk vir mekaar. Soos kinders wat 'n lankverwagte present gekry het. Genade, onbeskryflik groot. 
Die volgende skandering is eers in Augustus. Chris sal weer sterk en gesond word. Ons glo dit. Prys die Here ! 

*slim (en mooi) woorde wat ek op die pamfletjie gelees het. 
Foto van glasogies is in ons tuin geneem 'n dag of twee voor die goeie nuus. Dit was seker 'n soort blye boodskap!